Die Windhoek-munisipaliteit se kantoor. FOTO ARGIEF
Die Windhoek-munisipaliteit se kantoor. FOTO ARGIEF

Volle ECB-uitspraak nog hangend

‘Krag’-opdrag ter syde gestel
Stad Windhoek sê gevolgtrekkings oor sy hoërhofstryd met die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) is voortydig.
Elizabeth Kheibes

Stad Windhoek (CoW) doen stappe om, wat hy beskryf as “feitelike onakkuraathede en misleidende interpretasies” in mediadekking van sy hoërhofsaak met die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB), reg te stel.

Die munisipaliteit het gemaan die volledige uitspraak is nog nie vrygestel nie.

In ’n verklaring verwys die stadsvaders na berigte wat ’n misleidende indruk oor die hofverrigtinge en die gevolge van die uitspraak skep.

“Terwyl Stad Windhoek die hofbevel erken en respekteer, is dit belangrik om daarop te let dat die volledige skriftelike uitspraak, insluitend die hof se vertoë, nog nie vrygestel is nie. Enige gevolgtrekkings wat tans gemaak word, is dus voortydig,” lui die verklaring.

“Die volledige skriftelike uitspraak is nog nie beskikbaar gestel nie en dit is dus voortydig en spekulatief om in hierdie stadium gedetailleerde gevolgtrekkings oor die saak aan te bied,” sê die munisipaliteit.

Die kern van die dispuut is ’n opdrag deur die ECB aan plaaslike owerhede op 27 Junie 2024 dat voorafbetaalde kragmeters nie geblok mag word as ’n manier om uitstaande munisipale skuld te verhaal wat nie met elektrisiteit verband hou nie.

CoW het bewerings verwerp dat hy die hof genader het vir toestemming om voort te gaan om inwoners se krag af te sny en sê dit is “feitelik verkeerd en misleidend”.

Volgens die verklaring het die ECB ’n opdrag gegee om alternatiewe metodes vir die invordering van skuld te ondersoek en die blokkering van voorafbetaalde kragmeters te staak om agterstallige fooie, heffings en koste te verhaal. 

In reaksie hierop het die munisipaliteit die hoërhof genader om die ECB se opdrag ter syde te laat stel, veral weens die gevolge daarvan op sy invordering van inkomste en volhoubaarheid. 

Volgens die verklaring was die aansoek dus “prosedureel en wettig van aard” en nie ’n poging om inwoners toegang tot noodsaaklike dienste te ontsê nie.

CoW sê die hofuitspraak wat Dinsdag gelewer is, het die ECB se opdrag ter syde gestel en nietig verklaar. 

Volgens die munisipaliteit het die ECB op sy beurt duidelikheid van die hof gesoek oor of inwoners met uitstaande munisipale skuld wat nie met elektrisiteit verband hou nie, se kragtoevoer in lyn met bepalings van die Elektrisiteitswet van 2007 beperk kan word.

Die hof het gelas dat ’n kliënt wat aansoek gedoen het vir en in staat is om reëlings vir betalings te tref wanneer hy of sy versuim het om enige uitstaande fooie, koste buiten vir krag te betaal, binne die raamwerk van die uitspraak oorweeg moet word.

CoW het beklemtoon dat hy as ’n Deel I-munisipaliteit wetlik verplig is om sy eie inkomste te genereer en finansiële volhoubaarheid ingevolge die wet op plaaslike owerhede te handhaaf.

“Stad Windhoek is verplig om sy eie inkomste te genereer [en] vir sy bedryfsuitgawes te voorsien. . . Daarom is doeltreffende en wettige meganismes vir die invordering van skuld noodsaaklik om voortgesette dienslewering aan alle inwoners te verseker, terwyl die munisipaliteit se volhoubaarheid gehandhaaf word,” lui die verklaring.

Volgens die stadsvaders magtig bestaande regulasies vir kragvoorsiening die munisipaliteit om dit vir die wanbetaling van dienste te blokkeer wat nie direk met elektrisiteit verband hou nie.

Aangesien die volledige hofuitspraak nog hangend is, moet voortydige gevolgtrekkings nie nou gemaak word nie, het CoW gemaan. 

“Sodra die volledige uitspraak ontvang en bestudeer is, sal die munisipaliteit ’n omvattende en ingeligte standpunt in neem, wat enige nodige regs- of administratiewe stappe insluit,” lui die verklaring. 

Die munisipaliteit het sy verbintenis tot “deursigtige kommunikasie, wettige bestuur en die voortgesette voorsiening van noodsaaklike dienste aan alle inwoners” in die hoofstad herhaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer