20 jaar gelede
MAANDAG 20 FEBRUARIE 2006
– Die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) het sy politieke bondgenoot in die Regering gekritiseer oor die beleid om lojaliste in strategiese poste ten koste van kundigheid aan te stel.
– Meer as 60 olifante het die kommersiële boerderygebied binnegeval in die omgewing waar die Erongo-, Kunene- en Otjozondjupastreek bymekaar aansluit.
– Een van Namibië se grootste wondere op die gebied van toerisme kan die teiken van die gevreesde H5N1-virus met die wêreldwye uitkringing van die dodelike voëlgriep word.
DINSDAG 21 FEBRUARIE 2006
– TransNamib het miljoene dollar skade gely ná ses trokke en twee lokomotiewe van ’n goederetrein Sondagnag by Kransberg ontspoor het.
– ’n Besnoeiing van 40 000 ton kan in die totale toelaatbare stokvisvangste verwag word.
– Onwettige plaasheinings in kommunale gebiede wat as een van die hoofpunte van die huidige weidingsgeskil in die Kavangostreek aangegee is, se dae is finaal getel.
– Die personeel van die Universiteit van Namibië het tydens die openingseremonie van die universiteit skerp onder kritiek deurgeloop.
WOENSDAG 22 FEBRUARIE 2006
– ’n Storm het losgebars rondom planne van die Namibiese Vleisraad om sy inkomste te verhoog en sy uitgawes in te perk met maatreëls wat ’n hoë prys inhou vir elke vleisprodusent in die land.
– ’n Ernstige waarskuwing is deur die Amerikaanse ambassade in Windhoek uitgereik om Namibiërs te waarsku teen visumbedrog wat persone met verliese van etlike duisende dollar kan laat.
– ’n Voedselskandaal is besig om agter die geslote deure van Namibië se tronke te ontvou met ernstige aantygings van korrupsie en ander skelmstreke rondom tenders van miljoene dollar.
DONDERDAG 23 FEBRUARIE 2006
– Walvisbaai het nog net genoeg water vir vandag nadat ’n omgekrapte Kuisebrivier die hawedorp gisteroggend om vieruur weer planke toe gestuur het.
– Ondanks die goeie reën wat die afgelope twee dae hoofsaaklik oor die noordelike en sentrale dele van die land uitgesak het, kan Namibiërs hulle voorberei op nog swaar buie tot vroeg volgende week.
– Chaos is aan die orde van die dag met die uitreiking van nuwe rybewyse in Namibië en die maatskappy wat vroeër verantwoordelik was vir die pensioenuitbetalingskrisis, United Africa, staan weer in die beskuldigdebank.
VRYDAG 24 FEBRUARIE 2006
– ’n Strategiese brandstofvoorraad vir 20 dae in Namibië behoort enige brandstofkrisis wat die land in die afsienbare toekoms tref, te kan oorbrug.
– Die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) lê die skuld vir die onderwyskrisis voor die deur van die Regering.
– Die water wat al vanjaar uit die land se groot opgaardamme gelaat is, kon Windhoek vir 15 jaar en sewe maande van dié noodsaaklike lewensbron voorsien.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie