Presidensie verdedig tiener se heldestatus
Die presidensie het die toekenning van ’n nasionale heldstatus aan die 16-jarige Kornelius Shimuafeni verdedig.
Volgens die presidensie is Namibië se hoogste nasionale eerbewys nie voorbehou vir veterane van die vryheidstryd, politici of regeringsamptenare nie, maar ook om buitengewone dade van moed en onselfsugtigheid te vereer.
Shimuafeni, van die Omutundungu-nedersetting in die Omusatistreek, is dié status deur president Netumbo Nandi-Ndaitwah toegeken nadat hy sy lewe gewaag het om ’n nege maande oue tweeling te red wat na bewering in Mei deur hul ma in ’n dam gegooi is. Die ma is in hegtenis geneem en aangekla.
Shimuafeni se heldestatus het ’n debat ontketen oor die kriteria wat gebruik word om een van die land se hoogste vorme van nasionale erkenning te verleen en of buitengewone dade van dapperheid deur gewone Namibiërs hiervoor moet kan kwalifiseer.
Presidensiële woordvoerder Jonas Mbambo het gesê die nasionale eerbewysstelsel erken ook uitstaande bydraes wat buite die politieke sfeer gemaak is.
“Nasionale erkenning is nie beperk tot diegene wat aan die vryheidstryd deelgeneem, politieke ampte beklee of in die regering gedien het nie,” het Mbambo gesê.
Volgens hom kan mense wat uitstaande bydraes lewer op die gebiede van gesondheidsorg, onderwys, wetenskap, die sakewêreld, werkskepping en gemeenskapsdiens ook oorweeg word. Die aard en impak van hul bydrae bepaal watter nasionale eerbewys gepas is.
Mbambo het egter gewaarsku nie elke belangrike bydrae sal noodwendig vir ’n nasionale heldestatus in aanmerking kom nie.
“Nie elke belangrike bydrae sal noodwendig vir ’n nasionale heldestatus kwalifiseer nie, maar dit kan erken word deur ’n ander nasionale orde of medalje,” het hy gesê.
In Shimuafeni se geval het Mbambo gesê die tiener se optrede het die soort buitengewone moed en onselfsugtigheid getoon wat nasionale erkenning kan regverdig.
“Heldestatus word nie deur ouderdom, sosiale status of politieke affiliasie bepaal nie. Hy het sy eie lewe gewaag om twee babas van verdrinking te red. Dit was ’n buitengewone daad van moed en onselfsugtigheid in die openbare belang,” Mbambo gesê.
Die toekenning van nasionale eerbewyse word deur Namibië se Grondwet en die Wet op die Toekenning van Nasionale Eerbewyse van 2012 gelei, wat die president magtig om nasionale eerbewyse toe te ken.
Mbambo het gesê die president mag die raadgewende komitee oor nasionale eerbewyse en ander relevante persone of instellings raadpleeg voordat sy ’n besluit neem. Die finale gesag berus egter by die president.
Die wet maak nie voorsiening vir ’n formele openbare aansoekproses spesifiek vir nasionale heldestatus nie.
Mbambo het egter gesê lede van die publiek, gemeenskappe en organisasies kan verdienstelike individue onder die aandag van die presidensie, die ministerie verantwoordelik vir veteranesake of ander relevante owerhede bring.
“Die wet stel nie ’n formele openbare aansoekproses vir ’n nasionale heldestatus uiteen nie,” het hy gesê.
Volgens Mbambo moet aanbevelings voldoende verduidelik wat die persoon gedoen het en waarom die bydrae nasionale erkenning verdien. Om aanbeveel te word, beteken egter nie outomaties dat die individu die eerbewys sal ontvang nie.
Mbambo het ook verduidelik dat ’n nasionale heldestatus nie outomaties met ’n salaris, pensioen of ander standaard-finansiële voordeel vir die ontvanger of hul gesin gepaardgaan nie.
“[Die] status is bowenal een van die land se hoogste vorme van erkenning en dankbaarheid,” het hy gesê.
Hy het gesê ’n staatsbegrafnis of teraardebestelling by die Nasionale Heldeakker kan in sommige gevalle toegestaan word, maar dit is afsonderlike eerbewyse en word nie outomaties aan ’n nasionale heldestatus gekoppel nie.
In 2024 het die regering ’n versoek om ’n amptelike begrafnis vir Tomas Iindji verwerp en gesê hoewel die geëerde bankier se bydrae prysenswaardig was, dit “die standaard sou verlaag” om hom met so ’n begrafnis te vereer.
Die voormalige goewerneur van Oshana, Elia Irimari, het ’n brief aan die afdeling vir veteranesake in die ministerie van verdediging en veteranesake geskryf waarin hy ’n versoek deur Iindji se vriende en familie uitgespreek het dat die veteraanbankier ’n amptelike begrafnis moet ontvang.
VRAE
Die politieke ontleder dr. Ndumba Kamwanyah het gesê hy ondersteun Shimuafeni se erkenning, maar glo die saak laat vrae ontstaan oor of soortgelyke dade van dapperheid konsekwent behandel is.
“Ek ondersteun die erkenning van Cornelius Shimuafeni se dapperheid. Ek glo egter dat konsekwentheid belangrik is,” het Kamwanyah gesê.
Hy het verwys na die geval van ’n vrou in Kavango-Oos wat haar man uit die kake van ’n krokodil gered het, maar nie soortgelyke erkenning ontvang het nie.
“Dit laat vrae ontstaan oor konsekwentheid in hoe heldedom beoordeel word,” het hy gesê.
Kamwanyah het gesê Namibië benodig duidelike en goed gedefinieerde kriteria vir die toekenning van heldestatus. Hy het aangevoer dat sodanige kriteria die vlak van moed wat betrokke is, die risiko vir die individu se eie lewe, die omstandighede van die daad en die breër betekenis van die bydrae in ag moet neem.
“Dit is belangrik om dapper dade te erken, maar ons moet verseker dat die proses billik, deursigtig en konsekwent is sodat die betekenis van nasionale heldestatus nie verwater word nie,” het hy gesê. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie