Nekundi waarsku teen die koop van rybewyse
Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, het bestuurskole en -instrukteurs gewaarsku om nie die verkoop van bestuurslisensies te fasiliteer nie.
Volgens hom verhoog dit die risiko en gevaar daaraan verbonde om onbevoegde motoriste op Namibië se paaie te plaas en ondermyn dit padveiligheid.
Nekundi het dié waarskuwing gerig tydens die opening van ’n slypskool op Swakopmund oor die voorgestelde registrasie en regulering van bestuurskole en -instrukteurs.
Die beplande registrasie is daarop gemik om standaarde vir bestuurskole, -instrukteurs en voertuie te verskerp wat vir bestuursopleiding gebruik word, terwyl inspeksie, monitering en afdwinging versterk word.
Volgens die minister volg die waarskuwing te midde van tekortkominge in dié deel van die vervoersektor, wat verskille in die gehalte van bestuursopleiding, teenstrydige bedryfspraktyke, kommer oor die bevoegdheid en professionele gedrag van sommige instrukteurs insluit, asook die toestand en geskiktheid van voertuie wat vir opleiding gebruik word.
Nekundi het gesê die gehalte van bestuursopleiding hou direk verband met padveiligheid, omdat die verantwoordelikheid om motoriste voor te berei, begin lank voordat ’n persoon sy bestuurslisensie bekom.
Volgens die minister begin dit reeds in die klaskamer – wanneer ’n leerlingbestuurder vir sy eerste les agter die stuurwiel inskuif – en hang dit ook af van die gehalte van die onderrig wat verskaf word.
Nekundi het gemaan instrukteurs leer nie net mense om voertuie te bestuur nie, maar vorm ook die gedrag en houding van toekomstige bestuurders.
“Die gewoontes wat hulle aanleer, kan dekades lank by ’n bestuurder bly,” het hy gesê en instrukteurs aangemoedig om voornemende bestuurders geduld en respek vir verkeerswette te leer.
Ingevolge die voorgestelde regulatoriese raamwerk sal bestuurskole vereis word om as behoorlik geregistreerde en verantwoordbare besighede te funksioneer.
Van instrukteurs sal verwag word om beide bestuurs- en bevoegdheid vir onderrig te bewys, wat kennis van padveiligheid, risiko’s en evaluering van leerlingbestuurders insluit.
Die raamwerk sal ook vereis dat opleidingsvoertuie behoorlik in stand gehou word en padwaardig, veilig en geskik vir die opleiding van voornemende bestuurders is.
Daar word ook gepoog om ’n voortgesette nasionale standaard vir opleiding van aanvaarbare gehalte te vestig, ongeag waar leerlingbestuurders hul opleiding ontvang.
Nekundi het gesê regulering sal gerugsteun word deur duidelike registrasieprosedures, deursigtige inspeksiemeganismes, behoorlike rekordhouding, moniteringstelsels en billike en voortgesette afdwinging.
Hy het ook gewaarsku dat wettige operateurs nie benadeel moet word deur diegene wat die reëls ignoreer nie en gesê dat afdwinging nie-nakoming moet identifiseer en gepaste regstellende stappe moet verseker.
Nekundi het gesê die bestaande Wet op Padverkeer en Vervoer van 1999 bied reeds ’n wetlike grondslag vir die regulering van instrukteurs, insluitend vereistes vir sertifikate, opleidingsvoertuie en die pligte van instrukteurs.
Hy het egter gesê die ministerie wil dié grondslag verwerk in ’n regulatoriese stelsel wat reageer op die werklikhede van die moderne bestuurskoolbedryf.
Die minister het ook die ekonomiese rol van bestuurskole erken en gesê dit skep werks- en entrepreneursgeleenthede. Hy het egter gemaan dat kommersiële belange nie padveiligheid in gevaar moet stel nie.
Hy het bestuurskole aangespoor om in hul instrukteurs, voertuie en opleidingsmateriaal te belê en gesê sukses moet nie net gemeet word aan hoeveel leerlingbestuurders hul lisensies kry nie, maar aan die gehalte van die bestuurders wat opgelewer word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie