Zoé Titus, direkteur van die Namibië Media Trust. Photo NMT
Zoé Titus, direkteur van die Namibië Media Trust. Photo NMT

Namibië wen ses plekke op indeks vir persvryheid

Nie net mediaregte, maar ook menseregte
Die regte tot 'n vrye pers raak nie net mediawerkers nie, maar Namibiërs in die geheel.
Iréne-Mari van der Walt
Nadat Namibië verlede jaar sy eerste plek in Afrika op die Wêreld Persvryheidsindeks kwyt is, kon vanjaar weer nie die top posisie behaal nie. Mauritanië wat verlede jaar Namibië op die indeks een plek voor was, het met sewentien plekke gedaal. Buurland Suid-Afrika is Namibië nou een voor. In die geheel het Namibië se posisie egter verbeter van 34ste ter wêreld in 2024 na die 28ste plek vanjaar. Dít nadat die land in 2023 in die 22ste plek op die ranglys was.

Verslaggewers sonder Grense (RSF) gebruik vyf aanwysers om 'n land se persvryheid te bepaal - politiek, ekonomie, die regbank, maatskaplike welsyn en die veiligheid van diegene in die media.

Namibië se persvryheid vir politiek het vanjaar 32 punte uit 100 gekry, teenoor die 45 uit 100 verlede jaar. Die ekonomiese aanwyser is 'n bietjie meer positief met 31 uit 100, teenoor verlede jaar se punt van 29. Die aanwyser vir die regbank het egter getuimel van 35 punte verlede jaar tot vanjaar se 13 uit 100. Namibië se maatskaplike aanwyser vir persvryheid bly onveranderd met 43 uit 100. Laasgenoemde word onder meer gemeet in die mate waarin verslaggewers hul werk vrylik sonder sensuur, regsaksies of oormatige beperkings op hul vryheid van uitdrukking kan verrig. Dit sluit ook in hul vermoë om toegang tot inligting te kan kry sonder diskriminasie teen verslaggewers asook die vermoë om hul bronne te kan beskerm. Die aanwyser vir veiligheid het ook gedaal en wel met vyf punte van verlede jaar se 34 tot vanjaar se 29 uit 100.

MENSE

Die direkteur vir die Namibië Media Trust (NMT), Zoé Titus, sê dat Namibiërs nie persvryheid moet afmaak as ’n kwessie wat slegs joernaliste en mediawerkers raak nie.

"Ek dink ’n element wat mense nie in ag neem nie, is dat elke burger die reg het tot ’n vrye pers. Elke burger het die reg tot vrye uitdrukking asook om toegang te hê tot ’n vrye pers en om inligting te kry van ’n vrye pers," sê Titus.

"In die afwesigheid van ’n vrye pers kan mense nie hulself vrylik uitdruk nie. Ek dink nie mens kan die vryheid van uitdrukking skei van die vryheid van die pers nie. Die vryheid van die media is ’n burger se reg en ek dink ons moet breër daarna kyk as ’n samelewing, want dan sal ons verstaan hoekom dit so belangrik is om gewig te sit agter ons strewe na wetgewing vir toegang tot inligting asook die beskerming van getuies en hokaairoepers," sê sy. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer