No Image Caption

20 jaar gelede

MAANDAG 20 JUNIE 2005

– Op die vooraand van Air Namibia se nooiensvlug na Londen het die Nasionale Vergadering (NV) gehoor dat dié uitbreiding aan die nasionale lugredery se oorsese roeteplan tot ’n finansiële verlies van sowat N$100 miljoen per jaar kan lei.



DINSDAG 21 JUNIE 2005

– Die verbod op die toekenning van regstellende aksie-lenings is gelig, maar buitensporige plaaspryse wat nie in lyn is met die produksievermoë daarvan nie, is vir goed verby.

– Tot 80 persent van alle klein- en mediumgrootte ondernemings in Namibië beland volgens ’n voorlopige opname op die rotse sonder dat hulle ’n volhoubare bydrae tot ontwikkeling, werkskepping en armoedeverligting kan maak.

– Slegte leesstof is ’n dikke verslag oor toestande in tien oorde van Namibia Wildlife Resorts wat vandeesweek voor die Namibiese Toerismeraad (NTB) gaan dien.



WOENSDAG 22 JUNIE 2005

– Ontoereikende fondse en gekwalifiseerde personeel vir justisiefunksies is die tweede golf om die fondament van regspleging in Namibië in minder as ’n week te skud.

– Totale chaos het gister oor die status van Where Others Wavered, die veelbesproke N$65 miljoen biografiese rolprent oor oudpresident Sam Nujoma, geheers.

– Die bestuurstoel van die Namibiese Padowerheid is na ’n halfjaar weer gevul met mnr. Erastus Ikela wat die week as nuwe hoof uitvoerende beampte van die staatsmaatskappy aangestel is.



DONDERDAG 23 JUNIE 2005

– Die besture van die Padongelukfonds (MVAF) en die Regsgenootskap van Namibië (LSN) het Dinsdag op die hoogste vlak samesprekings gevoer oor die beweerde onetiese optrede van sekere regspraktisyns wat eise namens die slagoffers van motorongelukke en hul naasbestaandes hanteer.

– Die vergoeding en statuur van die direkteur en sy adjunk van die Teenkorrupsiekommissie sal op dieselfde vlak wees as dié van regslui in die hoogste howe van die land.

– Die verdere ontwikkeling van Walvisbaai en Lüderitz as hawens van voorkeur in Suider-Afrika en beter dienslewering is uitdagings wat vir die nuwe direksie van Namport wag.



VRYDAG 24 JUNIE 2005

– Die Windhoek Buitekluboord het vandeesweek onverwags in vet letters op die lys van staatsprojekte verskyn wat weens geldelike verliese dringende aandag nodig het.

– Die Ministerie van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling gaan binnekort streng maatreëls instel om korrupsie by streek- en plaaslike regerings hok te slaan.

Kommentaar

Republikein 2025-08-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer