NAC se uitvoerende hoof, Bisey /Uirab. FOTO ARGIEF
NAC se uitvoerende hoof, Bisey /Uirab. FOTO ARGIEF

Nekundi: Gee NAC-voertuie terug

Ondersoekdossiere op pad na die ACC.
Die tussentydse raad erf die onopgeloste, ingewikkelde kwessie oor die omstrede voertuigskema.
Sonja Smith

Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, het die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) beveel om 19 maatskappyvoertuie terug te kry wat na uitvoerende hoofde en bestuurders se name oorgedra is nadat elke begunstigde ’n administratiewe fooi van N$5 000 betaal het. 

Die voertuie is oorspronklik tussen 2016 en 2019 met openbare fondse vir N$15 miljoen aangekoop. 

Die ministerie het Woensdag aan Republikein bevestig dat sy ondersoek beide NAC-raadslede en -topbestuurders betrek, asook dat die dossiere aan die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) voorgelê sal word. 

“Die minister het die raad opdrag gegee om die voertuie terug te kry van dié wat dit ontvang het, het die ministerie se woordvoerder, Julius Ngweda, gesê.

“Die kommunikasie aan die voorsitter van die raad, wat nie by hierdie saak betrek word nie, gee duidelik opdrag dat die raad die voertuie moet terugkry van alle individue aan wie dit toegeken is.”  


GEEN SPERDATUM

Die ministerie het nie aangedui of kennisgewings van terugbesorging uitgereik is nie, watter sperdatum die begunstigdes gekry het om die voertuie terug te besorg, of watter stappe teen enigiemand geneem sal word wat weier om daaraan te voldoen. 

Dit is ook onduidelik wat sal gebeur indien enige van die voertuie intussen verkoop, beskadig of aan derde partye oorgedra is. 

Die ministerie het gesê ’n ouditeur wat deur Nekundi aangestel is, het die ondersoek in April afgehandel en bevind dat die voertuie in werklikheid na die bestuur oorgedra is. 

“Die bevindinge betrek beide raadslede en bestuursamptenare.  Die ministerie sal die ondersoekdossiere aan die Teenkorrupsiekommissie voorlê sodra sy interne prosesse afgehandel is,” het die woordvoerder gesê. 

Die ministerie het nie verduidelik wat die aard van die oorblywende interne prosesse is nie, of wanneer die dossiere aan die ACC voorgelê sal word. 

Die ondersoek het aanbeveel dat die NAC-raadslede verwyder word en dat Nekundi dit oorweeg om hulle na die ACC te verwys. Dit het ook die afdanking aanbeveel van die uitvoerende hoof, Bisey /Uirab, die hoof van menslike hulpbronne Josephine Soroses en die hoof vir infrastruktuur-ontwikkeling en batesorg, Ralph !Gaoseb, oor beweerde onreëlmatighede in bestuur, werwing en verkryging. 

Die verslag het verder dissiplinêre optrede gevra teen die hoof van inligtingstegnologie (IT), oor beweerde roekelose en nalatige gebruik van NAC-fondse. 

Nekundi het nie aangedui of hy van plan is om die aanbevelings teen die hoofde toe te pas nie. 


WIE HET WAT GEKRY

Dokumente in Republikein se besit toon dat 19 uitvoerende hoofde (Exco) en bestuurders by die voertuigskema gebaat het. 

Die duurste voertuig was die Toyota Land Cruiser wat aan /Uirab toegeken is, wat vir N$1,39 miljoen gekoop is. Die hoofbestuurder van kommersiële dienste, Toska Sem, het ’n Mercedes-Benz GLC350 ontvang wat vir N$900 000 gekoop is, terwyl die hoofregsadviseur, Lot Haifidi, ’n Toyota Land Cruiser VX V8 ontvang het wat vir N$899 949 gekoop is; Soroses het ’n Range Rover Evoque ontvang wat vir N$897 500 verkry is; en Verengai Ruswa het ’n Jeep Grand Cherokee ontvang wat N$893 210 gekos het. 

Leonard Shipuata en !Gaoseb het Volkswagen Amarok 3.0 TDI-bakkies ontvang wat vir onderskeidelik N$863 358 en N$850 000 gekoop is. 

Ander voertuie wat in die ondersoek gelys word, sluit in Toyota Land Cruisers en Prado, Ford Everest, Toyota Hilux en Isuzu KB300 wat onderskeidelik aan Sem Katoma, Jason Kweyo, Petrus Shipale, Justin Strauss, Alex Hanghuwo, Christian Faure, Angela Sibalatani en ander toegeken is.

Die goedkoopste voertuig op die lys was ’n Toyota Hilux 3.0 wat aan Norman Pule toegeken is, wat vir N$379 296 gekoop is. 

Die voertuie is tussen 2023 en 2024 na die begunstigdes se name oorgedra. 

Nekundi het die NAC-raad tot 22 April tyd gegee om rekenskap te gee oor die omstandighede waaronder die oordragte plaasgevind het. 

Op die vraag of die raad binne die sperdatum gereageer het en of hy tevrede was met die verduideliking, het die ministerie geweier om die antwoord bekend te maak. 

“Wat die raad se reaksie betref, sal die ministerie nie kommentaar lewer oor sake wat steeds aan lopende interne prosesse onderhewig is nie,” het Ngweda geantwoord. 


TUSSENTYDSE RAAD 

Die tussentydse raad, wat Dinsdag aangestel is, erf die onopgeloste voertuigkwessie en die kommer oor bestuur wat deur die ondersoek uitgelig is. Ondervoorsitter Otniel Podewitz, Sophia Kasera, Phillip Iifo, Loide Ekandjo en Natacha Kasera-Kandombo se aanstelling het gevolg op Nekundi se afdanking van direkteure Elizabeth Peterson, Lucien Mouton, Matheus ||Gowaseb, Carol Williams en Ferdinand Nghiyolwa.

Die raadsvoorsitter, sakeman Leake Hangala, se kontrak het in Mei verstryk. 

Die woordvoerder het nie gesê of die tussentydse direkteure verantwoordelik sal wees om die opdrag van om die voertuie terug te kry, uit te voer nie. 

Republikein het vandeesweek berig dat die ondersoek in April die direkteure daarvan beskuldig het dat hulle hul fidusiêre en strategiese verantwoordelikhede verwaarloos het, en betrokke geraak het by administratiewe aangeleenthede, veral werwing van personeel en die implementering van NAC se voertuigskema. 

“Die enigste gepaste opsie en die mees geskikte aanbeveling aan die minister is om hulle van hul verantwoordelikhede te onthef,” lui die verslag. 

Die ministeriële ondersoek het die grondslag bevraagteken waarop die voertuie van die hand gesit is en bevind dat die bedrag van N$5 000 nie deur ’n rekeningkundige beleid of ’n erkende rekeningkundige standaard gesteun word nie. Dit het ook beweer dat NAC nie goedkeuring van die tesourie verkry het voordat die voertuie oorgedra is nie. 

NAC het die bevindings verwerp en volgehou dat die N$5 000 ’n administratiewe oordragfooi verteenwoordig en nie die koopprys of die waardevermindering van die voertuie was nie.

“Toe hierdie beleid van krag was, kon geskikte werknemers wat in bestuurs- en uitvoerende rolle gedien het, aan hierdie skema deelneem as deel van hul dienskontrakte met die maatskappy. Dit was ’n baie aanloklike aansporing om bekwame Namibiërs te lok om by die maatskappy aan te sluit,” het /Uirab gesê. 

Die maatskappy het gesê die voertuie het deel van kontraktuele diensvoordele gevorm en is na die begunstigdes oorgedra nadat NAC sy voertuigskema in 2021 afgeskaf het. 

NAC het ook volgehou dat die afskaffing van die skema die maatskappy jaarliks N$6 miljoen gespaar het. 

“Die betrokke werknemers het opgehoopte voertuigvoordele gehad ingevolge die destydse beleid, saamgelees met hul onderskeie dienskontrakte, en was geregtig op nuwe voertuie ingevolge die genoemde beleid wanneer hul voertuie die toepaslike vervangingsiklus bereik het. 

“Die kontraktuele voordele is afgeskaf na aanleiding van die raadsbesluit waarna verwys is en die daaropvolgende implementering daarvan,” het /Uirab gesê. 


INGEWIKKELD

Bronne sê die terugkry van alle voertuie kan ingewikkeld wees, aangesien sommige begunstigdes nie meer vir NAC werk nie, terwyl ander Namibië verlaat het. 

Shuungula, Shoombe en Pule het intussen afgetree. Faure, ’n Suid-Afrikaanse burger, werk nou by ’n lughawe in Johannesburg, terwyl Ruswa, ’n Zimbabwiese burger, na Zimbabwe teruggekeer het en daar vir ’n lughawemaatskappy werk. 

Hanghuwo werk nou as ’n hoofbestuurder by die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE). 

“Dit was lank gelede, ek het dit verkoop. Ons het maandelikse paaiemente betaal, maar ek wil nie oor hierdie kwessie praat nie aangesien ek nie meer by NAC in diens is nie,” het hy gesê.

Simvula het gesê “ek het die motor lank gelede verkoop, so die maatskappy moet hom uitlaat oor die pad vorentoe. Ek is seker prosedures is gevolg,” 

Sibalatani het gesê sy wil die opdrag sien. 

“Ek het nie daardie opdrag gesien nie. Eers wanneer ek dit sien, kan ek kommentaar oor die saak lewer,” het sy gesê. 

Sindimba, Haifidi, Katoma en Strauss het geweier om kommentaar te lewer.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer