20 jaar gelede
MAANDAG 21 AUGUSTUS 2006
– Die voormalige lede van die People’s Liberation Army of Namibia (Plan) gaan op 2 September na Staatshuis opruk waar hulle stelling gaan inneem tot tyd en wyl die Regering ’n bevredigende antwoord op hul eise van sowat N$6 miljard gee.
– “Beledigings wat na die persoon van kameraad Sam Nujoma, president van Swapo en vader van die Namibiese volk, geslinger word kan nie geduld word nie.”
– Die verterende veldbrande in die noordweste van die land het sy tol geëis met twee persone wat gesterf het en nóg vier wat vir ernstige brandwonde in Windhoek behandel word.
DINSDAG 22 AUGUSTUS 2006
– Van die grootste name in die plaaslike regsprofessie het gister die kulturele grense oorgesteek om die eerste diverse regsfirma op die been te bring.
– ’n Reuse-elektrisiteitsplan vir Wes- en Suidelike Afrika van bykans N$50 miljard, die Westelike Kragkorridor, is in Windhoek aangekondig.
– Die plaas Graslaagte naby Otjiwarongo was gistermiddag in ligte laaie.
WOENSDAG 23 AUGUSTUS 2006
– Die ratte vir die laaste ronde van die nasionale polio-inentingsveldtog is geolie terwyl minstens die helfte van alle kinders jonger as vyf volgens verwagting gister hul inspuitings ontvang het.
– Die nasionale elektrisiteitsvoorsiener, NamPower, beplan om ’n derde kragsentrale op Walvisbaai te bou wat aansienlik groter gaan wees as die Van Eck-kragstasie in Windhoek.
– Teen 2015 behoort Namibië jaarliks die toerismebestemming van minstens 1 miljoen buitelanders te wees.
DONDERDAG 24 AUGUSTUS 2006
– Kattekwaad is as die rede voorgehou waarom verskeie Windhoekers nou hul besoeke aan die poskantoor sal moet herhaal toe twee tienerseuns op fietse en gewapen met vuurhoutjies, Maandagoggend vroeg die rooi posbus by die Klein Windhoek-poskantoor in Joseph Woodstraat aan die brand gesteek het.
– Die derde slagoffer van die brand verlede week op die plaas Klein-Okawayo, Josef Gawiseb, se toestand is bevredigend en dit gaan elke dag beter.
– Ondersoeke na beweerde onreëlmatighede en selfs bedrog en korrupsie by die staatdiens se pensioenfonds, die GIPF, kring steeds wyer uit.
VRYDAG 25 AUGUSTUS 2006
– Die pad vurk dié naweek in die Noorde tussen Okatana by Oshakati en Katima Mulilo waar Swapo sy helde uit die vryheidstryd gaan vereer.
– ’n Skerpskutter sonder genade by name Kaos het gister uit Amerika op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako by Windhoek aangekom.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie