20 jaar gelede
MAANDAG 9 OKTOBER 2006
– Die vernietiging van veldbrande teenoor die belofte van reën het van voor die naweek af die boeregemeenskap in alle windrigtings aan die bid en hoop gehad.
– Buiten vir sy eis van N$5 miljoen teen The Namibian vir vermeende lasterlike uitings in meer as ’n jaar gelede se beriggewing oor die Avid-beleggingskandaal, het die stigtersvader van die nasie die skrywer van die beëdigde verklaring waarop hierdie rapportering gebaseer was, mnr. Avril Green, vir ’n bykomende N$3 miljoen gedagvaar.
DINSDAG 10 OKTOBER 2006
– Minstens 40 000 hektaar weiding het die naweek in die suide van Namibië in die slag gebly nadat weerlig twee veldbrande veroorsaak het.
– Tien dae in die nuwe reënseisoen van die jaar en boere sit reeds met breë glimlagte op hulle gesigte, want tot 90 mm is die afgelope naweek net suidoos van die Waterberg gemeet.
– Drie maande nadat die rommelkrisis by die Katutura-hospitaal tydens ’n noodvergadering aangespreek is, hoop vullis by dié hospitaal weer op.
WOENSDAG 11 OKTOBER 2006
– Petrol en diesel in Namibië is volgende week onderskeidelik sowat 26 en 33 sent per liter goedkoper.
– Die fabrieksvloer by Ramatex se tekstielaanleg in Windhoek was gisternamiddag in rep en roer ná die bestuur kennis van ’n voorgenome uitsluitaksie gegee het.
– Die vrye beweging van mense en goedere tussen Namibië en sy noordelike buurland, Angola, sal met die afskaffing van reisbeperkings voortaan heelwat makliker kan plaasvind.
DONDERDAG 12 OKTOBER 2006
– Min sou mnr. Jassie Brand (37) van Outjo twee weke gelede toe hy die aand ná ’n vuurslanery op sy plaas Aimeb-Oos aankom, kon dink dat die ongeluk hom weer sou ry – die keer in die vorm van ’n weerligstraal.
– Die soet van goedkoper brandstof sal vandag versuur word deur die Bank of Namibia (BoN) se verwagte rentekoersverhoging.
– Opuwo het die afgelope naweek nie die meeste reën ontvang nie, maar het die swaarste gebukkend gegaan onder die aanslae van donderweer.
VRYDAG 12 OKTOBER 2006
– Syfers wys dat skaapprodusente sedert die inwerkingtreding van die omstrede kleinveebemarkingskema twee jaar gelede reeds sowat N$34 miljoen aan inkomste verloor het.
– Vrydag die 13de voorspel niks goed vir Namibiërs nie: hul bestedingskrag word verder verweer met nog ’n verhoging van ’n halfpersent in rentekoerse wat vandag van krag word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie