Herman, Jacob (Jacky) en Erastus Nekomba.rnFoto verskafrn
Herman, Jacob (Jacky) en Erastus Nekomba.rnFoto verskafrn

Verbod op Nekomba-broers ná tendersage

N$388 miljoen se voedseltender
Drie maatskappye is verbied om vir die volgende vyf jaar aan die openbare verkrygingsproses deel te neem.
Sonja Smith

Vier jaar nadat beweringe van onreëlmatige oor ’n voedseltender van N$388 miljoen aan die lig gekom het, is drie maatskappye wat aan die Nekomba-broers gekoppel is, vir vyf jaar verbied om aan die openbare verkrygingsproses deel te neem. 

In ’n beslissing wat op 5 Junie gelewer is en deur Network Media Holdings (NMH) gesien is, het die openbare verkrygingshersieningspaneel in die ministerie van finansies bevind dat Stream Two Properties CC, Degrande Investment CC en Degree Power Investment CC aan sameswerende optrede deelgeneem en wesenlik valse of misleidende inligting tydens die verkrygingsproses ingedien het. 

Die drie maatskappye word deur die broers Herman, Erastus en Jacob (Jacky) Nekomba beheer. Die hersieningspaneel het bevind dat die inligting tydens die tenderproses vir die staatskontrak die voorsiening van proteïen, suiker, sout en vervoer na pakhuise behels het. Die beslissing volg nadat ’n verkrygingsage in 2022 vir die eerste keer ontbloot is, toe vrae ontstaan het oor die betrokkenheid van familie-gekoppelde maatskappye by die tender. 

Die Sentrale Verkrygingsraad (CPBN) het aansoek gedoen dat die drie maatskappye ingevolge Artikel 68 van die Wet op Openbare Verkryging uitgesluit word, met die argument dat die firmas hul tenderpryse gekoördineer het terwyl hulle hulself as onafhanklike mededingers voorgedoen het. 

Ná oorweging van skriftelike bewysstukke en mondelinge voorleggings, het die hersieningspaneel tot die gevolgtrekking gekom dat die maatskappye nie werklik onafhanklike tenderstukke ingedien het nie. 

“Die bewyse toon dat die respondente in samehang opgetree en aspekte van hul tenderindienings gekoördineer het op ’n wyse wat onversoenbaar is met die beginsels van billike en mededingende verkryging,” het die paneel bevind. 

“Die maatskappye het wesenlik valse of misleidende inligting verskaf. . . Sodanige optrede ondermyn die beginsels van billikheid, deursigtigheid, mededinging en gelyke behandeling wat die hoeksteen van die openbare verkrygingsbestel vorm,” het die paneel verder gesê. 

In hul tenderdokumente en via hul entiteite vir ’n staatskontrak, het hulle drie afsonderlike tenders met hul individuele maatskappye ingedien om mieliemeel aan die destydse ministerie van onderwys, kuns en kultuur te voorsien, dit te meng, verpak en na staatskole in streke te vervoer. 

Hulle het mekaar in die tenders ondersteun, soos deur vervoer vir mekaar te verskaf of dieselfde administratiewe amptenaar te gebruik. 

Die mieliemeeltender, wat in Oktober 2020 geadverteer is en 22 bieërs gelok het, word op N$280 miljoen gewaardeer. 

Erastus se Degrande Investments CC se tender was N$186 miljoen, sy broer Herman se Stream Two Properties CC s’n N$209 miljoen, terwyl Jacky via Degree Power Investment CC N$188 miljoen vir die mieliemeel-tender gebie het. 

Die trio wou mieliemeel aan al 14 streke voorsien. 


GEDISKWALIFISEER

Destyds het die CPBN tydens die evalueringsproses tussen 18 Februarie en 27 Julie 2021 ingegryp en die maatskappye wat deur die drie broers beheer word, gediskwalifiseer. 

“Die bieërs het dieselfde van, fisiese en posadres in hul verklarings as bieër nommer 2 en bieër nommer 15 gehad. 

“Dit word as ’n botsing van belange beskou… naamlik om ’n verhouding met mekaar te hê, direk of deur gemeenskaplike derde partye, wat hulle in ’n posisie plaas om toegang tot inligting te hê of invloed op ’n ander bieër se tender te kan uitoefen, of invloed op die aankope met betrekking tot hierdie tenderproses,” het die CPBN in 2022 gesê. 

Deel van die hersieningspaneel se bevindinge is dat die bewyse waarop die drie maatskappye – besit deur die drie broers – gesteun het, dieselfde sleutelpersoneel was, terwyl hulle hulself as afsonderlike bieërs voorgestel het. 

Die paneel het bevind dat dieselfde individue as sleutelpersoneel oor die verskillende tenderdokumente verskyn het, maar dat geen van die maatskappye dienskontrakte, aanstellingsbriewe of briewe van voorneme voorgelê het wat toon dat daardie individue hulle tot elke bieër verbind het nie. 

Die paneel het die argument verwerp dat die oorvleueling bloot toekomstige personeelreëlings weerspieël. Die paneel het bevind dat die maatskappye op identiese laboratoriumverslae gesteun het wat van een bieër afkomstig was, vervoerbates gedeel het, gemeenskaplike pakhuisgeriewe gebruik het en ondersteunende dokumentasie gedeel het. 

“Die herhaalde gebruik van gemeenskaplike personeel, tegniese dokumentasie, logistieke hulpbronne, geriewe en ondersteunende dokumentasie dui op ’n patroon van koördinering eerder as onafhanklike deelname aan ’n mededingende verkrygingsproses,” lui die beslissing. 

Volgens die dokumente het die maatskappye aangevoer dat hulle ondernemings in familiebesit is en dat die deel van besigheidsadresse of geriewe nie outomaties op sameswering neerkom nie. 

Die paneel was van mening dat die bewyse eerder gekoördineerde optrede as toeval aantoon. Die paneel het verder opgemerk dat, hoewel familiebande alleen nie sameswering bewys nie, dit “belangrike kontekstuele bewyse” verskaf wanneer dit saam met die rekord van dokumente oorweeg word. 

Die paneel het gelas dat al drie maatskappye vir vyf jaar verbied word om aan enige openbare verkrygingsproses vanaf 5 Junie 2026 deel te neem. 

Die bevel bepaal verder dat die maatskappye se name vir die duur van die verbod van vyf jaar in die amptelike nasionale register van uitsluiting van die eenheid vir verkrygingsbeleid opgeneem moet word. 

Die Nekomba-broers het aangevoer dat hulle nooit bedoel het om die verkrygingsowerhede te mislei nie en volgehou dat die inligting waarop die CPBN gesteun het, nie wettige gronde vir uitsluiting is nie. 

Die paneel het hierdie argumente van die hand gewys. Vrae wat aan Erastus en Herman gestuur is, is nie beantwoord nie.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer