SAFETY: Namib Desert Diamonds (NAMDIA) headquarters in Windhoek following a brazen armed robbery earlier this year.PHOTO CONTRIBUTED
SAFETY: Namib Desert Diamonds (NAMDIA) headquarters in Windhoek following a brazen armed robbery earlier this year.PHOTO CONTRIBUTED

Regte prosedure gevolg vir sekuriteitskonsultant

Binne wetlike en bestuursraamwerke
Namdia is daarvan beskuldig dat dit 'n persoon aangestel het wat geen kwalifikasies het nie en sonder om die nodige verkrygingsprosedure te volg.
Elizabeth Kheibes
Namib Desert Diamonds (Namdia) het "ongegronde" bewerings op sosiale media verwerp oor sy bestuurspraktyke en die aanstelling van 'n sekuriteitskonsultant ná 'n hoëprofiel rooftog vroeër vanjaar.

Dit volg nadat die aktivis en politikus Job Amupanda verlede week bewerings gemaak het dat die maatskappy 'n sekuriteitskonsultant aangestel het sonder om behoorlike prosesse te volg, en dat Namibië se diamantbronne in gevaar is weens twyfelagtige bande met 'n sekuriteitsmaatskappy wat in Angola werksaam is.

“Jy word hiermee in kennis gestel dat ons die saak van Namdia-bestuurskwessies, insluitend gesteelde diamante, ondersoek het. Hierdie snaakse raad van Namibië het 'n persoon as 'n sekuriteitskonsultant aangestel wat geen kwalifikasies het nie, sonder om verkrygingsprosedures te volg,” het Amupanda in 'n verklaring op sosiale media gesê.

Hy het ook vrae geopper oor Namdia se vorige gebruik van Neldan, 'n Namibies-geregistreerde sekuriteitsfirma met bedrywighede in Angola, wat volgens hom daarop dui dat deursigtigheid nodig is in oorgrensverbintenisse en rapporteringsfunksies van die maatskappy se alarmstelsels.

In reaksie hierop het Namdia op Vrydag 5 Julie 2025 'n formele verklaring uitgereik waarin hulle aanvoer alle stappe wat ná die "skaamtelose en verwoestende gewapende rooftog" geneem is, binne die wetlike en bestuursraamwerke was.

Volgens die maatskappy is sy opgradering van sy sekuriteit dringend en wettig geïmplementeer kragtens Namibië se openbare verkrygingswet wat noodverkryging in kritieke situasies moontlik maak.

“Hierdie maatreëls is dringend uitgevoer kragtens die openbare verkrygingswet wat noodverkryging in kritieke situasies toelaat. Alle besluite is geneem in die beste belang van die beskerming van personeel, produkte en persele, en in ooreenstemming met internasionale beste praktyke,” het Namdia gesê.

Die maatskappy sê voor die konsultant se aanstelling, is sekuriteitsdienste deur Neldan hanteer wie se kontrak tot ‘n "natuurlike einde" gekom het. Volgens Namdia het dit 'n gaping geskep wat die aanstelling van 'n spesialis genoodsaak het om sekuriteitsbedrywighede te stabiliseer.

Die maatskappy sê die konsultant is spesifiek deur die raad aangestel om “toesig te hou oor die onmiddellike implementering van nodige verbeterings” en by te dra tot 'n breër risikobeperkingsstrategie.

Namdia het egter nie in die verklaring Amupanda se bewerings oor die konsultant se kwalifikasies of familiebetrokkenheid aangeraak nie, maar net verwys na sensitiwiteit rondom sekuriteit en het beklemtoon dat die “welstand van werknemers ’n topprioriteit bly”.

Sedert die gewapende rooftog het Namdia aldus die verklaring professionele beradingsdienste aan geraakte personeel gebied en bly dit steeds verbind tot deursigtigheid en samewerking met wetstoepassers.

“Ons doen ’n beroep op die publiek en media om versigtig te wees en te verhoed dat hulle ongeverifieerde inligting versprei, aangesien dit wetstoepassingspogings kan benadeel,” het die maatskappy gemaan.

Namdia het sy waardering uitgespreek vir die Namibiese polisie se pogings en het verwys na "onlangse ontwikkelings in bykomende arrestasies" wat verband hou met die roofondersoek.

“Ons moet die Namibiese polisie die ruimte en tyd gee wat nodig is om 'n deeglike en onpartydige ondersoek uit te voer,” lui die verklaring.

Namdia sê dit sal voortgaan om amptelike opdaterings deur hul gemagtigde platforms te kommunikeer om waninligting en bespiegeling te vermy.

Beverley Coussement, woordvoerder van Namdia, het lede van die publiek aangemoedig om te wag vir geverifieerde inligting en toe te laat dat die proses sy gang gaan. “Bespiegelings, ongeverifieerde beskuldigings of pogings om die proses te beïnvloed, kan die nastrewing van geregtigheid ondermyn,” het sy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer