President Netumbo Nandi-Ndaitwah. Foto Namibian Presidency
President Netumbo Nandi-Ndaitwah. Foto Namibian Presidency

Pos van adjunk- eerste minister vakant

Geen rede verskaf vir Ithete se afdanking
Nikanor Nangolo
Die presidensie het bevestig dat president Netumbo Nandi-Ndaitwah net as minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling sal dien en nie ook as adjunk- eerste minister nie. Dié pos bly tot verdere kennisgewing vakant. Dit volg nadat Nandi-Ndaitwah Sondag vir Natangwe Ithete met onmiddellike effek uit sy posisies as adjunk- eerste minister en minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling ontslaan het.

Die aankondiging is deur middel van ‘n verklaring gemaak wat uitgereik is deur die presidensiële mediasekretaris Jonas Mbambo, wat gesê het die besluit is geneem in ooreenstemming met Artikel 32(6) van die Grondwet.

“President Nandi-Ndaitwah het, in ooreenstemming met Artikel 32(6), 'n uitvoerende besluit geneem om Ithete met onmiddellike effek van sy pligte as adjunk- eerste minister en minister te onthef,” het Mbambo gesê. Geen rede is van presidentskant vir die besluit gegee nie.

Mbambo het wel die versekering gegee dat sake soos normaal by die ministerie voortgaan.

“Alles gaan voort in lyn met die Nasionale Ontwikkelingsdoelwit 6 (NDP6) wat dien as die strategiese kompas van die 8ste administrasie. Die ministerie het 'n bekwame span om deurlopende programme uit te voer. As 'n ministerie verantwoordelik vir myne, energie en nywerheidsontwikkeling word baie van hulle verwag in lyn met die president se 'Business Unusual'-filosofie, wat dringendheid, verantwoordbaarheid en innovasie vereis om Namibië se ekonomiese transformasie te dryf,” het hy Maandag aan Network Media Hub (NMH) gesê.

Na Ithete se ontslag die naweek het Nandi-Ndaitwah gister met die bestuur en personeel van die ministerie vergader om hulle in te lig oor onlangse ontwikkelinge binne die ministerie.

Tydens die vergadering het president Nandi-Ndaitwah die personeel ingelig oor haar besluit om Ithete van al sy pligte te onthef. Sy het beklemtoon dat die werk van die regering, ten spyte van die verandering, sonder onderbreking moet voortgaan.

Nandi-Ndaitwah het aan die personeel gesê sy neem persoonlik tot verdere kennisgewing verantwoordelikheid vir Ithete se ministeriële pligte. “Wees trots op wat julle doen en doen dit met dringendheid, dissipline en integriteit. Wees verantwoordelik, nie net gemaklik nie. As personeel van hierdie ministerie verwag ek dat julle sal fokus, verstaan wat julle werk behels en dit na die beste van julle vermoë sal uitvoer,” het sy gesê.

Die leier van die Landless People’s Movement (LPM), Bernadus Swartbooi, het tydens ‘n mediakonferensie gister die redes vir die skielike afdanking van Ithete bevraagteken.

“Dis 'n swaar verantwoordelikheid. Wat kon in net ses maande verander het? Wat kon verskuif het? Ons verdien om dit te weet. Jy kan nie mense in die openbaar aanstel, vir ons sê jy het vertroue in hulle, en hulle dan privaat afdank en sê dis tussen julle nie. Dit is nie 'n private maatskappy nie. Dit is nie die president se private maatskappy nie,” het hy gesê.

“Ja, jy wil dalk die integriteit van besigheid beskerm, geen probleem nie. Ons verstaan dit. Maar daar is maniere om te kommunikeer en die publiek te vertel wat gebeur het. Ons wil weet: as dit 'n kwessie van growwe wangedrag was, regverdig dit verdere regsondersoek? As dit 'n kwessie van korrupsie was, regverdig dit ook verdere ondersoek. Maar wat presies het gebeur? Tot watter mate? As dit 'n kwessie van korrupsie is, en ek sê nie dit is nie, dan moet ons weet,” het hy gesê.

Ithete is die tweede minister wat in slegs sewe maande van die huidige administrasie van sy pligte onthef is.

Die voormalige minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Mac-Albert Hengari, is afgedank nadat hy daarvan beskuldig is dat hy vyf jaar gelede 'n 16-jarige meisie glo verkrag het. Hy is in hegtenis geneem nadat hy volgens die polisie na bewering probeer het om die slagoffer om te koop om die saak teen hom terug te trek. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer