David Gurubeb oorhandig die Tsou!Homs-boerekoöperatief se klagskrif aan die adjunkdirekteur in die departement van grondhervorming, Augustine Arases. Foto NICT
David Gurubeb oorhandig die Tsou!Homs-boerekoöperatief se klagskrif aan die adjunkdirekteur in die departement van grondhervorming, Augustine Arases. Foto NICT

Suide-boere pleit vir hervestiging

Oorhandig klagskrif aan adjunkdirekteur
Augetto Graig
Die Tsou!Homs-boerekoöperatief het verlede Woensdag voor ’n toe hek te staan gekom, nadat hulle 28 km van Hoachanas na die plaas Schurfbeck no. 681 in die Mariental- landelike kiesafdeling gereis het om hul klagskrif vir hervestiging te oorhandig.

Volgens die koöperatief se leier, David Gurubeb, doen die 23 lede van Tsou!Homs al jare lank herhaaldelik aansoek om hervestiging en het selfs die regering se hervestigingsplaas, Schurfbeck, as geskik vir hul doeleindes geïdentifiseer.

Die groep was egter teleurgesteld dat die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, die goewerneur van die Hardapstreek, Charles McNab, en die voorsitter van die streekraad, Gerson F. Dausab, wat hulle na die geleentheid genooi het, nie opgedaag het nie.

Slegs die adjunkdirekteur in die departement van grondhervorming in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming, Augustine Arases, was teenwoordig om die klagskrif in ontvangs te neem, met die belofte dat sy dit onder die minister se aandag sou bring.

In die klagskrif verklaar die koöperasie dat hulle verbind is tot nasionale ontwikkeling, voedselsekerheid en die bemagtiging van die gemeenskap.

“Die Tsou!Homs-boerekooperatief is formeel gestig om volhoubare landbou-ontwikkeling binne die Hardapstreek te bevorder.

“Die koöperasie bestaan uit toegewyde Namibiese boere, jeug en gemeenskapslede wat daarna streef om betrokke te raak by produktiewe landboubedrywighede, insluitend veeteelt, tuinbouproduksie van groente en vrugte, en ook pluimveeboerdery.

“Ons lede beskik oor praktiese boerdery-ervaring, ’n gedeelde visie van ekonomiese onafhanklikheid, en ’n sterk begeerte om tot plaaslike voedselproduksie en werkskepping by te dra.

“Ons pogings om met bedrywighede te begin, is egter gekniehalter deur die gebrek aan toegang tot grond wat geskik is vir boerdery en koöperatiewe ontwikkeling,” lui die dokument.

Die groep vra spesifiek dat die regering grond aan hulle beskikbaar stel, verkieslik in die Mariental- landelike kiesafdeling, vir die ondersteuning van bestaande regeringsprogramme en landbou-infrastruktuur, en dat die regering voortgaan om “billike toegang tot grond vir landelike Namibiërs te bevorder, veral vir die jeug en georganiseerde gemeenskapskoöperasies wat werk aan nasionale ontwikkelingsdoelwitte”.

Hulle belowe om vreedsaam en volhoubare en klimaataangepaste landbou wetlik na te streef, en om met plaaslike owerhede, tradisionele owerhede en die private sektor in die gebied saam te werk om geleenthede vir werkskepping, opleiding en ekonomiese opheffing in die gemeenskap te bevorder.

“Toegang tot grond is die fondament waarop ons ’n toekoms van waardigheid, produktiwiteit en selfstandigheid vir ons mense kan bou,” skryf die boere.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer