Op Nowak se spoor

’n Onvoltooide sirkel
Drie Belge het byna ’n eeu later in die voetspore van ’n Poolse pionier deur Namibië en Angola fietsgetrap.
Henriette Lamprecht

Wat in Oktober verlede jaar as ’n reis deur die verlede begin het, sou ’n toets van uithouvermoë, hitte en menslike vasberadenheid word.

In 1931 klim die Poolse joernalis en avonturier Kazimierz Nowak op sy fiets vir ’n buitengewone reis deur Afrika. Hy sou uiteindelik sowat 40 000 km aflê – per fiets, te voet, te perd, per boot en kameel.

In Namibië gee sy fiets egter die gees. Naby Windhoek moet hy noodgedwonge verder perd ry. Dié onvoltooide deel van sy reis bly hom pla.

Byna ’n eeu later besluit die Belgiese skrywer Tom Ysewijn, akteur Titus De Voogdt en podcaster Jeroen Franssens om die ontbrekende stuk self per fiets af te lê.

“Ons wou die storie van Nowak so goed moontlik vertel. Toe ontstaan die onheilspellende idee: kom ons doen dit self.”



2 200 KM DEUR DIE SUIDE

In Oktober 2025 pak die drie ’n 2 200 km-roete deur Namibië en Angola aan. Hulle volg onder meer Nowak se spoor deur Gobabis, Steinhausen, Hochfeld, Waterberg, Grootfontein en Tsumeb, voordat die roete noordwaarts via Etosha loop.

Die avontuur is nie net ’n geskiedenisles nie. Hitte, stof, wind en lang dae op die fiets word deel van hul eie verhaal. By Ghaub slaan hulle kamp op naby die historiese sendingstasie – met wildlewe rondom hulle.



DIE STORIE LEEF VOORT

Nowak het sy reis destyds deur honderde artikels en briewe aan sy vrou, Marys, gedokumenteer. Ysewijn het later die boek Alleen door Afrika oor hom geskryf.

Die Belge se reis het uiteindelik in ’n agt-aflewering podcast, Weg van Nowak, ontwikkel. Die reeks is in Junie 2026 bekendgestel en vertel twee parallelle verhale: dié van Nowak en dié van drie moderne reisigers wat sy roete probeer voltooi.

Meer as ’n fietsreis is dit ’n ontmoeting tussen twee tydperke – en ’n poging om ’n byna vergete avontuur finaal af te rond.



Luister die podcast: nowakpodcast.be

Kommentaar

Republikein 2026-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer