President kritiseer opgeblase pryse
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het gewaarsku dat die regering nie opgeblase pryse in openbare verkryging sal duld nie.
Sy het gemaan dat buitensporige winsopslag deur tussengangers openbare besteding ondermyn en belangrike nasionale projekte vertraag.
In ’n voorafopgeneemde onderhoud op die NTV-geselsprogram The Agenda, wat gister uitgesaai is, het Nandi-Ndaitwah gesê dat, hoewel tussengangers ’n belangrike rol speel om die private sektor te laat groei, hulle goedere en dienste verantwoordelik moet prys.
“Ons is nie teen tussengangers nie,” het sy gesê, “maar hulle moet realisties wees”.
Die president het verskaffers gekritiseer wat pryse opblaas wanneer hulle met die staat handel dryf en gewaarsku dat sulke praktyke die regering se vermoë om noodsaaklike dienste te finansier, uitkalwe.
“Jy kan byvoorbeeld nie Panado vir N$2 koop en dit vir N$10 aan die regering verkoop nie. Jou winsmarge is eenvoudig te groot,” het sy gesê.
“As jy dit teen N$2 koop, verkoop dit dan vir N$4 of N$5, dan kan ons besigheid doen.”
Sy het gewaarsku: “Moenie die regering uitbuit tot op die punt waar ons nie in staat is om besparings te genereer om in maatskaplike sektore te belê nie.”
Sy het die sektore van onderwys, gesondheid en behuising as sleutelprioriteite genoem.
Nandi-Ndaitwah het gesê die regering sal nie huiwer om in te gryp as dié praktyk voortduur nie.
“As dit nie gestop kan word nie. . . kan ek ingryp. Ek sal geen keuse hê nie, want ek het ’n verantwoordelikheid om na die Namibiese mense om te sien.”
SLOER MET STADION
Intussen het sy ook die vertragings by die projek van die Onafhanklikheidstadio aangespreek wat al lank hoe lank sloer.
Die president het benadruk dat onkonsekwente tydlyne en teenstrydige verslae vordering belemmer het.
Sy het gesê die situasie het Namibiërs nie net die geleentheid ontneem om hul nasional spanne, asook die Brave Warriors, tuis te sien speel nie, maar het ook plaaslike borge geraak, wie se advertensiewaarde afneem wanneer wedstryde in die buiteland aangebied word.
“As ’n regering pak ons dit aan. ’n Kontrakteur is aangestel, maar ons hersien steeds die prysbepaling,” het sy bevestig.
“Hoe graag ek ook al wil hê die projek moet vorentoe beweeg, wil ek nie hê die nasie moet beroof word nie.
“Ons moet tevrede wees dat die pryse wat ons gevra word om te betaal, billik is.”
Vorige berigte dui daarop dat die projek daarop gemik is om die stadion in wêreldklas-sportgeriewe te omskep wat aan die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) se kategorie 3-standaarde voldoen, met ’n kapasiteit van 30 000 sitplekke.
Namibië het tans geen sokkerstadion wat deur óf CAF óf die Federasie vir Internasionale Sokkerverenigings (Fifa) goedgekeur is nie, wat nasionale spanne dwing om hul tuiswedstryde in die buiteland te speel.
Die land het die afgelope vyf jaar geen internasionale wedstryde aangebied nie weens onvoldoende infrastruktuur.
Ontwerpdokumentasie vir die projek is glo in Desember 2025 voltooi en aan CAF voorgelê vir ’n nakomingshersiening, terwyl bykomende dokumentasie aan Wêreldatletiek gestuur is vir beoordeling.
Berigte in 2024 het verder aangedui dat die aangestelde argiteksfirma meer as N$800 000 vir sy dienste betaal sou word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie