20 jaar gelede
MAANDAG 30 OKTOBER 2006
– Die posisies van twee amptenare van die Hardap-streekraad sal vandeesweek ernstige aandag moet kry ná die kwessie Vrydag op Mariental deur die Staatsdienskommissie aangespreek is.
– Direkte tronkstraf is Vrydag as ’n opsie oorweeg toe landdros Sarel Jacobs die sekretaris-generaal van die Namibiese Olimpiese Komitee op ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer gevonnis het.
DINSDAG 31 OKTOBER 2006
– Die seisoenale inkomste van tot 5 000 inwoners van Lüderitz is in gedrang met die letterlike toepassing van seevaartwette wat die grootste deel van die kreefvloot vanjaar tot die hawe gaan beperk.
– Geskiedenis is op die jagvelde van Namibie gemaak toe ’n trofeejagter van Amerika, Steve Kobring, ’n robbul van 282 kg met ’n pyl en boog geskiet het.
– Openbare druk laai op teen die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) om op te tree teen sy sekretaris-generaal, mnr. Eliphas “Oupapa” Shipanga, wat dae gelede skuldig bevind is op klagte van ernstige aanranding op sy vrou.
WOENSDAG 1 NOVEMBER 2006
– Die weermag sal onder bevel van lt.genl. Martin Shalli, saam met die staatshoof, mnr. Hifikepuynye Pohamba, die stryd teen ongeregtigheid, onregverdigheid en korrupte praktyke in nasionale belang aansê.
– Kinders van die Primêre Skool Witkop se koshuis het Maandag in die middernagtelike ure vir hul lewens gevlug terwyl die koshuisvader ’n seun wat in ’n kamer vasgekeer was, uit die vlammehel moes red.
– Meer as driehonderd werkers van Rosh Pinah Zinc Corporation gaan vandag die vierde dag van werkstakings binne ná nog ’n mislukte vergadering gister tussen die vakbond en die bestuur van die sinkmyn.
DONDERDAG 2 NOVEMBER 2006
– Die sekretaris-generaal van die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) het gister uit sy pos bedank ná hy vir ’n geweldsmisdaad veroordeel en gevonnis is.
– Die amp van Eerste Minister word ingesleep in ’n insamelingsveldtog wat nou vir nuwe kantore in die Khomasstreek vir Swapo as regerende party gevoer word.
– Oudpresident P.W. Botha van Suid-Afrika is Dinsdagaand op die ouderdom van 90 jaar by sy huis op George dood.
VRYDAG 3 NOVEMBER 2006
– Die klaarblyklike verontagsaming van ’n rooi verkeerslig het gister tot ’n botsing met drie ander voertuie gelei.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie