Vitol se brandstofweb

Nie in Namibië geregistreer
Die vraag is of die parlement en die publiek ’n volledige prentjie van die korporatiewe struktuur agter die brandstofreëling gehad het.
Sonja Smith

Die regering se omstrede besluit om Vitol as Namibië se strategiese brandstofverskaffer aan te stel, het ’n venster oopgemaak na ’n uitgebreide korporatiewe netwerk wat reeds diep in die land se petroleumsektor gewortel is.

’n Oorsig van korporatiewe rekords, kennisgewings van samesmeltings, openbaarmakings van maatskappye en eienaarskapstrukture toon ’n netwerk van Vitol-beheerde maatskappye wat strek van Switserland en Bahrein tot Namibië se stroomaf-petroleumsektor.

Dit sluit Vivo Energy, die Shell-vulstasies in wat al meer as ’n dekade in die land aktief is.

Met die ooreenkoms wat verlede maand deur die minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, aangekondig is, het die regering wegbeweeg van sy vorige brandstofverkrygingsmodel.

Vitol Bahrain E.C. is gevolglik vir ’n tydperk van drie maande as die land se enigste grootmaat-petroleumverskaffer aangestel.

Die leier van die Affirmative Repositioning (AR), Job Amupanda, het verlede week die wetlikheid van die brandstofooreenkoms in die parlement bevraagteken.

Hy wou weet hoe Vitol toevertrou kon word om brandstof aan Namibië te verskaf, ten spyte daarvan dat dit nie op die ministerie se lys van gelisensieerde petroleumgroothandelaars verskyn nie.

“Op 8 Mei het u die lys van die gelisensieerde oliemaatskappye en handelaars gepubliseer. Almal wat ’n petroleumlisensie in Namibië het, is bekend en gepubliseer. 

“Op 21 Mei het u ’n brief aan die Namibië Oliebedryfvereniging geskryf dat die regering ’n reëling getref het dat Vitol die volle mandaat sal hê om in Namibië se petroleumbehoeftes te voorsien. 

“Op die gepubliseerde lys van groothandellisensies het Vitol nie ’n lisensie in Namibië nie,” het Amupanda gesê.

Hy het verder aangevoer dat Vitol nie in Namibië geregistreer is nie en dus nie ’n lisensie vir groothandelpetroleum onder bestaande regulasies kon bekom nie.

“Ons weet nou dat Vitol nie in Namibië geregistreer is nie en as sodanig is dit nie moontlik vir hulle om ’n groothandellisensie in Namibië te kry nie,” het Amupanda gesê.

Volgens hom bepaal regulasie 31 van die wet dat die minister nie ’n sertifikaat of lisensie kan kanselleer of opskort, tensy die minister die lisensiehouer hiervan in kennis gestel het en hulle die geleentheid gegee het om aangehoor te word nie.

“Namcor kan as gevolg van hierdie riglyn nie invoer nie, al het hulle ’n lisensie om petroleumprodukte in te voer. 

“Die brief van 21 Mei vanjaar is dat die regering onwettig ’n alleenmandaat aan Vitol gegee het. Is die minister bewus daarvan dat die besluit onwettig is om dit aan Vitol toe te ken? 

“Is die minister bewus van die impak van die brief van 21 Mei, wat gelei het tot die opskorting van die invoerregte van ander lisensiehouers?” het Amupanda gevra.

Dit laat vrae ontstaan ​​oor of die parlement en die publiek ’n volledige prentjie van die korporatiewe struktuur agter die brandstofreëling gehad het, toe die regering dit as ’n ooreenkoms met ’n internasionale brandstofhandelaar aangebied het.

Amutse het aangevoer daar is “net een Vitol” en die maatskappy beskryf asof dit deur Vitol Bahrain bedryf word.

“Daar is net een Vitol met ’n administratiewe kantoor in Suid-Afrika en geregistreer as Vitol Bahrain. Dit voorsien al lank as ’n internasionale verskaffer aan die bedryf.

“Sommige plaaslike groothandelaars het ooreenkomste om Vitol van produkte te voorsien en die ooreenkomste is steeds geldig,” het Amutse in die parlement in reaksie op Amupanda se vrae gesê.

“Dit verskaf al lank aan vier groothandelaars. Vir Vitol om petroleumprodukte aan die Namibiese mark te verskaf, het hulle nie ’n lisensie nodig nie.

“Die minister lisensieer groothandelaars en kleinhandelaars wat binne die grense van Namibië sake doen, of hulle nou in- of uitvoer. Dis wat die minister lisensieer. 

“Maar waar die bron van die produkte is, kry Vitol die produkte na die hawe van Walvisbaai en daarna word dit van daar af gekoop,” het Amutse gesê.

Die minister het verlede maand aan Network Media Hub (NMH) gesê die die reëling sal die koste van brandstofverkryging verminder en besparings van ongeveer N$1 miljard oor die tydperk van drie maande genereer.

Rekords wat NMH onder oë gehad het, wys egter dat Vitol se teenwoordigheid in Namibië veel verder as die rol van ’n buitelandse brandstofverskaffer strek. Amutse het nie gereageer op vrae wat aan hom gestuur is nie.


VOLG DIE BRANDSTOF

Vitol S.A., die Switserse kommoditeitsreus wat deur die regering as die verskaffer gekies is, is bo-aan die hele netwerk.

Daaronder is Vitol Bahrain E.C., een van die groep se streekhandelsentiteite wat vir die brandstofvoorsiening oor dele van Afrika en die Midde-Ooste verantwoordelik is. Die korporatiewe struktuur word verder af in die ketting belangriker.

In 2022 het Vitol die verkryging van Vivo Energy, een van Afrika se grootste stroomaf-petroleumoperateurs, voltooi en volle eienaarskap van die maatskappy geneem.

Vivo Energy Namibia is in 2011 gestig en het sedert die verkryging van Shell se stroomaf-bedrywighede in 2012 sake in Namibië bedryf. Dit bly een van die land se grootste brandstofkleinhandelaars en verspreiders. 

Die maatskappy se bedrywighede sluit onder meer brandstofberging, verspreiding en kleinhandelbedrywighede in.

Deur Vivo Energy Namibia het die Vitol-groep sy voetspoor uitgebrei deur transaksies wat Engen se Afrika-bedrywighede betrek. Laasgenoemde het tot bykomende infrastruktuur en brandstofbates onder die breër korporatiewe sambreel gelei.

Die gevolg is ’n netwerk van Vitol-beheerde entiteite wat reeds in Namibië se petroleumwaardeketting ingewortel is.

Hoewel die parlement meegedeel is dat Vitol brandstof as ’n internasionale handelaar verskaf, het die breër Vitol-groep reeds beduidende kommersiële belange en bedrywighede deur sy filiaalmaatskappy, Vivo, in Namibië behou. 


NASAN

Die netwerk brei uit, wanneer dit beskou en vergelyk word met onlangse mededingingsprosedures waarby Nasan Energies betrokke is.

Vroeër vanjaar het die Namibiese Mededingingskommissie (NCC) Nasan se verkryging van 52 vulstasies goedgekeur wat deur Vivo Energy en Engen Namibia verkoop is.

Die transaksie is goedgekeur onderhewig aan streng voorwaardes wat ontwerp is om oormatige markkonsentrasie te voorkom.

“Vir ’n tydperk van vyf jaar vanaf die implementeringsdatum mag die verkrygende groep [Nasan], nie petroleumprodukte, hetsy direk of indirek, van Vitol koop, verkry, invoer of andersins verkry nie," het die NaCC se voorsitter, Andreas Ithindi, in ’n brief gesê wat vroeër vanjaar uitgereik is.

Onder hierdie voorwaardes was ’n verbod wat Nasan verbied om brandstof direk of indirek van Vitol, Vivo Energy en geaffilieerde entiteite vir ’n bepaalde tydperk te verkry.

Die kommissie se besluit het die onderling gekoppelde aard van die verskillende maatskappye erken wat onder die breër Vitol-netwerk bedryf word.

Die regering het Vitol as die oplossing vir Namibië se uitdagings met brandstofverskaffing voorgehou. Die teenstrydigheid het vrae laat ontstaan ​​oor of die doelwitte wat deur mededingingsreguleerders nagestreef word, ooreenstem met dié van die regering.


DIE VITOL-WEB

Die Nasan-transaksie het openbare aandag getrek weens bewerings wat die sakeman Mathews Hamutenya aan die verkryging verbind.

Hamutenya het herhaaldelik enige betrokkenheid by die regering se reëlings vir brandstofverskaffing ontken. In ’n plaaslike mediaberig het hy beweer sy verhouding was met Vitol S.A. en nie met Vitol Bahrain wat deur die regering aangestel is nie.

Terwyl Hamutenya voorstelle verwerp dat hy met die brandstofreëling verbind is, toon die korporatiewe rekord ’n vertikaal geïntegreerde netwerk wat van Genève tot Windhoek strek. Sy eie maatskappy, Validus Energy, is 70% in besit van Vitol Holdings en Vivo Energy, wat volledig in besit van Vitol is.

Vitol S.A. is in 1966 in Switserland gestig. Die maatskappy besit 100% van Vitol Bahrain E.C. en 100% van Vivo Energy, met ’n reeks stroomaf-petroleumbedrywighede oraloor Afrika.

Deur Vivo Energy, wat in 2011 in vennootskap met Helios Investment Partners gestig is en in 2022 volledig deur Vitol verkry is, het die groep Namibië betree. Dit nadat Shell se stroomaf-bedrywighede in 2012 verkry is.

Sy voetspoor het verder uitgebrei deur die verkryging van Engen se Afrika-bedrywighede. Dit gee die breër Vitol-groep invloed oor brandstofhandel, berging, groothandelverspreiding en kleinhandelbedrywighede. 

[email protected]


GATEWAY

Kommentaar

Republikein 2026-06-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer