No Image Caption

20 jaar gelede

Mandy Rittmann
Maandag 18 November 2002

- Mnr. Dirk Mudge het die Eerste Minister, mnr. Theo-Ben Gurirab, die versekering gegee dat die boeregemeenskap nié verdeeld is oor die kwessie van grondhervorming nie.

- Kommersiële boere het tot 5 Desember tyd om inligting oor hulle boerderybedrywighede aan die Ministerie van Grondsake, Hervestiging en Rehabilitasie bekend te maak in wat as ’n laaste inset beskou moet word voor grondbelasting vroeg aanstaande jaar ingestel sal word.

- Effektiewe, pragmatiese stappe teen onwettige handel in onverwerkte diamante sal van 1 Januarie aanstaande jaar met die instelling van die Kimberley Sertifiseringsproses vir Namibië ’n werklikheid word.

Dinsdag 19 November 2002

- Die eerste opslagkoeël in die grondhervorming- en hervestigingsproses het die Regering gister getref.

- Die Regering het gister openlik verklaar dat sy lang messe geslyp word vir maatskappye wat werkersregte verontagsaam.

- Die jaarlikse N$50 000 bydrae van die Ministerie van Basiese Onderwys, Sport en Kultuur aan skole hou nie tred met die realiteit van stygende kostes nie.

Woensdag 20 November 2002

- ’n Storm broei oor die toekenning van hervestigingsplase aan senior staatsamptenare en hoë politieke ampsdraers nadat dit aan die lig gekom het dat die Permanente Sekretaris van Hoër Onderwys, mnr. Vitalis Ankama, een van die begunstigdes van dié skema is.

- Namibië moet nie die momentum verloor wat by die Wêreldspitsberaad oor Volhoubare Ontwikkeling (WSSD) behaal is nie, maar duidelike doelwitte en evalueringsaanwysers ontwikkel wat die land vorentoe sal dra.

Donderdag 21 November 2002

- Namibië se pelserbron het merkwaardig herstel. Sedert Maart vanjaar het die beraamde bron van die vissies waarop die fondamente van Walvisbaai gebou is en ’n anker in die ekonomie van Namibië geword het, byna honderdvoudig vermeerder.

- Staak die deurmekaarspul in arbeidsverhoudinge in die visbedryf! Dit grens selfs aan die komiese.

Vrydag 22 November 2002

- Sy twee groot voorliefdes in die lewe is kos en geld. Soveel só dat hy bereid is om keer op keer terug te gaan na die CNA-hooftak in Windhoek om kookboeke te steel en dit aan personeel van veral TransNamib en Air Namibia te verkoop.

- Yswater is weer eens gestort op die hoë verwagtinge oor salarisverhogings vir die nagenoeg 20 000 onderwysers in Namibië.

- Die besluit van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies, CITES, wat die verbod op Namibië om handel te dryf met wettige ivoor gelig het, het vuur getrek van ’n plaaslike bewaringsgroep.

Kommentaar

Republikein 2022-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer