20 jaar gelede
MAANDAG 26 JUNIE 2006
– Die legende wat vir jare agter die stuur van sy viertrekvoertuie diep-diep spore in Namibië se mees onherbergsame toerismegebiede uitgetrap het, is wreed in die Kalahari vermoor.
– Die 39-jarige mnr. Jack Olivier van Aranos, wat sedert 8 Mei in ’n intensiewesorgeenheid in Windhoek teen polio geveg het, het die stryd gewonne gegee.
– Die sjebeenbetogers wat Donderdag so lustig voor die parlementsgeboue gebraai het, moes volgens oudpresident Sam Nujoma al agter tralies gewees het.
DINSDAG 27 JUNIE 2006
– Ernstige aantygings oor beweerde uitlatings van die Minister van Justisie en die Prokureur-generaal, me. Pendukeni Iivula-Ithana, en die voormalige staatshoof, mnr. Sam Nujoma, is deur die Nasionale Vereniging vir Menseregte (NVM) gemaak.
– Ondanks die geslaagde eerste been van die massaveldtog verlede week toe 90% van die bevolking teen polio ingeënt is, styg die aantal gevalle steeds skerp.
– Die twee verdagtes wat Saterdag aangekeer is vir die wrede moord op die bekende toerisme- en 4x4-baanbreker, mnr. Jan Joubert, het skuld aan die polisie beken.
WOENSDAG 28 JUNIE 2006
– In die grootste en mees suksesvolle nasionale gesondheidsveldtog ooit, is sowat 2,2 miljoen mense verlede week binne 72 uur deur nagenoeg 7 000 gesondheidswerkers en vrywilligers teen polio geënt.
– Twee jong veewagters het die bekende toerismeghoeroe, oorlede mnr. Jan Joubert, volgens die jongste inligting oor die skokmoord in die Kalahari, met ’n swaarkaliber jaggeweer afgemaai.
DONDERDAG 29 JUNIE 2006
– ’n Spook van onteiening dwaal deur Karibib se vuil strate waar inwoneronrus reeds tot ’n noodvergadering tussen die stadsraad en sakelui gelei het.
– ’n Ernstige waarskuwing oor die gevare vir Namibië indien die land se mense hul stamverbondenheid voor nasieskap stel, is gister in die Nasionale Vergadering deur Namibië se eerste Premier, mnr. Hage Geingob gerig.
– Die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) het gister vir ’n tweede keer toegeslaan en nog ’n amptenaar het in die hof verskyn.
VRYDAG 30 JUNIE 2006
– ’n Hewige hofstryd word verwag nadat die Namibiese Tenderraad gister die spysenieringskontrak van Global Food Services opgeskort en die maatskappy op ’n swartlys geplaas het.
– Die rede waarom die aantal mense met akute slap verlamming steeds meer word al is 2,2 miljoen mense verlede week teen polio ingeënt, het te doen met die feit dat dit ’n tyd neem voor die menslike liggaam immuniteit teen die siekte opbou.
– Die multimiljoen-tekstielaanleg, Ramatex, het van sy plan afgesien om sy deure in Namibië te sluit en het gister met die vakbonde oor ’n regruk-aksie begin onderhandel om die maatskappy se winsgewendheid te verbeter.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie