Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

’n Maandag wat soos kleurmiddels ruik

Iréne-Mari van der Walt
Daar is min dinge wat ’n Maandag so vinnig blou laat verkleur soos om jouself met moeite uit die bed en tot by die oggendvergadering te kry en dan te ontdek die rok wat jy drie weke gelede gekoop het, het skielik gaatjies in.

En dis nie eens ’n skeur op die naat nie – dit was gaatjies in die middel van die materiaal. Daardie gaatjies was die spreekwoordelike strooihalm wat my geduld vir kitsmodes in duie laat stort het. Ek raak sommer naar wanneer ek verby die kettingwinkel stap waar ek daardie rok gekoop het. Ek het nooit besef hoe erg daardie winkel na kleurmiddels ruik nie, maar daardie kleurmiddelreuk sal nie weer aan my Maandagoggend kleef nie. Tot hier toe en nie verder nie!

Daar is natuurlik die logiese argumente teen kitsmodes wat al jare lank aan my gewete knaag – kitsmodes dra jaarliks ongeveer 92 miljoen ton by tot tekstielafval wêreldwyd. Kitsmodes slurp elke jaar 93 miljard kubieke meter water (genoeg water vir 5 miljoen mense) op en in sommige gevalle kan die vervaardiging van een katoen T-hemp soveel water gebruik as wat een persoon oor twee en ’n half jaar nodig het.

Dan het jy nog nie ’n woord gerep oor die kinders wat hul vingers stompies en onmenslike ure in haglike, en baie keer gevaarlike, fabrieke werk nie. En dít alles vir items wat ontwerp is om minder as tien keer gedra te word. Kitsmode-items word letterlik gemaak om nie te hou nie, want teen die tyd dat dit ’n skeur in die naat het, is daardie modegier reeds iets van die verlede en moet jy maar weer iets anders gaan koop om die modemeule aan die gang te hou. Ek weier.

’n Week ná my nuutste “fashion” faux pas het ek die winkels ingestap met ’n bankkaart wat pas bietjie swaarder geword het op soek na winterklere en laat ek jou vertel, ’n baadjie wat nie ’n voering in het nie en ’n broek wat deurskynend is, het seker gewens daardie minderjarige kinders in die Chinese fabriek het hulle nooit gemaak nie.

Die hele naweek lank snuffel ek in elke klerewinkel (behalwe die een wat na kleurmiddels ruik) rond en my arme kaart raak net ligter en ligter met elke piepgeluid van ’n kasregister. Maandag stap ek as ’n nuwe mens op kantoor in – my bas is oorgetrek en hy sal vir lank nog so bly. Ek weet ek en die nuwe denimbroek wat ek aan het, gaan nog baie goeie maatjies raak gedurende die ontelbare avonture wat nog vir ons voorlê. Dis ek en my jeans teen die wêreld – soos Bonnie en Clyde, Sherlock en Watson, Jeckyll en Hyde. Ek voel soos die mees stylvolle weergawe van myself.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd voel dit nie asof ek myself in my klere probeer wegsteek nie, maar eerder asof ek die buitekant van my gebruik as ’n platform waardeur die binnekant kan uitstraal.

In daardie oomblik kan ek nie verstaan wat my ooit besiel het om ooit weer terug te gaan na daar waar dit soos kleurmiddels ruik nie. Dit is soos om vergiftig te word en dan te vra vir nog ’n bietjie.

Hoe het ek ooit toegelaat dat ’n plek wat nie eens ’n behoorlike rok kan maak nie, my finansies en my styl gyselaar hou?

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer