Die Namibiese Weermag gaan voort met sy verpligte MIV-toetsvereistes ondanks openbare kritiek. Foto argief
Die Namibiese Weermag gaan voort met sy verpligte MIV-toetsvereistes ondanks openbare kritiek. Foto argief

NDF se MIV-dilemma

Weermag gekritiseer oor werwingsvereistes
Generaal-majoor Petrus Nathinge het bevestig die NDF gaan voort met verpligte MIV-toetsvereistes wat deel vorm van 'n omvattende mediese ondersoek.
Jemima Beukes
Die Namibiese weermag (NDF) het Woensdag gesê ’n hofuitspraak van 2002 teen verpligte MIV-toetsing tydens die werwingsproses van weermaglede, het hul vermoë om “gesonde en betroubare” soldate te werf, lamgelê.

Byna twee dekades gelede het ’n voormalige Plan-lid die minister van verdediging gedagvaar nadat hy in September 1996 weens sy MIV-positiewe status verbied is om by die weermag aan te sluit, met die argument dat hy, afgesien van sy MIV-status, in ander opsigte gesond was.

Die arbeidshof het die NDF se beleid om rekrute wat die vigsvirus het te verbied om aan te sluit, as onbillike diskriminasie verklaar.

ONS GAAN AAN

Generaal-majoor Petrus Nathinge van die militêre kollege het egter bevestig dat die NDF voortgaan met verpligte MIV-toetsvereistes wat deel vorm van ’n omvattende mediese ondersoek. Dit weens die moeilike aard van weermagopleiding waar rekrute ’n hoë risiko van oordrag het.

“Die hofsaak en die uitspraak het dit nie vir die NDF maklik gemaak om die fikse en gesonde mense wat die weermag wil hê, te werf nie. Ons is in ’n dilemma. Ek kan nie sê of ’n persoon wat positief toets aangestel sal word nie. Ons sal die aansoeke hanteer en die besluit om die persoon aan te stel, sal by ons kantoor berus,” het hy gesê.

Republikein se susterkoerant Namibian Sun het betroubaar verneem dat die NDF MIV-positiewe kandidate in die verlede gewerf het. Hulle was almal in een eenheid gestasioneer wat uiteindelik gelei het tot erge stigmatisering en het ’n menseregtekrisis in die weermag ontketen, vandaar hul onwilligheid om MIV-positiewe kandidate in diens te neem.

Nathinge wou nie kommentaar hieroor lewer nie en het beklemtoon dat hulle nie kan sê of MIV-positiewe kandidate weggewys sal word nie. Volgens hom is die MIV-toets ’n blote voorsorgmaatreël om oordrag tydens opleiding te voorkom en elders waar NDF-soldate verwag sal word om deel te neem of onder strawwe omstandighede te werk.

“Hulle moet ’n sekere vlak van gesondheid hê. Diegene van die lugmag, byvoorbeeld die verkeersbeheerders, word jaarliks aan gesondheidstoetse onderwerp, insluitend MIV. Dit is omdat hulle verantwoordelik vir mense se lewens is wanneer hulle hul pligte uitvoer. Daarom word daar van hulle verwag om bewus te wees van hul siekte en hul behandeling. Indien daar gevind word dat hulle nie geskik is nie, word hul lisensies herroep. Soldate het die verantwoordelikheid,” het hy gesê.

KOM AS JY INGEëNT IS

Nog ’n omstrede vereiste om by die weermag aan te sluit, is om ten volle teen Covid-19 ingeënt te wees.

Volgens Nathinge word niemand gedwing om ingeënt te word nie, maar as hulle nie bereid is om die inenting te ontvang nie, kan hulle nie aansoek doen nie.

Hy sê om teen Covid-19 ingeënt te word, is nodig aangesien maskers nie tydens opleidingsessies toegelaat word nie weens die risiko van verstikking. Daarom behoort kandidate ingeënt te word om die risiko van verspreiding van die virus te verminder.

“Militêre opleidingskursusse is tydsintensief en vereis dat al die leerlinge aan alle lesse en oefeninge deelneem. Dus as een rekruut gedurende die duur van die opleiding gehospitaliseer word, sal dit beskou word dat hy of sy die kursus gedruip het en dus kan hy of sy nie in die NDF opgeneem word nie.”

NIE VIR DRUIPELINGE

Nog ’n vereiste waaroor die weermag gekritiseer is, is die gebruik van die amptelike taal Engels en die 25 punte en ’n E in Engels of 27 punte en ’n D in Engels.

Me. Elma Dienda, parlementslid van die Popular Democratic Movement (PDM), het gesê dit is onaanvaarbaar omdat dit die weermag op ’n universiteitsvlak plaas en diskrimineer teen diegene wat nie universiteitstoelating het nie.

Nathinge voer aan dat daar van NDF-lede verwag word om gesofistikeerde oorlogstuie te gebruik, na verwagting vegvliegtuie te vlieg, oorlogskepe te navigeer asook militêre artillerie- en missielstelsels te gebruik wat nie deur “skoolverlaters” beheer kan word nie.

“Ons gebruik nie knopkieries en pyl en boë nie, hierdie rekrute moet verstaan hoe gewere werk,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer