President Netumbo Nandi-Ndaitwah FOTO STAATSHUIS
President Netumbo Nandi-Ndaitwah FOTO STAATSHUIS

Verpligte jeugdiensopleiding vir nuwe staatsamptenare

Hoofredaksie
President Netumbo Nandi-Ndaitwah sê die regering oorweeg 'n voorstel wat sal vereis dat alle nuut aangestelde staatsamptenare 'n maand lange Nasionale Jeugdiens (NYS)-oriëntering tydens hul proeftydperk moet ondergaan.

Sy het gesê die kabinet het ook gelas dat toekomstige werwing in die weermag, polisie en korrektiewe dienste uit die NYS-databasis getrek moet word en dat alle staatsinstellings voorkeur moet gee aan NYS-gegradueerdes vir intreevlakposisies.

Die voorgestelde oriëntering is bedoel om 'n staatsdienskultuur te kweek wat gewortel is in uitnemendheid en 'n sterk sin van nasionale plig, het sy gesê. Dit sal deel vorm van breër pogings om dissipline, integriteit en professionaliteit regoor die staatsdiens te versterk.

Nandi-Ndaitwah het die opmerkings gemaak tydens die 16de Nasionale Jeugdiens se inname-opleidingsparade wat by Rietfontein in die Otjozondjupastreek gehou is.

'n Totaal van 1 030 gegradueerdes het opleiding by die NYS-sentrums van Rietfontein en Hentiesbaai voltooi.

Sy het ook hulde gebring aan stigterspresident Sam Nujoma vir die stigting van die Nasionale Jeugdiens kort ná onafhanklikwording en gesê sy visie van 'n gedissiplineerde en patriotiese jeug bly vandag relevant.

Die president het die regering se verbintenis tot die volhoubaarheid en uitbreiding van die program herbevestig ten spyte van hulpbronbeperkings.

BEROEPSOPLEIDING

Die NYS is ingevolge die Wet op Nasionale Jeugdiens, 2005 (Wet nr. 6 van 2005) gestig.

Sedert die bekendstelling in 2007 het 5 390 jong Namibiërs volgens die NYS aan die program deelgeneem.

Gegradueerdes verlaat die program met 'n mengsel van dissipline en praktiese vaardighede wat op nasionale ontwikkeling gerig is.

Opleiding kombineer militêre dissipline met leierskapsontwikkeling, patriotisme en nasionale waardes. Dit sluit ook tegniese en beroepsopleiding in landbou en akkerbou, skrynwerk, messelwerk en konstruksie, loodgieterswerk, sweiswerk en elektriese installasie, motorwerktuigkunde, kleremaak, spyseniering, inligtingstegnologie, kantooradministrasie en basiese entrepreneurskap in.

Sommige innames ontvang ook gespesialiseerde opleiding wat in lyn is met nasionale prioriteite, insluitend omgewingsbestuur, padonderhoud, gemeenskapsontwikkeling en rampreaksie.

Die president het alle staatsinstellings, insluitend streekrade en staatsondernemings versoek om vrywillige diensgeleenthede vir NYS-gegradueerdes vanaf Februarie 2026 oop te maak. Sy het beklemtoon dat werkgeïntegreerde opleiding 'n nasionale plig is, nie 'n guns nie.

Nandi-Ndaitwah het gegradueerdes ook daaraan herinner dat die NYS-wet hulle werwingsvoorkeur in die sekuriteitsektor gee en dat die regering daarop gemik is om 'n meer gedissiplineerde sekuriteitstelsel te bou.

Sy het gesê die weermag sal volgende jaar 600 gegradueerdes inneem.

Nandi-Ndaitwah het die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit verder aangespoor om ook die oorblywende 430 rekrute in sy volgende werwingssiklus te oorweeg.

"Ek is bewus daarvan dat hierdie een ministerie is wat ook NYS-gegradueerdes ingeneem het," het sy gesê.

"Ek versoek ook alle staatsinstellings, insluitend staatsondernemings, die private sektor en individue, om gebruik te maak van die gegradueerdes van die Nasionale Jeugdiens."

Die president het gegradueerdes aangemoedig om entrepreneurskap na te streef en voordeel te trek uit die Nasionale Jeugontwikkelingsfonds en beklemtoon hul vaardighede is noodsaaklik is vir die land se groei.

Sy het bygevoeg dat die ervaring wat gegradueerdes in verskeie ambagte opgedoen het, baie in staat moet stel om hulself as onafhanklike ambagslui te vestig.

Landbou bly 'n topprioriteit van die regering volgens Nandi-Ndaitwah en sy het diegene wat in die sektor opgelei is, aangespoor om die nasie te help voed.

Sy het die Zambiese nasionale diens bedank vir hul ondersteuning van die NYS-program wat instrukteurs vir die inname verskaf het om 11 Namibiese kadetoffisiere op te lei. Sy het bevestig besprekings is met Tanzanië aan die gang is om 'n soortgelyke samewerkingsreëling te vestig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer