NHE kry boeke (uiteindelik) op datum

Augetto Graig
Die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE) se boeke is vir die eerste keer in sewe jaar op datum. Die NHE se uitvoerende hoof Gisbertus Nukulu het Vrydag tydens die onderneming se jaarvergadering die nuus aan die minister van stedelike en landelike ontwikkeling Erastus Uutoni oorgedra.

“Ons was agter met ons finansiële state, maar hierdie is ‘n bewys dat ons nou op datum is,” het Nukulu gesê. NHE se raadsvoorsitter Toska Sem het ook die jaarverslae vanaf 2017 tot 2023 aan Uutoni oorhandig. Volgens hom is hy dankbaar dat sy stryd om die onderneming sedert 2020 aan die gang te hou sodoende geregverdig is.

“Die finansiële kommmer is iets van die verlede. Die onderneming is nou op ‘n gesonde finansiële grondslag en met toegang tot genoeg lenings om kontant te kan verkry. Ek dink ons kan beweeg en ons kan voortsukkel. NHE moet ‘n instelling wees om mee rekening te hou. Ek wil hê julle moet hervorm en innoveer. Die teiken is gestel vir 1 500 huise ‘n jaar, maar ek wil hê julle moet meer doen,” het Uutoni gesê. Volgens hom soek soek hy goedkoper huise van die NHE en wel vanaf N$150 000 tot N$250 000, eerder as dié met ‘n waarde van N$500 000 wat vroeër voorsien is.

“Iemand wat selfs tot N$40 000 ‘n maand verdien, sukkel om ‘n huis van N$400 000 of N$500 000 te bekostig. Ek wil hê julle moet daarop fokus,” het die minister gesê.

Die adjunkminister van finansies en staatsondernemings Maureen Hinda-Mbuende was egter baie meer krities oor NHE se onlangse prestasies, ten spyte van die feit dat sy voorheen in diens van die staatsonderneming was.

“Die vertraging in finansiële verslaggewing wat ons die afgelope sewe jaar ondervind het, was ‘n bron van kommer,” het Hinda-Mubuende gesê.

“Ek verstaan die frustasies van aandeelhouers, die publiek, kliënte en dies meer. Daar is verskeie redes vir hierdie vertragings. Kwessies oor nalatenskap, insluitend verouderde finansiële stelsels, verskuiwende ekonomiese beleide en strukturele hervorming het ‘n omgewing geskep waarin tydsame verslaggewing moeilik was,” het sy gesê.

NHE staar steeds uitdagings met betrekking tot likwiditeit in die gesig, wat die onderneming se vermoë belemmer om uitdagings te oorleef en steeds huidige laste te dek, het sy gemaan. Hinda-Mbuende het ook gewaarsku die ondoeltreffende bestuur van koste moet onmiddellik aandag geniet. NHE het volgens haar ‘n hoë risiko met betrekking tot die koers van sy skuld teenoor inkomste.

“Teen die huidige koers van die invordering van kontant sal dit jare neem om genoeg in te vorder om al die skulde te delg.” Uitgawes oorskry die afgelope drie jaar die NHE se wins, met gevolglike verliese van N$34,4 miljoen in 2021, N$87,7 miljoen in 2022 en meer as N$38 miljoen verlede jaar. Hinda-Mbuende sê dit belemmer gevolglik ook die onderneming se vermoë om meer behuising aan die mark te bied.

NHE kon die afgelope sewe jaar slegs 1 056 huise beskikbaar stel. Dit teenoor ‘n teiken van 5 000 en wat “meer as 70% onder die verwagting” is.

Die adjunkminister het ook gewaarsku dat bedryfsuitgawes in toom gehou en gereelde oudits gedoen moet word, terwyl beter bestuur met versterkte finansiële beheer, verslaggewing en nakoming nodig is. Sy het die werk geloof wat gedoen is om NHE se finansiële state weer op datum te bring en gesê dit skep ‘n ware prentjie van die onderneming wat die moontlikheid vir groter belleging verbeter.

Hinda-Mbuende en Uutoni was dit eens dat dat Namibië se agterstand in behuising moontlik oordrewe is en het gevolglik ‘n beroep gedoen vir die ministerie om saam met Namibiese Statistiekagentskap (NSA) te werk om die werklike agterstand vas te stel. Verlede jaar het die Wêreldbank Namibië se agterstand in behuising op 300 000 huise beraam. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer