20 jaar gelede
Maandag 6 FEBRUARIE 2006
– Motorsport se beheerliggaam in Namibië moes die naweek sy kop in skaamte laat sak toe ’n dringende hofinterdik Saterdagmiddag uitgereik is om die jaarlikse kroning van motorsport-kampioene by ’n spoghotel in Windhoek te stop.
– Vreugdevure brand hoog op plase by Aroab in die Kalahari nadat neerslae van tussen 90 mm en 160 mm Donderdag in die vroeë oggendure daar uitgesak het en nóg neerslae oor die naweek op ander plekke in die Suidooste aangeteken is.
– Spanning is besig om op te laai tussen direksielede van die NBC in die proses om ’n nuwe baas vir die korporasie te vind.
DINSDAG 7 FEBRUARIE 2006
– Namibië staar ’n tydperk van kragtekorte in die gesig sou die geringste probleme met die herlaai- en herstelprosesse by die Koeberg-kernkragsentrale in die Wes-Kaap ondervind word.
– In die nadraai van ’n botsing tussen twee donkiekarre vroeg Saterdagoggend langs die teerpad na Otavi, het ’n donkie sy frustrasie op mnr. Jafet Neibeb uitgehaal deur een van sy vingers af te byt.
– ’n Inbraak by die Big Daddy-klerewinkel op Keetmanshoop was die voorspel tot ’n omvattende ondersoek na polisiegeweld in die Karasstreek toe een verdagte glo doodgeslaan en ’n ander ernstig beseer is toe hy by die venster van die polisiekantoor uitgespring het.
WOENSDAG 8 FEBRUARIE 2006
– In ’n historiese oomblik in die Namibiese watergeskiedenis het dit gebeur dat die sluise van die drie grootste opgaardamme in die land terselfdertyd oopgemaak moes word om vloedbeheer toe te pas.
– ’n Herhaling van 2000 se vloedskade dreig in die Suide en inwoners op Mariental is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas vir ’n moontlike oorstroming sou bykomende swaar reën die Visrivier oor sy walle stoot.
– Die status en aansien van vakbonde in die visbedryf is gister ’n gevoelige knou toegedien toe ’n skikking bereik is in die arbeidskrisis op Lüderitz waar altesaam 356 werkers van die vismaatskappy NovaNam, na ’n onwettige staking, afgedank is.
DONDERDAG 9 FEBRUARIE 2006
– Honderde mense wat deur die stormwater op Aussenkehr dakloos gelaat is, staar nou hongerte in die gesig.
– ’n Vinnige trapfiets sonder ligte, ’n jong man sonder sy kletterpet en ’n skuins helling wat in ’n T-aansluiting doodloop, was die resep vir ’n vreemde noodlottige padongeluk in Windhoek.
– Die pa van ’n oudleerling van Windhoek Hoërskool en die Namibiese polisie moet elk skadevergoeding van N$10 000 betaal aan die vorige skoolhoof van dié skool, mnr. Bertus Gous, ná hy in Augustus 2002 onregmatig in hegtenis geneem is op ’n ongegronde klag van diefstal.
VRYDAG 10 FEBRUARIE 2006
– Twee afsonderlike byeenkomste van Namibië se grondwetskrywers het die afgelope twee dae nuwe momentum aan die gebeurtenis van 9 Februarie 1990 op die politieke kalender verleen.
– Lugwaardinne wat Maandagnag aan diens was op Air Namibia se vlug vanaf Frankfurt na Windhoek moes die onbeheersde en gewelddadige Uwe Bartsch (45) uit hulpeloosheid met hulle broekiekouse vasbind nadat hy drie keer losgebreek het uit die bande wat normaalweg aan boord gebruik word om passasiers onder bedwang te bring.
– Helmutkoors het die hele Namibië stewig in sy greep en terwyl Namibiërs rondskarrel om die laaste kaartjies vir sy vertoning op te raap, het die Vlaamse superster gister stil-stil sy opwagting in Windhoek gemaak vir sy eerste Namibiese optrede.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie