SOE-taakspan op ys
Verwarring heers oor die toekoms van die regering se taakspan vir die hersiening van staatsondernemings (SOE’s) nadat sy voorsitter, prof. Joseph Diescho, gesê het die taakspan van 11 lede is skielik ontbind, terwyl ander lede sê dat die werk bloot opgeskort is hangende ’n hersiening.
Die teenstrydige weergawes kom skaars ’n maand nadat eerste minister Elijah Ngurare die taakspan aangestel het om salarisse, die werwing van uitvoerende hoofde en bestuur by by SOE’s te hersien.
Diescho het gesê lede is tydens ’n virtuele vergadering Maandag ingelig dat daar ’n probleem met sy aanstelling was.
Hy het verder beweer dat Ngurare nie persoonlik of telefonies met hom gepraat het voordat hy sy aanstelling as voorsitter aangekondig het nie.
“Die eerste minister het dit vanoggend virtueel aan ons gekommunikeer. Hy het nooit persoonlik of telefonies met my oor die aanstelling gepraat nie. Ek het verskeie teksboodskappe gestuur en verskeie oproepe gemaak. Geen antwoord,” het hy gesê.
In ’n kort gesprek met Republikein gisteroggend het Diescho herhaal dat hy nie direk by Ngurare duidelikheid kon kry nie.
“Die eerste minister beantwoord nie my oproepe of teksboodskappe nie,” het hy gesê.
“Ek het geen idee wat aangaan nie. Ek kan net kommentaar lewer op wat deur die OPM gesê word.”
Diescho, wat in Duitsland gevestig was, is tans in Namibië. In sy vroeëre boodskap het hy aangedui dat hy volgende week na Duitsland sal terugkeer.
VOERTUIG, KANTOOR
Diescho het beweringe van die hand gewys dat hy ’n persoonlike voertuig of kantoorpersoneel geëis het. Hy het gesê die taakspan het kollektiewe administratiewe en logistieke ondersteuning versoek om sy mandaat uit te voer.
“Nie ek of die span het vir ’n motor of kantoorpersoneel gevra nie. Ons het net ’n funksionele sekretariaat nodig gehad, ’n kantoorruimte vir ons almal en die vermoë om na vergaderings te beweeg,” het hy in ’n boodskap gesê wat aan taakspanlid Tanja Jacobie gerig was en deur Republikein gesien is.
“Verifieer asseblief dat ek nooit vir ’n voertuig of kantoorpersoneel vir myself gevra het nie.”
Diescho het gesê die OPM behoort die besluit in die openbaar te verduidelik, net soos dit die instelling van die taakspan aan die publiek aangekondig het.
“Die OPM moet ’n openbare verklaring uitreik oor die ontbinding van die taakspan, net soos dit die instelling daarvan aangekondig het. Ek het my en my spanlede se reputasies om te beskerm,” het hy gesê.
Hy het gesê hy sou drie maande weg van sy werk in Duitsland wees om op die taakspan te dien.
“Ek het drie maande verlof geneem van my ekonomiese lewe in Duitsland om hier te wees volgens die aanstelling deur die eerste minister, net om ná een maand tydens ’n virtuele vergadering te hoor dat ek geen rol het nie,” het Diescho gesê.
“As niks teen Donderdag hierdie week gesê word nie, sal ek geen alternatief hê as om self hierdie mediavrae en verwante sake te beantwoord nie.”
Diescho het later aan Republikein gesê Jacobie, wat hy beskryf het as iemand in die OPM, behoort op vrae oor die taakspan te reageer.
Dit bly onduidelik of die regering die versoek vir ’n sekretariaat, gedeelde kantoorruimte en vervoer as onredelik beskou het, en of dit bygedra het tot die besluit wat Diescho sonder ’n rol gelaat het.
Dit is ook onduidelik of ’n begroting, vergoeding en administratiewe reëlings goedgekeur is voordat die taakspan en sy lede publiek aangekondig is.
Taakspanlid en voormalige hoof uitvoerende beampte van die Paaieowerheid (RA), Conrad Lutombi, het bevestig dat die komitee nie ’n toegewyde kantoor het nie. Hy het egter gesê lede het begin werk en vergader by die OPM.
“Ons het nie ’n kantoor nie, ja, maar ons vergader by die eerste minister se kantoor, en ons het reeds werk gedoen. Dis al wat ek kan sê,” het Lutombi gesê.
Hy het nie uitgebrei oor die werk wat voltooi is nie en ook nie bevestig of die hele taakspan ontbind is, of die werk opgeskort is, of net Diescho se rol beëindig is nie.
DRIE MAANDE
Ngurare het die aanstelling van die taakspan einde Junie aangekondig deur ’n verklaring wat deur die OPM uitgereik is.
Die komitee is vir drie maande aangestel, van 1 Julie tot 30 September 2026.
“Die taakspan is ingestel om ’n omvattende hersiening van sleutelbestuurs- en menslikehulpbron-kwessies binne SOE’s te doen. Sy verantwoordelikhede sluit in die hersiening van SOE’s se salarisstrukture en aanbevelings oor die vergoeding van raadslede en raadskomitees,” het die verklaring gelui.
Die voormalige minister van hoër onderwys, tegnologie en vernuwing, Itah Kandjii-Murangi is as adjunkvoorsitter aangestel.
Buiten Jacobie en Lutombi, is die ander lede wat vir die taakspan aangewys is, die voormalige redakteur van The Namibian, Tangeni Amupadhi, die Lüderitz Waterfront Development Company se hoof uitvoerende beampte, Fluksman Samuehl en afgetrede predikant van die Evangelies-Lutherse Kerk in Namibië, eerwaarde Mateus Tshapaka Tshakapolo, die voormalige ||Kharas-goewerneur, Aletha Frederick, voormalige presidensiële woordvoerder Mathew ||Gowaseb, lid van die Openbare Dienskommissie-lid, Habatte Doeses en Aino Mukwiilongo.
Benewens die hersiening van salarisstrukture en vergoeding van raadslede, is daar van die taakspan verwag om beleid te ondersoek wat die werwing en aanstelling van uitvoerende hoofde by SOE’s beheer en om beste praktyke aan te beveel.
Sy verantwoordelikhede het ook ingesluit die ontwikkeling van riglyne vir die aanstelling van staatsamptenare op werwingspanele en die advisering van die regering oor die plasing van staatsamptenare op rade van SOE’s.
Daar is van die taakspan verwag om sy finale verslag einde September aan die kabinetskomitee oor openbare diens voor te lê.
Dit bly onduidelik hoeveel werk die komitee gedurende Julie voltooi het, of dit enige SOE’s geraadpleeg het of salaris- en bestuursinligting van hulle ontvang het.
Die taakspan is aangestel te midde van langdurige kommer oor die salarisse en voordele wat aan uitvoerende bestuur en raadslede by SOE’s betaal word, insluitend instellings wat steeds van staatsreddingsboeie afhanklik is.
Opeenvolgende administrasies het probeer om vergoeding by SOE’s te reguleer, maar vorige salarisbeheermaatreëls het probleme met implementering ondervind.
’n Voormalige minister van finansies, Calle Schlettwein, het die beweerde ontbinding as ongelukkig beskryf en gesê die hersiening was nodig omdat SOE’s steeds aansienlike salarisse betaal ondanks swak finansiële prestasie.
“Ek het die eerste minister daarvoor geloof, dat hy so ’n dapper poging aangewend het om ’n span saam te stel. Groot salarisse word betaal, sonder prestasie. Trouens, die meerderheid SOE’s maak nie wins nie. Dus sal dit ’n ongelukkige voortsetting wees van wat ons reeds weet,” het hy gesê.
Kort nadat die taakspan aangestel is, het Schlettwein gewaarsku dat nóg ’n hersiening min sou bereik sonder streng implementering en breër strukturele hervormings.
Hy het gesê vorige pogings om openbare ondernemings te kategoriseer en perke op uitvoerende hoofde se vergoeding af te dwing, het misluk nadat sommige instellings herklassifikasie na hoër-betalende kategorieë gesoek het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie