FOTO TER ILLUSTRASIE/Facebook
FOTO TER ILLUSTRASIE/Facebook

Ouditverslag: Tekortkominge by goudmyne

Glo geen titelaktes
Die finansminister sê hoewel Namibië twee operasionele goudmyne het, goud tans nie as 'n reserwebate gehou word nie.
Brigitte Weidlich
Die ouditeur-generaal, Junias Kandjeke, het beduidende tekortkominge by Namibië se goudmyne gevind, insluitend gapings in bewyse van grondeienaarskap by die myne en swak toesig deur die betrokke ministerie.

Volgens die oudit vir die tydperk April 2020 tot Maart 2023, is verskeie veranderinge – insluitend in maatskappyname, adresse, direkteure, aandelekapitaal en begunstigde eienaarskap met betrekking tot eksklusiewe prospekteerlisensies (EPL’s) 999, 2410, 3739, 4309 en 5658 – nie binne die statutêre tydperk van 30 dae aan die mynkommissaris gerapporteer nie.

Sommige mynmaatskappye het volgens Kandjeke op private grond gewerk sonder om die vereiste vrywaringsooreenkomste of kwytskeldings by die destydse ministerie van myne en energie in te dien in ooreenstemming met artikel 52(1) van die mineralewet.

“Alhoewel die maatskappye beweer het dat hulle die grond waarop mynboubedrywighede plaasgevind het, besit, het hulle nie titelaktes voorgelê nie,” lui die ouditeur-generaal se verslag.

“Die versuim om die vereiste dokumente te lewer, verswak regeringstoesig en kan lei tot monopolistiese grondbeheer, mededinging verminder en moontlik belegging ontmoedig,” het Kandjeke gesê.

Op sy versoek het die ministerie verklaar dat die goudmaatskappye die grond besit waarop mynbou uitgevoer word.

“Die ministerie het egter geen bewyse van hierdie eienaarskapseise soos titelaktes verskaf nie,” lui die verslag.

Die oudit het ook onreëlmatighede in die hernuwing van EPL’s aan die lig gebring.

Volgens die verslag het QKR Namibia Navachab Gold en B2Gold Namibia nie die opleiding van Namibiese werknemers uitgevoer of gerapporteer soos deur die wet vereis word nie.

“Beide maatskappye het nie voldoende bewyse verskaf van hul samewerking met ander belanghebbendes om die oordrag van kennis en ontwikkeling van mynbouverwante tegnologieë te ondersteun soos vereis deur artikel 50(e) van die wet nie.”

Kandjeke het gesê: “Hierdie oudit ontbloot diep krake in die regulatoriese stelsel en die afdwinging daarvan. Hervormings is nodig om die geloofwaardigheid daarvan te herstel en beide hulpbronne en burgers te beskerm.”

Hy het ook aangedui dat ses uit 13 lisensies, insluitend dié van QKR Navachab Gold, B2Gold Namibia en Osino Resources, verleng is tot na die statutêre maksimum van sewe jaar. Sommige lisensies is vir tot 28 jaar verleng sonder die ministerie se goedkeuring.



FINANSMINISTER

Intussen het die minister van finansies, Ericah Shafudah, gesê Namibië hou tans nie goud as deel van sy buitelandse of valutareserwebates nie.

Sy het in die Nasionale Vergadering gereageer het op ’n vraag van die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), McHenry Venaani, wat internasionale bronne aangehaal het wat verklaar het dat Namibië een van die lande met groot goudreserwes is, saam met die Verenigde State van Amerika en ander lande wêreldwyd, insluitend dié in Afrika.

Shafudah het dié bewering verwerp en verduidelik hoewel Namibië twee operasionele goudmyne het, goud tans nie as ’n reserwebate gehou word nie.

“Hierdie maatskappye het in 2024 goud geproduseer. B2Gold het byvoorbeeld na raming 198 000 onse geproduseer, terwyl Navachab ’n geskiedkundige produksie van ongeveer 130 000 onse aangeteken het.

“Omdat ons bewus is dat goud ’n strategiese reserwebate is, het die Bank of Namibia ’n studie gedoen oor of goud deel van die buitelandse valutareserwebates moet word.

“Die uitkoms van daardie studie moet nog met die Bank of Namibia bespreek word, aangesien ons die implikasies moet beoordeel,” het sy gesê.

Shafudah het bygevoeg dat lande wat goud as deel van hul buitelandse valutareserwebates het, toegang tot goudsurplusse en “alles het”.

“Maar vir nou gaan ons versigtig te werk. Wat ons tans in Namibië het, is ander instrumente wat ewe doeltreffend is.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer