Die eerste minister, dr. Elijah Ngurare. Foto kantoor van die eerste minister
Die eerste minister, dr. Elijah Ngurare. Foto kantoor van die eerste minister

Ngurare teiken korrupsie met hervormings in aankope

Fokus op eenheid, meritokrasie en doeltreffende dienslewering
Die eerste minister het beklemtoon indien die huidige wetgewing nie meer die openbare belang dien nie, dit dringend gewysig moet word. Enige korrupsie of manipulasie binne die stelsel, het hy gewaarsku, sal beslis hanteer word.
Elizabeth Kheibes
In sy eerste sleuteltoespraak as eerste minister, het dr. Elijah Ngurare ingrypende hervormings aan Namibië se openbare verkrygingstelsel belowe.

Dié hervormings staan aan die middelpunt van die regering se stryd teen korrupsie en ondoeltreffendheid, terwyl dit fokus op die bevordering van aanspreeklikheid en inklusiewe ekonomiese groei.

Ngurare het verlede week tydens ’n hoëvlakvergadering met senior staatsamptenare by die kantoor van die eerste minister sy visie uiteengesit vir ’n mensgerigte regering wat op eenheid, meritokrasie en doeltreffende dienslewering gefokus is.

Met uitvoerende direkteure van verskeie ministeries teenwoordig, het hy reguit gepraat oor die dringende behoefte om verouderde stelsels te moderniseer en “burokratiese struikelblokke” wat ontwikkeling belemmer, uit die weg te ruim.

Hy het sy tyd as die sekretaris van Swapo se jeugliga in 2008 in herinnering geroep en die omstrede droogtehulptender van N$200 miljoen – wat aan ’n handjievol invloedryke maatskappye toegeken is – as ’n keerpunt genoem.

“Die minderbevoorregtes (the downtrodden), wat vir die regering stem, was van die verkrygingsvoordele van die regering uitgesluit,” het hy gesê.

“Die Wet op Openbare Verkryging van 2015 is nie ingestel om ’n struikelblok of ’n verskoning vir vertragings te word nie. Dit was bedoel om die lewens van ons mense beter te maak.”

Hy het beklemtoon indien die huidige wetgewing nie meer die openbare belang dien nie, dit dringend gewysig moet word. Enige korrupsie of manipulasie binne die stelsel, het hy gewaarsku, sal beslis hanteer word.

“As korrupsie endemies in die verkrygingstelsel is, sal ons vinnig reageer en sulke skuiwergate toemaak wat die vertroue van die mense in hul regering wegvreet.”



BEMAGTIG PLAASLIKE GEMEENSKAPPE

Ngurare het ook gevra vir ’n verskuiwing na plaaslike, gemeenskapsgerigte verkryging.

Hy het ’n beroep gedoen om vroue, die jeug en landelike entrepreneurs in openbare tenders te prioritiseer – veral in sleutelsektore soos onderwys en gesondheid.

“Ons wil sien dat vroue en die jeug wat naby ’n openbare instelling soos ’n skoolkoshuis woon, diegene is wat daardie skool van kos voorsien,” het hy gesê.

“Waar die kapasiteit nie bestaan nie, moet ons dit skep.”

Hierdie model, het hy gesê, kan werkskepping ontsluit, die landbou moderniseer en streekontwikkeling aandryf.

Hy het die ministeries aangemoedig om kleinskaalse boere te ondersteun met toegang tot water, gereedskap en opleiding.

“Die oplossings vir ons uitdagings bestaan hier op aarde, nie op Mars nie.”



NEPOTISME

Deur breër staatsdienskwessies te takel, het die eerste minister nepotisme, begunstiging en korrupsie in aanstellings- en verkrygingspraktyke ten sterkste veroordeel.

Hy het verslae aangehaal van vooraf gereëlde aanstellings en tenders wat toegeken is voordat verkrygingskomitees formeel byeengekom het.

“Laat ons hierdie bedreiging in ons samelewing afbreek,” het hy gesê.

“Bevoegdheid, harde werk en onbaatsugtige diens moet beloon word – nie korrupsie, nepotisme en ander vorige neigings nie.”

Hy het die belangrikheid van onpartydigheid in die staatsdiens beklemtoon.

“Geen staatsamptenaar moet individue bevoordeel op grond van persoonlike, stam- of streekbande nie. Ek moet omring word deur ’n kaleidoskoop van alle Namibiërs. Namibië se hulpbronne moet alle Namibiërs bevoordeel.”

Ngurare het afgesluit deur staatsamptenare te bedank vir hul toewyding en hulle aangemoedig om te help bou aan ’n positiewe, inklusiewe werkskultuur. Hy het herhaal dat beide staatsamptenare en burgers trots op die staatsdiens moet wees.

“Ons moet te alle wesenlike tye dienaars van die Namibiese mense wees,” het Ngurare gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer