No Image Caption

20 jaar gelede

Mandy Rittmann
MAANDAG 9 MEI 2005

– Arbeids- en gemeenskapsonrus in die Erongostreek is besig om op te laai ondanks ’n oproep op Werkersdag deur die President, mnr. Hifikepunye Pohamba, dat stabiliteit in die arbeidsmark ’n vereiste vir ’n voorspoedige Namibië is.

– Onmin broei opnuut op die stel van die biografiese prent oor oudpresident Sam Nujoma nadat die bestuur, ondanks beloftes dat die geldkrane voluit oopgedraai is om die verfilmingsfase van dié N$50 miljoen-projek te voltooi, nog nie sedert die aanvang van skietwerk twee weke gelede enige lone betaal het nie.

– Onweerswolke hang reeds die afgelope week oor Lüderitz nadat sowat 1 500 werkers van die NovaNam-vismaatskappy reeds op 30 April met ’n staking begin het.



DINSDAG 10 MEI 2005

– ’n Verwaande inbreker, wat laat Sondagaand by ’n bekende drankwinkel in Windhoek ingebreek en ’n kluis gesteel het, se doen en late is op video verewig.

– Namibië se hoofbegroting word Donderdag in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê.

– Die nuwe Staatshuis en die grond waarop dit gebou word, moet voetstoots teen markwaarde verkoop word sodat Namibiërs se sosioëkonomiese penarie nie vererger nie, sê die Namibiese Vereniging vir Menseregte (NSHR).



WOENSDAG 11 MEI 2005

– Moenie kitsoplossings en monetêre wonderwerke in môre se begroting verwag nie.

– Die plaaslike diamantbedryf gons ná een van die wêreld se mees gesaghebbende diamanthandelaars, mnr. Maurice Tempelsman, en sy regterhand gister geslotedeur-samesprekings met Pres. Hifikepunye Pohamba gevoer het.

– Die kredietbeheer, skuldinvorderingsbeleid en prosedure van die munisipaliteit van Windhoek wat op ’n onlangse vergadering goedgekeur is, sal voortaan streng nagevolg word.



DONDERDAG 12 MEI 2005

– Met ’n handjievol fiskale truuks tot haar beskikking om die land se boeke te laat klop, staan die Minister van Finansies, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, vandag voor ’n groot versoeking om belasting te verhoog.

– Vier rowers met ’n vuurwapen het ’n verkeerde perd opgesaal toe hulle ta’ Maxie Kesslau (70) van Hentiesbaai aangevat het.

– ’n Foto van ’n meisie in haar tienerjare wat tussen ’n hoop gesteelde goedere in ’n droë rivierloop in Olympia ontdek is, kan help om die regmatige eienaar daarvan te identifiseer.



VRYDAG 13 MEI 2005

– ’n Totale begroting van N$12,8 miljard vir die 2005-’06-boekjaar is gister in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê met die goeie nuus dat daar geen styging in persoonlike inkomstebelasting is nie.

– Hoewel die spanning tussen Legal Shield Namibia en Namfisa gisteroggend in die Hoërhof kwaai opgelaai en dit in ’n stadium gelyk het of dié uitgerekte hofsage – wat eersgenoemde reeds nagenoeg N$2,5 miljoen kos – gaan skipbreuk ly, is die partye uiteindelik vreedsaam uiteen.

Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer