President open parlement Dinsdag

President Netumbo Nandi-Ndaitwah sal na verwagting die derde sitting van die agtste parlement amptelik op 3 Februarie open.

Die Speaker, Saara Kuugongelwa-Amadhila, het aangekondig dat die opening om 14:30 by die parlementsgebou onder die tema “Versterking van die rol van die parlement vir inklusiewe ontwikkeling en deelnemende demokrasie” sal plaasvind.

Dié belangrike geleentheid bring die drie arms van die staat – die uitvoerende gesag, wetgewer en regbank – bymekaar en sal gekenmerk word deur volle seremoniële eerbewyse, insluitend ’n erewag, ’n militêre parade en ’n 21-skoot geweersaluut.

Verskeie belangrike wetsontwerpe sal na verwagting tydens die parlementêre sitting ter tafel gelê word.

Dit sluit in die gewysigde wetsontwerp op staatsondernemings en bestuur, 2025; die gewysigde wetsontwerp op petroleum (eksplorasie en produksie), 2025; die wetsontwerp op grond; die wetsontwerp op geestesgesondheid; en die gewysigde wetsontwerp op streekrade.

Die wetsontwerp op openbare rekenmeesters en ouditeure, 2024, sowel as die gewysigde wetsontwerp op inkomstebelasting, 2024, moet ook nog ter tafel gelê word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer