Sewe voldoen nie aan gelyke indiensneming
Sewe werkgewers, insluitend die Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings in Namibië (Namfisa), AB InBev Namibia en Oshakati se dorpsraad staar moontlike boetes, gevangenisstraf of beide in die gesig.
Dit volg nadat hul verslae met betrekking tot regstellende aksie deur die kommisie vir diensbillikheid (EEC) afgekeur is, omdat dit nie aan die wet op regstellende aksie (indiensneming) voldoen het nie.
Die EEC se waarskuwing volg op die kommissie se jongste verhore deur die hersieningspaneel, wat van 24 tot 25 Junie in Windhoek gehou is.
Tydens die verhore is die verslae oor regstellende aksie van 11 werkgewers hersien. Vier werkgewers het voldoeningsertifikate ontvang, terwyl sewe se verslae verwerp is en finale bevele van nienakoming aan hulle uitgereik is.
Onder die sewe was Namfisa, wie se verslag afgekeur is, aangesien die finansiële reguleerder nie ’n Namibiese plaasvervanger in ’n gespesialiseerde aktuariële posisie aangestel het, wat deur Artikel 19(3) van die wet op regstellende aksie (indiensneming), vereis word nie.
Die EEC se hersieningsbeampte, Dominga Murenga, het tydens die verhoor gesê Namfisa het sy verslag in Februarie ingedien. Dit nadat die owerheid die proses vertraag het deur te vra vir ’n vrystelling van die vereiste vir ’n plaasvervanger.
Die vrystelling is volgens Murenga nie voor die sperdatum vir verslagdoening gefinaliseer nie, wat daartoe gelei het dat die verslag afgekeur is.
Murenga het aan die hersieningspaneel gesê Namfisa het voorheen ’n plaasvervanger vir sy aktuariële spesialis gehad, maar die persoon het in 2023 bedank. Die owerheid het intussen ’n beurs aan ’n aktuariële wetenskapstudent toegeken wat in Kaapstad studeer.
Volgens Namfisa het dit geen geskikte permanente werknemer om as ’n plaasvervanger op te lei nie.
“Die verslag is afgekeur omdat Namfisa Artikel 19(3) van die wet op regstellende aksie (indiensneming) oortree het,” het Murenga gesê.
Volgens haar het Namfisa-amptenare tydens ’n opleidingsessie oor regstellende aksie in Februarie aangedui hulle was nie bewus daarvan dat aansoek om ’n vrystelling gedoen moes word indien geen geskikte plaasvervanger aangestel kon word nie.
Die kommissie het die instelling vervolgens aangeraai om vir vrystelling aansoek te doen, maar die proses is vertraag terwyl daar op die evaluering van kwalifikasies deur die Namibië Kwalifikasieowerheid (NQA) gewag is.
Namfisa se adjunk- uitvoerende hoof vir markgedrag en bedrywighede, Johannes Smit, het aan die paneel die versekering gegee dat dit verbind bly tot gelyke indiensneming en vaardigheidsontwikkeling.
“Die kwessie voor die paneel is nie ’n huiwering om ’n plaasvervanger aan te stel nie, maar eerder die buitengewone skaarste aan gekwalifiseerde aktuarisse in Namibië,” het Smit gesê.
Volgens hom het Namfisa in beurse, nagraadse ontwikkelingsprogramme en aktuariële opleiding belê om plaaslike talent te ontwikkel. Werwingspogings word egter steeds gekortwiek deur ’n ernstige tekort aan aktuarisse. Smit sê die aansoek om vrystelling is eers in Februarie begin en is vertraag deur prosesse vir die verifikasie van kwalifikasies.
Buiten vir Namfisa, het die hersieningspaneel ook die verslae van die Oshakati-dorpsraad, die NovaNam-groep, City Lodge Hotels (Namibia) – wat as Town Lodge Windhoek handel dryf, Nutam Operations, AB InBev Namibia en die Outapi-dorpsraad afgekeur.
WETLIKE VEREISTES
Die kommissie het in ’n verklaring gesê die verslae wat verwerp is, het nie aan een of meer wetlike vereistes voldoen nie.
Dit sluit in die aanstelling van gekwalifiseerde Namibiese studente om die oordrag van vaardighede te fasiliteer, die raadpleging van werknemers tydens die voorbereiding en implementering van planne vir regstellende aksie, asook om tekortkominge wat tydens vorige oorsigte geïdentifiseer is, te takel.
“Die kommissie beklemtoon dat hierdie vereistes nie prosedurele formaliteite is nie, maar fundamentele verpligtinge wat ten doel het om betekenisvolle implementering van maatreëls vir regstellende aksie te verseker en gelyke werksgeleenthede in Namibië te bevorder,” sê die kommissaris vir die EEC, Otniel Podewiltz, in die verklaring.
Die EEC het gewaarsku dat, ingevolge die wet op regstellende aksie (indiensneming), ’n werkgewer wie se verslag oor regstellende aksie afgekeur word, geag word om nie aan die wet te voldoen nie.
“So ’n werkgewer pleeg ’n oortreding en kan, na skuldigbevinding deur ’n bevoegde hof, aanspreeklik gehou word vir ’n boete, gevangenisstraf, of beide ’n boete en gevangenisstraf, soos bepaal in die wetgewing,” het die kommissie gesê.
Die enigste werkgewers wat voldoeningsertifikate tydens die verhore verkry het, was Bon Okapuka Crusher CC, Benz Building Supplies, Nkasa Security Services CC en Tristone Business Trust.
Die kommissie het werkgewers aangemoedig om nakoming te versterk deur funksionele komitees vir regstellende aksie te stig, werknemers deur die hele proses te raadpleeg, doeltreffende inisiatiewe vir die oordrag van vaardighede te implementeer en tekortkominge wat tydens oorsigte geïdentifiseer is, vinnig te takel. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie