Regering mis sperdatum
Hoofredaksie - Die regering het daarin gefaal om Namibië se nasionale pensioenfonds en nasionale fonds vir mediese voordele in werking te stel – byna agt maande ná die sperdatum van 1 April 2026 wat deur president Netumbo Nandi-Ndaitwah gestel is.
Die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SCC) wag intussen steeds op assesserings om sy gereedheid vir die administrasie van dié fondse te bepaal.
Voorsiening vir die twee fondse is ingevolge die Maatskaplike Voorsorgwet van 1994 gemaak, maar dit is, meer as drie dekades later, nog nie geïmplementeer nie.
Die pensioenfonds is bedoel om aftreevoordele aan werkers te bied wat daarvoor kwalifiseer – veral diegene sonder voldoende pensioendekking – terwyl die mediese fonds mediese voordele aan kwalifiserende bydraers en begunstigdes sou verskaf.
Albei word beoog as bydraefondse wat deur betalings van werkgewers en werknemers, tesame met ander toegelate befondsingsbronne, gefinansier word.
Werknemers wat reeds aan goedgekeurde pensioen- of mediese fondse behoort, kan daarvan vrygestel word om by die ooreenstemmende nasionale fonds aan te sluit.
Die voorgestelde fondse is apart van die SSC se bestaande reëlings vir kraamverlof, siekteverlof en sterftevoordele.
Die minister van finansies, Ericah Shafudah, het verlede week aan die Nasionale Vergadering gesê die regering kan nie met die implementering voortgaan voordat die kommissie se tegniese, institusionele en finansiële kapasiteit vasgestel is nie.
“Met ander woorde, hulle moet eers tegniese assesserings doen voordat hulle hul gereedheid kan bevestig,” het Shafudah gesê.
Die minister het erken die sperdatum in April kon nie gehaal word nie, aangesien die regering eers moes vasstel of die SSC die fondse kan administreer, sonder om bestaande dienste of bestuursprosesse in gedrang te bring.
Sy het gereageer op vrae van Rosa Mbinge-Tjeundo, ’n parlementslid vir die Popular Democratic Movement (PDM), wat duidelikheid gesoek het oor die kommissie se kapasiteit, die beskerming van bydraers se geld en die reëlings vir die instelling van bydraes.
Die jongste poging om die fondse tot stand te bring, het begin nog voordat Nandi-Ndaitwah haar huidige amp aanvaar het.
Die destydse ministerie van arbeid, nywerheidsverhoudinge en werkskepping het die SSC op 16 Mei 2024 formeel opdrag gegee om met die nasionale pensioenfonds voort te gaan.
’n Verdere opdrag het op 12 Desember 2025 gevolg, toe die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Wise Immanuel, die kommissie kragtens ’n kabinetsbesluit opdrag gegee het om die nasionale fonds vir mediese voordele onverwyld in werking te stel.
Die opdrag het ook vereis die SSC moet sy gereedheid assesseer om verantwoordelikheid vir die administrasie van die staat se mediese fonds (Psemas) te aanvaar, ’n aparte reëling wat staatsamptenare en hul afhanklikes dek.
In Januarie 2026 het Nandi-Ndaitwah die implementeringsdatum van 1 April vasgestel, wat hernieude druk op die kommissie geplaas het om die voorbereidings vir beide fondse te voltooi.
Die SSC het vervolgens ’n vrystelling van openbare verkrygingsvereistes aangevra vir ’n fondsbestuurstelsel van N$43,8 miljoen, wat bedoel is om die pensioenfonds, mediese fonds en voorgestelde administrasie van Psemas te ondersteun.
Die ministerie van finansies het die versoek egter in Mei 2026 verwerp en gesê die kommissie het nie voldoende regverdiging verskaf waarom normale verkrygingsprosedures tersyde gestel moet word nie.
Shafudah het die SSC gevolglik opdrag gegee om saam met die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië te werk (CPBN) aan ’n implementeringsprogram vir verkryging.
ONOPGELOS
Shafudah het aan die parlement gesê konsultasies met die ministeries van finansies en justisie, tesame met die SSC, het die behoefte aan gespesialiseerde aktuariële, gesondheidsdienste-, administratiewe en regsassesserings geïdentifiseer.
Die bevindinge sou die vereistes vir die administrasie van die fondse bepaal en of die kommissie die bykomende verantwoordelikhede kon aanvaar.
Die minister het erken die regering is nog nie in staat om besonderhede te verskaf oor die reëlings vir beleggingsbestuur wat bedoel is om bydraers se geld teen politieke inmenging te beskerm nie. Volgens Shafudah sou dit van die assesserings afhang.
Mbinge-Tjeundo wou ook weet of bydraes geleidelik ingestel sou word en watter kriteria toekomstige verhogings sou bepaal.
“Vir nou kan ons dit weer nie bepaal nie. Ons moet wag totdat die grondwerk gedoen is,” het Shafudah gesê.
Volgens die minister sou die implementering aangepas word, indien die nodige stelsels en bestuursreëlings nie voldoende ontwikkel is nie. Dit terwyl konsultasies met belanghebbendes deur die ministerie van justisie en die SSC sou voortduur.
Die sperdatum wat misgeloop is, is reeds tydens konsultasies in September aan die regering, werkgewers, werknemers en die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) gekommunikeer.
Tydens die besprekings het die waarnemende uitvoerende direkteur van justisie, Aune Mudjanima, erken die presidensiële sperdatum het verstryk en die belangrikheid daarvan beklemtoon om die uitstaande werk te voltooi.
Deelnemers het aktuariële modellering, wetgewende hervormings en leemtes in indiensnemings- en verdienstedata as struikelblokke vir die instelling van die nasionale pensioenfonds geïdentifiseer.
Die aktuariële werk is daarop gemik om volhoubare bydraes en voordele te bepaal, terwyl wetgewende hervormings verantwoordelikhede sou verduidelik ten opsigte van die invordering van bydraes, die administrasie van voordele en toesig oor die fonds.
Shafudah het nie ’n hersiene implementeringsdatum, voorgestelde bydraekoerse, geprojekteerde ledetal of die geraamde koste vir die instelling van die twee fondse verskaf nie. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie