President Netumbo Nandi-Ndaitwah saam met Rössing-verteenwoordigers tydens haar eerste besoek aan die myn as president. Foto Namibiese Presidensie
President Netumbo Nandi-Ndaitwah saam met Rössing-verteenwoordigers tydens haar eerste besoek aan die myn as president. Foto Namibiese Presidensie

President doen beroep op mynbou om jeug te bemagtig

Moet ook billike opbrengste verseker
Netumbo Nandi-Ndaitwah het ook aangevoer dat nuwe werksgeleenthede meetbaar en uitkomsgerig moet wees.
Adam Hartman
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het mynbou-maatskappye aangemoedig om hulpbronne in tasbare voordele vir die land se arbeidsmag, jeug en plaaslike gemeenskappe te omskep.

Sy het dié beroep Saterdag tydens ’n besoek aan die Rössing-uraanmyn gedoen, wat gemik is op diensbillikheid, jeugbemagtiging, waardetoevoeging en billike opbrengste aan die Namibiese mense.

“Dit sal nie sake soos gewoonlik wees nie,” het die president gesê, met verwysing na haar verkiesingsmandaat ná verlede jaar se verkiesing en het onderneem om die beloftes van die Swapo-partymanifes te handhaaf.

“Ons het die verwerking van natuurlike hulpbronne as ’n sleutelkatalisator vir ekonomiese transformasie en werkskepping vir ons jeug geïdentifiseer,” sê sy.

Sy doen ’n beroep op die mynboubedryf om nie net as ’n ekonomiese dryfveer te dien nie, maar ook om maatskaplike ontwikkeling en nasionale waardigheid aan te dryf, veral vir die mense wat daar werk.

“Die mynboubedryf moet na sy werkers omsien, in terme van ’n leefbare loon, verblyf, gesondheidsorg en ’n pensioen wat hulle in staat moet stel om ’n waardige lewe te lei nadat hul produktiewe lewens tot ’n einde gekom het,” sê sy.

Terwyl Nandi-Ndaitwah Rössing geprys het vir die verlenging van die myn se bedrywighede van 2027 tot 2036, het sy breër hervormings aangemoedig, met besondere aandag aan hoe mynwinste versprei en in mensekapitaal herbelê word.

“Ons wil hê mynmaatskappye moet in ons jeug en in die plaaslike ekonomieë belê waar hulle bedrywig is,” sê sy.

Dit sluit die uitbreiding van toegang tot internskappe, beroepsopleiding, beurse en finansiële ondersteuning vir jeuggeleide besighede in.

“Ons kan gemeenskappe net op ’n volhoubare manier ophef as ons volhoubare werksgeleenthede en geskoolde werksgeleenthede kan skep wat ons gemeenskappe en ekonomie as geheel kan ophef en versterk,” sê sy.

Nandi-Ndaitwah het ook aangevoer dat nuwe werksgeleenthede meetbaar en uitkomsgerig moet wees.

“Aan die einde van hierdie jaar moet ek aan Namibiërs rapporteer oor nuwe werksgeleenthede wat geskep is. Ek vra dus die mynbousektor om saam met my te werk om aan ons mense se aspirasies te voldoen,” het sy aangemoedig.



BILLIKE HULPBRONBESTUUR

Steve Galloway, die voorsitter van Rössing Uranium se bestuursraad, het die regering se fokus op billike hulpbronbestuur verwelkom.

“Dit is gepas dat Namibië se hulpbronkapasiteit die aandag kry wat die nuwe kabinet daaraan gee en aan die regmatige eienaarskapseise van die Namibiese mense,” sê hy.

Hy het die langdurige debat getakel oor Namibië se deel van winste en huurgeld wat die staat toekom.

“Hierdie hulpbronhuur moet billik wees teenoor die eienaars van die hulpbron, die Namibiese mense en teenoor die beleggers wie se finansies en ander kapitaal in Namibië ontplooi word,” sê hy.

Hy het bygevoeg dat konsultasie met belanghebbendes en die globale maatstaf noodsaaklik is om ’n gebalanseerde uitkoms te bereik.

Hy het die afgelope vyf jaar onder die myn se nuwe meerderheidsaandeelhouer, China National Nuclear Corporation (CNNC), beskryf as van die bestes in die maatskappy se 49-jarige bestaan.

Rössing, het hy gesê, is daartoe verbind om met die regering te skakel om “wedersyds voordelige uitkomste vir alle belanghebbendes in ’n wen-wen-formaat te skep”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer