ACC se direkteur-generaal Paulus Noa. FOTO Eliot Ipinge
ACC se direkteur-generaal Paulus Noa. FOTO Eliot Ipinge

Noa: ACC werk op bewyse, nie vendettas

Eliot Ipinge

Die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) sal nie ongegronde bewerings of aansprake ondersoek wat in persoonlike vendettas en gerugte gewortel is nie. 

“Wat die ACC nooit sal doen nie is om op te tree op bewerings wat op blote duimsuigery, karaktermoord, heksejag en al daardie bewerings berus wat nie deur bewyse ondersteun word nie,” het sy uittredende direkteur-generaal, Paulus Noa, verlede week gesê.

Noa, wie se termyn na verwagting vandeesmaand eindig, het beklemtoon dat, hoewel die kommissie daartoe verbind bly om korrupsie uit te roei en “sonder vrees of guns” op te tree, ondersoeke deur geloofwaardige bewyse gelei moet word.

Die ACC-hoof het die opmerkings verlede week tydens ’n konsultasie oor die nasionale teenkorrupsiestrategie en die nasionale etiek- en teenkorrupsiebeleidsraamwerk op Rundu gemaak.

“Ons het ook bewerings van korrupte praktyke ondersoek en waar bewyse gevind is wat die bewerings staaf, is daar sonder vrees of guns opgetree. Ons gaan voort om dit met vasberadenheid te doen,” het Noa gesê.

Terselfdertyd het hy gewaarsku dat die verwerping van onbevestigde bewerings nie met toegeeflikheid verwar moet word nie.

“Waar bewerings deur bewyse gestaaf is, maak nie saak hoe groot of klein die verdagte mag wees nie, maak nie saak hoe lank dit mag neem om ondersoeke af te handel nie, wanneer die tyd aanbreek, sal ons op die skuldiges toeslaan,” het hy gesê.

Noa het bygevoeg dat korrupsie dikwels verkeerd verstaan word as gedrag wat tot sake beperk is wat in die hof beland. Hy het gesê baie skadelike praktyke binne openbare instellings floreer deur nalatigheid, misbruik van gesag en swak administrasie.


"BOSE VERSKYNSEL"

“Korrupsie is ’n breër bose verskynsel en dit word op verskillende maniere en met verskillende middele gepleeg.”

Hy het gesê amptenare wat met openbare verantwoordelikhede toevertrou word, maar versuim om dienste te lewer terwyl hulle steeds salarisse ontvang, verswak bestuur en openbare vertroue.

“Wanbestuur van hulpbronne. Nalatigheid. Jy kry die verantwoordelikheid om die kantoor te bestuur, maar in plaas daarvan verwaarloos jy dit net en lewer nie diens aan die mense nie,” het hy gesê.

“Jy word vergoed vir die diens wat jy nie lewer nie, maar dit kry dalk nie noodwendig sy dag in die strafhof nie.”

Noa het ook korrupsie beskryf wat in administratiewe besluite ingewortel is, veral die misbruik van slypskole en opleidingsgeleenthede.

“Het julle dit nie gesien nie? Mense wat vir opleiding gaan wat nie relevant is vir wat hulle doen nie.” 

Hy het gesê sommige bestuurders keur slypskole en opleidingsgeleenthede vir vriende of voorkeurwerknemers goed, ondanks dat sulke programme min relevansie vir hul pligte het, grootliks om toelaes te verseker of vir persoonlike voordeel.

“Jy wys iemand aan omdat hy jou vriend is en jy wil hê jou vriend moet daarby baat vind en jy indirek ook,” het Noa gesê.

“Jy wys hierdie persoon aan, maar die soort opleiding wat daar aangebied word, het niks te doen met die departement waar daardie persoon werksaam is nie. Dit is korrupsie.”


WERWINGSPRAKTYKE

Hy het kommer uitgespreek oor werwingspraktyke en gesê begunstiging en nepotisme ondermyn steeds billikheid binne instellings.

“Jy regverdig met alle middele waarom hierdie een aangestel word en nie die ander een nie wat die beste kandidaat in die werwingsproses was,” het hy gesê.

“Dit is die slegste soort korrupsie.”

Terwyl hy erken het dat sommige van hierdie praktyke nie noodwendig tot strafregtelike vervolging lei nie, het Noa gesê instellings het ’n verantwoordelikheid om administratief in te gryp voordat wangedrag groei.

Benewens handhawing het Noa beklemtoon dat die stryd teen korrupsie ’n gedeelde nasionale verantwoordelikheid is, eerder as die uitsluitlike mandaat van die ACC.

“Dit is ’n nasionale strategie waar sekere bedrywighede of take aan alle instellings toegeken kry,” het hy gesê.

“’n Nasionale korrupsiestrategie kan nie in isolasie van die res van die samelewing ontwikkel word nie, wat uiteindelik deur die implementering daarvan geraak sal word,” het hy gesê.

“Dit vereis daarom konsultasie, samewerking en koördinering met alle belanghebbendes.”

Die byeenkoms op Rundu vorm deel van konsultasies om die derde nasionale teenkorrupsiestrategie en aksieplan vir 2026-’30 te ontwikkel, ná die verstryking van die vorige raamwerk in Maart.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-05-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer