20 jaar gelede
MAANDAG 18 SEPTEMBER 2006
– Die jong man wat aan die moord op sy swanger meisie skuldig bevind is, is in ’n volgepakte Hoërhof 18 jaar effektiewe tronkstraf opgelê.
– Die skandaal rondom die mislukte !Uri !Khubis-vleisverwerkingsaanleg op Witvlei is besig om te verdiep namate hoëvlak-ondersoeke die geheime van die swart bemagtigingsoefeninge tot op die been oopvlek.
– Polisie het die senior amptenaar wat van betrokkenheid by ’n reuse-bedrogskema met vals dobbellisensies verdink word, gisteroggend vroeg op die lughawe in boeie geslaan.
DINSDAG 19 SEPTEMBER 2006
– ’n Span dokters in die Noorde sal nog vandeesweek besluit of die Siamese tweelingmeisietjies wat ’n week gelede op Oshakati gebore is, van mekaar geskei gaan word of nie.
– Die aaklige verrassing wat die beskuldigdes in die hoofbeen van die Caprivi-hoogverraadverhoor glo onlangs op die lyf geloop het, is ’n saak met ’n veel ernstiger geurtjie as gedurige klagtes dat Namibië sy gevangenes ’n hongerdieet voer.
– Die Adjunkdirekteur van wildlewebestuur in die Ministerie van die Omgewing en Toerisme en ’n bekende in mediakringe, mnr. Sacky Namugongo, het gister vlugtig in die landdroshof in Windhoek verskyn op klagte van korrupsie, bedrog en die vervalsing van uitgifte.
WOENSDAG 20 SEPTEMBER 2006
– ’n Sebraslang het hom eergister by Erindi Safari Lodge naby Omaruru op ’n bakkie se petroltenk tuisgemaak en ’n saamrygeleentheid gekry Windhoek toe.
– ’n Voortvlugtende moordenaar wat tot gister een van die mees gesoekte misdadigers in Namibië was, het homself Maandagaand in ’n buitetoilet in die Ombili-woonbuurt deur die kop geskiet minute voor die polisie op hom toegesak het.
– Streng dissipline is die wagwoord vir die NDF-bataljon wat binnekort na Liberië vertrek, het die tweede-in-bevel van die Namibiese weermag, brigadier Thomas Hamunyela, gesê.
DONDERDAG 21 SEPTEMBER 2006
– ’n Vraagteken hang steeds oor die oorsprong van ’n dokument wat na bewering in die Angolese parlement gedien het waarin militêre steun deur Angola aan Namibië beloof word in die lig van “toestande van latente konflik, wat die moontlikheid het om te ontplof indien dit nie versigtig hanteer word nie”.
– Die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) het hulle gister tot die Prokureur-Generaal, me. Pendukeni Iivula-Ithana, gewend vir regsadvies terwyl dit wil voorkom of die beheerraad en die munisipaliteit van Windhoek hul verskille in die hof sal moet uitveg.
VRYDAG 22 SEPTEMBER 2006
– Die eerste beskuldigde in die moordsaak van me. Alexandra Mooren, wat twee jaar gelede op Swakopmund se strand doodgeskiet is, het gister in die Hoërhof in Windhoek erken dat hy haar vermoor het.
– Die Siamese tweeling van Iiwiyongo in die Noorde se kans op oorlewing word nie net deur hul gedeelte hart gekortwiek nie – hulle ly boonop aan die sogenaamde blou baba-sindroom.
– Namibiërs kry vandag die geleentheid om deel te wees van die laaste sonsverduistering vir die jaar, wanneer sowat 46% van die son oor Windhoek deur die maan verberg gaan word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie