20 jaar gelede
MAANDAG 5 JUNIE 2006
– ’n Polio-inentingsveldtog wat aanstaande week landswyd sou begin, is die naweek vervroeg met duisende kinders jonger as vyf jaar wat by klinieke in Katutura teen die virus geïmmuniseer is.
– Poliomielitis, kortweg polio, is ’n virussiekte wat die senuweestelsel kan aantas en verlamming veroorsaak.
– Skaars twee weke nadat die Minister van Mynwese en Energie, mnr. Erkki Nghimtina, die land sielkundig gestaal het vir ’n petrolprys-skok wat nog moet kom, is ’n verhoging vir petrol en diesel afgekondig.
DINSDAG 6 JUNIE 2006
– ’n Belofte wat die stigterspresident, mnr. Sam Nujoma, ses jaar gelede aan Nigerië gemaak het, is gister gestand gedoen toe 227 stuks wild wat nagenoeg N$1 miljoen werd is, na die reus van Wes-Afrika uitgevoer is.
– Met net drie dae oor voor die Wêreldbekersokkerkampioenskappe in Duitsland begin, flikker gevaarligte vir Namibië se sokkergeesdriftiges wat uitgesluit kan word en nie die maandlange sokkerfees te siene kan kry nie.
– Polisieoptrede is na die naweek sterk veroordeel na sjebeen-eienaars en polisielede op die sandvlaktes by Omuthiya slaags geraak het oor burgerlikes se reg om onder meer met drank handel te drywe.
WOENSDAG 7 JUNIE 2006
– Namibië se gesondheidsowerheid gaan in die volgende dae ononderbroke werk om dadelik ’n massiewe inentingsveldtog teen polio van stapel te stuur.
– Die uitbraak van polio in Namibië is gister op die hoogste vlak deur die Kabinet bespreek met ’n taakspan wat onmiddellik aangestel is om beheermaatreëls en die probleem van omgewingsanitasie aan te spreek.
– Uraan uit Namibië kan nie vir kernwapenprogramme in Iran gebruik word nie ondanks die feit dat Teheran een van die drie grootste aandeelhouers in die Rössing Uraanmyn by Swakopmund is.
DONDERDAG 8 JUNIE 2006
– “Namibië was een van Afrika en die wêreld se besbewaarde geheime … omdat ons hier aangekom het,” Dit volgens Brad Pitt in 2006 by die Hansa-hotel in Swakopmund.
– Paniekerige Windhoekers het gister in hul honderde na private dokters, klinieke, apteke en hospitale vir entstof teen polio gestroom.
– Namibië se status as ’n poliovrye land sal afhang van hoe die owerheid die voorkoms van die siekte hanteer.
VRYDAG 9 JUNIE 2006
– Die toestand van die 39-jarige mnr. Jack Olivier van Aranos, die eerste persoon wat tydens die huidige polio-uitbraak die siekte opgedoen het, versleg daagliks.
– Nog ’n bedrogskandaal in die staatsdiens waarby aansienlike bedrae geld ter sprake is, is op Mariental oopgevlek.
– Die grootste sportfees ter wereld, die Wêreldbekersokkerkampioenskappe begin vandag in Duitsland en in Namibië soos elders op die aardbol loop sokkerkoors hoog.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie