Studente in gewasverbouiing het onlangs u0027n rys-oesdag in die Omusatistreek bygewoon. Foto argief
Studente in gewasverbouiing het onlangs u0027n rys-oesdag in die Omusatistreek bygewoon. Foto argief

Te min werk vir gegradueerdes

Nikanor Nangolo

Landbou is die grootste werkverskaffer in die land, maar 47% landboustudente met grade agter hul name, kon nog steeds nie daarin slaag om werk te kry nie.

Dié data is deur die adjunk- uitvoerende direkteur van die Nasionale Raad vir Hoër Onderwys (NCHE), Sylvia Demas, aan die staande komitee oor onderwys op Otjiwarongo in die Otjozondjupastreek bekend gemaak. 

Demas het gesê die tendens hou al jare aan, selfs terwyl graduandi in regte, gesondheid en maatskaplike dienste steeds die hoogste indiensnemingsyfers aanteken.

“Graduandi uit die landbouveld het die hoogste werkloosheidsyfer, naamlik 47%. Dit is deurgaans oor die jare die geval, met landbougraduandi wat die hoogste vlakke van werkloosheid aanteken,” het sy gesê.

Demas het bygevoeg dat werkloosheid onder graduandi ook in ander dissiplines besig is om toe te neem.

“Ons sien ook hoë werkloosheid onder graduandi wat onderwys en kultuur gestudeer het. Onderwys was nie tipies in hierdie posisie nie, maar dit is die eerste keer dat dit ’n hoë werkloosheidsyfer onder graduandi toon. Ons het ook gesien dat wetenskapgraduandi onder dié is met die hoogste werkloosheidsyfers,” het sy gesê.

Die voorlegging het ook beperkte gegradueerders in entrepreneurskap getoon, met die gasvryheidsbedryf wat die hoogste selfindiensnemingsyfer aanteken, maar slegs 7%.

Die bevindinge het komiteelede aangespoor om te vra waarom werkloosheid in die gesondheidsektor hoog bly, ondanks die groeiende aantal opleidinginstellings in verpleegkunde.

Een lid het opgemerk dat, hoewel slegs ’n handjievol verpleeginstellings op die Namibië Kwalifikasie-owerheid (NQA) se webwerf verskyn, baie meer instellings oraloor die land in bedryf is, en het gevra of regulatoriese tekortkominge tot werkloosheid van gegradueerdes bygedra het.

In reaksie het Demas gesê die vinnige opskiet van verpleegkolleges is grootliks aangedryf deur die hoë vraag wat tydens die Covid-19-pandemie ontstaan het.

“Dit is omdat baie verpleegkundiges op ’n deurlopende basis opgelei word. Tydens Covid-19 was daar ’n hoë vraag na verpleegkundiges in die arbeidsmark. Gevolglik het baie mense besef dat verpleging ’n sakegeleentheid geword het,” het sy gesê.

Sy het verduidelik dat veranderinge aan die nasionale skoolkurrikulum, wat graad 10 as ’n skoolverlatingsperk verwyder het, nie onmiddellik deur hersiene toelatingsvereistes vir verpleging geëwenaar is nie.

“Gevolglik het leerlinge wat nie na graad 11 en 12 gevorder het nie, hul weg na verpleegprogramme gevind,” het Demas gesê. 

Sy het bygevoeg dat instellings nie in staat was om toelatingsvereistes te verhoog nie, omdat graad 10 die minimum vereiste onder regulasies vir gesondheidsberoepe gebly het.

Demas het gesê die situasie is sedertdien aangespreek deur nuwe regulasies wat hoër toelatingsvereistes, -kwotas en beheer oor inname van studente instel.

Die kommer oor werkloosheid van gegradueerdes in verpleging kom ondanks die openbare gesondheidsektor wat ernstige personeeltekorte ervaar.

Verlede jaar het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, bekend gemaak dat die ministerie slegs op 50% van sy vereiste personeelkapasiteit funksioneer, en gewaarsku dat die situasie enorme druk op gesondheidswerkers plaas.

Sy het aan die parlement gesê dat die ministerie meer as N$4,6 miljard benodig om meer as 11 700 goedgekeurde poste te vul, maar slegs N$150 miljoen ontvang het – net genoeg om 434 poste te befonds.

“Ons het meer personeel nodig, meer verpleegkundiges, meer dokters,” het Luvindao destyds gesê, terwyl sy erken het dat begrotingsbeperkings werwing ernstig beperk het, ondanks die land se groeiende gesondheidsorgbehoeftes.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer