President Netumbo Nandi-Ndaitwah tydens haar aankoms by haar staatsrede by die Nasionale Vergadering in April. FOTO ARGIEF
President Netumbo Nandi-Ndaitwah tydens haar aankoms by haar staatsrede by die Nasionale Vergadering in April. FOTO ARGIEF

Net een uit sewe wetsontwerpe aanvaar

Rubberstempel vs. noukeurige bestudering
Die jaar se eerste sitting van die parlement het sewe wetsontwerpe gehad om te bespreek voordat dit met reses gaan.
Wonder Guchu

Die parlement het vir sy middeljaar-reses verdaag nadat net een van die sewe wetsontwerpe – die wetsontwerp op geestesgesondheid – wat voor die Nasionale Vergadering gedien het, aanvaar is.

Dit volg enkele maande nadat president Netumbo Nandi-Ndaitwah wetgewers tydens die opening van die agste parlement se eerste sitting aangespoor het om wetgewing as ’n sleutelpilaar van haar administrasie te prioritiseer.

Dit het die wetsontwerp op grond (2025), die wetsontwerp op geestesgesondheid (2025), die wysigingswetsontwerp op petroleum (eksplorasie en produksie), die wysigingswetsontwerp op die bestuur van staatsondernemings, die wysigingswetsontwerp vir streekrade, die wetsontwerp op openbare rekenmeesters en ouditeurs en die wysigingswetsontwerp op inkomstebelasting ingesluit.

Imms Nashinge, die leier van die amptelike opposisie in die parlement, het gesê dit is die parlement se verantwoordelikheid om wetgewing te verbeter voordat dit goedgekeur word.

Hy het aangevoer dat parlementslede (LP’s) verkies is om Namibiërs se belange te verteenwoordig en nie bloot elke wetsontwerp moet onderskryf nie.

“Ons stem almal in beginsel saam met grondhervorming, maar ons het ons bydraes ingedien. Die wetsontwerp sê buitelanders wat grond besit, moet tot ’n einde kom, maar dit moet ook die ongelykheid tussen kommunale en kommersiële boerdery takel,” het hy gesê.

Nashinge het ook die wysigingswetsontwerp op streekrade en die wysigingswetsontwerp op die bestuur van staatsondernemings gekritiseer en gesê dit het te veel mag binne die uitvoerende gesag gesentraliseer sonder voldoende verantwoordbaarheid.

Hy het aspekte van die wetsontwerp op geestesgesondheid bevraagteken en gesê dat dit die werklikhede waarmee mense met ernstige geestesongesteldhede saamleef, beter moet aanspreek.


VRAAG

Die senior parlementslid van die Landless People’s Movement (LPM), Utaara Mootu, het gesê die parlement se versuim om wetgewing te aanvaar, weerspieël breër kommer oor hoe die Huis bestuur word.

Sy het kritiek uitgespreek oor beperkings wat tydens vraetyd op parlementslede geplaas word en gesê dat dit die parlement se toesighoudende rol verswak.

“Die manier waarop die Huis bestuur word, word ’n bron van kommer. As lid sou ek verskeie vrae vra en tydens Speaker Peter Katjavivi se ampstermyn het hy selfs grappe gemaak oor ’n koffie-afspraak wanneer lede baie vrae gevra het.

“In hierdie geval word ons gevra om slegs een vraag te vra. Nou speel ons Mickey Mouse oor watter kwessie ek ’n vraag moet vra,” het Mootu gesê.

Volgens haar loop die parlement die risiko om “’n rubberstempel-Huis” te word as die noukeurige bestudering ingekort word.

Oor die wysigingswetsontwerp op petroleum, sê Mootu dis die “enigste wetsontwerp waarteen ons gekant is, as gevolg van baie korrupsie wat daarmee gepaardgaan”. 

“Hoe kan ek so iets ondersteun? Petroleum is ons natuurlike hulpbron. Dit is nie iets waarmee ons kan speel nie. Kyk na wat in lande soos Nigerië gebeur. Ons wil nie hê dieselfde ding moet hier gebeur nie,” het sy gesê.


‘BAIE MIN TYD’

Die parlementslid van die Affirmative Repositioning (AR), George Kambala, het op sy beurt die stadiger pas van die parlement verdedig en aangevoer dat vorige wetgewers dikwels wetsontwerpe deurgedruk het sonder dat dit deeglik bestudeer is.

“Daarom vind jy dat die meeste van die wetsontwerpe wat in die verlede aangeneem is, probleme met weglatings (oversight) het en die Grondwet weerspreek. Ons hooggeregshof het beslis dat sommige wetsontwerpe ongrondwetlik was,” het hy gesê.

Kambala het aangevoer dat die parlement nou wetgewing deegliker bestudeer voordat dit toegelaat word om voort te gaan. Hy het die wetsontwerp op geestesgesondheid as voorbeeld genoem en gesê dat opposisie-LP’s hulle suksesvol vir belangrike wysigings beywer het. 

“Ons het sulke kwessies uitgelig en dit is reggestel.”

Volgens Kambala beteken die stadige pas nie dat parlementslede nie werk nie. 

“Ons wil gehaltebeheer verseker en nie net as ’n rubberstempel optree nie,” het hy gesê.

Swapo se parlementslid, Ephraim Nekongo, sê die parlement het ’n grondwetlike verantwoordelikheid om nie net wetgewing te bestudeer nie, maar ook om wette namens die mense aan te neem. 

Volgens hom ondergaan elke wetsontwerp uitgebreide debat voordat dit die komiteestadium bereik, waar LP’s dit “bladsy vir bladsy en klousule vir klousule ondersoek voordat dit vir ’n derde lesing terugkeer”.

Nekongo het ook beweer dat, hoewel bestudering nodig was, sommige LP’s die wetgewende proses doelbewus vertraag.

“Baie van ons debatteer en laat die wetsontwerpe voortgaan, maar daar is lede wat eenvoudig kom en sê die debat moet na ’n latere datum uitgestel word,” het hy gesê. 

“Die idee is om die proses te belemmer en miskien te verseker dat die wetsontwerp nie aangeneem word nie.”

Volgens Nekongo het “Namibiërs ons na die parlement gestuur om wetsontwerpe te aanvaar, maar geen wetsontwerp is aangeneem nie”. 

Hy sê mondelinge en skriftelike vrae het ongeveer 80% van die parlementêre tyd in beslag neem, wat “baie min tyd laat om ander sake op die ordelys te bespreek”. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer