20 jaar gelede
20 jaar gelede

20 jaar gelede

-

MAANDAG 12 JUNIE 2006

– Die vyfmiljoen dosisse polioslukstof wat die Regering en hulporganisasie gaan gebruik om van 21 Junie alle Namibiërs mee te immuniseer, word reeds môre in die land verwag.          

– ’n Man het die naweek in die polisieselle op Walvisbaai deurgebring nadat hy laat Saterdagaand gedreig het om die hoofkantoorgebou van Telecom in die Erongostreek met ’n bom in die lug op te blaas.


DINSDAG 13 JUNIE 2006

– Die polio-uitbraak het nou sodanig uitgekring dat daar die naweek ook gevalle in die verre Noorde en Suide aangemeld is.               

– Die Mediese Vereniging van Namibië (Man) het tydens ’n besoek aan Pres. Hifikepunye Pohamba by Staatshuis aangebied om private dokters se dienste aan staatshospitale uit te brei sodat toestande daar kan verbeter en die behoefte aan buitelandse dokters verlig word.     

– Die jaarlikse sporttoer per trein deur een van Windhoek se spogskole, Windhoek Hoërskool (WHS) na Walvisbaai, is in skande gedompel toe skoliere mekaar aan boord besteel en die skoolhoof in die proses van “rassediskriminasie” aangekla is.                                                           


WOENSDAG 14 JUNIE 2006

– Die dissiplinêre komitee van Windhoek Hoërskool se skoolraad het gisteraand vergader om die afgelope naweek se onsmaaklikhede op ’n sporttoer na Walvisbaai in oënskou te neem.                     

– Die verpakking en verspreiding van die 2,5 miljoen dosisse polioslukstof vir ronde een van die massa-

immuniseringsveldtog, het gister begin kort nadat dié kosbare vrag per vliegtuig in die land aangekom het.     

– Pres. Hifikepunye Pohamba het die uitbraak van polio in Namibië as “teleurstellend” bestempel, veral in die lig dat die land vir meer as tien jaar poliovry was.             


DONDERDAG 15 JUNIE 2006

– Die Amerikaanse sangsensasie Britney Spears, is reeds besig om haar tassies te pak om in Angelina Jolie se voetspore te volg en geboorte in Namibië te skenk.   

– Nog sewe poliogevalle is sedert eergister toe die eerste besending van 2,5 miljoen dosisse slukstof in die land aangekom het, by die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste aangemeld.                 

– Twee verkragtings en twee motordiefstalle is oor die naweek by die polisie aangemeld.                               


VRYDAG 16 JUNIE 2006

– Die onlangse moord op ’n plaasboer in die noorde van die land het hewige kommentaar van die Swapo-party se streekraad in die Outjo-kiesafdeling ontlok en is deur daardie kantoor as ’n onmenslike en barbaarse daad bestempel.                     

– Die grootste opmars ooit in die land se geskiedenis is gister deur informele handelaars van stapel gestuur wat vrese vir ’n grootskaalse betoging teen die Regering laat ontstaan het.  

– ’n Gerug wat sy ontstaan vermoedelik in Suid-Afrika gehad het oor die sluiting van Namibiese grense weens die uitbraak van polio, is gister op die hoogste vlak in Namibië ontken.

Kommentaar

Republikein 2026-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer