Sankwasa maan onwettige grondverkopers

Administrasie deur wet beheer
Die minister het tydens ’n gemeenskapsvergadering op Groot Aub gemaan geen individu het die wetlike gesag om kommunale of staatsgrond te verkoop nie.
Nikanor Nangolo

Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, het inwoners van Groot Aub teen die onwettige verkoop van grond gewaarsku. Sankwasa het daarop gewys enigiemand wat grond verkoop wat nie wettig aan hulle behoort nie, pleeg ’n misdaad en sal vir hul optrede verantwoording moet doen.

Hy het Dinsdag tydens ’n gemeenskapsvergadering op die nedersetting gesê geen individu het die wetlike gesag om kommunale of staatsgrond te verkoop nie.

Die minister het beklemtoon die administrasie van grond in Namibië word deur die wet beheer en nie deur individue wat wins uit openbare eiendom wil maak nie.

“Is dit waar dat daar individue is wat grond aan ander individue verkoop? Ek moet hul name weet, want jy kan net verkoop wat aan jou behoort. Jy kan nie verkoop wat nie joune is nie,” het Sankwasa benadruk.

Hy het inwoners daaraan herinner dat alle grond uiteindelik aan die staat behoort en deur wettig aangewese bewaarders bestuur word.

“Indien dit in ’n stedelike gebied is, is die bewaarder van daardie grond die plaaslike owerheidsraad. As dit in ’n kommunale gebied is, is die bewaarder die tradisionele owerheid. Geen individu het daardie verantwoordelikheid nie,” het hy gesê. 

Sankwasa het gesê diegene wat by onwettige grondtransaksies betrokke is, moet verwag om die gevolge van die wet te dra.

“As die grond nie aan jou behoort nie en jy verkoop dit, pleeg jy ’n misdaad. Jy sal rekenskap moet gee van hoe jy dit reggekry het om daardie grond te verkoop, hoe jy die grond bekom het wat jy verkoop, onder wie se gesag jy dit bekom het en ingevolge watter wet jy optree,” het hy gewaarsku.

Volgens Sankwasa word die land se administrasiestelsel vir grond duidelik deur wetgewing omskryf en laat dit geen ruimte vir private individue om openbare grond te verkoop nie.

“Wat grondbestuur in Namibië betref, word stedelike grond ingevolge die wet op plaaslike owerhede geadministreer en kommunale grond ingevolge die wet op kommunale grondhervorming.

“Kragtens albei hierdie wette het geen individu die gesag om kommunale of staatsgrond te verkoop nie,” het Sankwasa gesê.

Die minister het beklemtoon dat die wet ook grondgrype verbied.

“Hierdie wette laat ook nie toe dat enigiemand grond na willekeur gryp nie. Grond moet deur die korrekte aansoekproses toegeken word.”

Die opmerkings kom net twee weke nadat Sankwasa bewerings in die openbaar verwerp het dat hy gemeenskapsleiers van Groot Aub tydens ’n besoek aan Windhoek die koue skouer gegee het.

Hy is daarvan beskuldig dat hy ’n beloofde vergadering gekanselleer het om bestuurskwessies rakende Groot Aub met verteenwoordigers van die nedersetting te bespreek wat na Windhoek gereis het om met hom en Stad Windhoek (CoW) te vergader.

Volgens Sankwasa het hy die gemeenskap ná sy geskeduleerde vergadering met die stadsraad ontmoet en is dit verkeerd om te beweer hy het geweier om hulle te sien.

Die dispuut tussen inwoners en die munisipaliteit van Windhoek fokus op hul voortgesette eis dat Groot Aub afsonderlik van CoW bestuur moet word.

Volgens ’n verteenwoordiger van die gemeenskap, Cecil Titus, is die munisipaliteit nie in staat om die nedersetting voldoende te administreer nie. Inwoners het die regering versoek om ’n alternatiewe bestuurstruktuur te vestig wat Groot Aub in staat sal stel om sy eie ontwikkeling te bestuur.

Inwoners het gewaarsku hulle is van voorneme om die saak na beide die kantoor van die president en die kantoor van die eerste minister te neem indien geen oplossing gevind word nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer