Uitvoerende hoof van die NAC, Bisey /Uirab, het Maandag verskeie dokumente aan die ACC voorsien. FOTO NAC
Uitvoerende hoof van die NAC, Bisey /Uirab, het Maandag verskeie dokumente aan die ACC voorsien. FOTO NAC

NAC-baas verskyn voor ACC

Beëindiging van voertuigskema het ‘miljoene gespaar’
Bisey /Uirab is gedagvaar oor die voortgesette sage oor die oordrag van voertuie, tenders en senior aanstellings by die lughawensmaatskappy.
STAFF REPORTER

Hoofredaksie

Die uitvoerende hoof van die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC), Bisey /Uirab, het Maandag voor die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) verskyn om inligting en dokumentasie te verskaf wat verband hou met die oordrag van 19 maatskappyvoertuie aan uitvoerende beamptes en bestuurders, asook ’n reeks tenders en senior aanstellings by die maatskappy in staatsbesit. 

Die dagvaarding, uitgereik op 9 September deur die ACC se direkteur-generaal, Paulus Noa, het vereis dat /Uirab voor ’n gemagtigde beampte verskyn en inligting verskaf in verband met ’n voortgesette ondersoek na ’n beweerde korrupte praktyk. 

Noa het Maandag aan Republikein gesê /Uirab is in sy hoedanigheid as rekenpligtige beampte by NAC gedagvaar en bygevoeg dat die dagvaarding wat – indien nodig geag, ook na NAC-raadslede uitgebrei kan word – nie sinspeel op enige oortreding wat gepleeg is nie. 

“’n Dagvaarding is nie ’n lasbrief nie,” het Noa gesê. 

“In ons konteks vereis ’n dagvaarding dat die persoon voor ’n ondersoekbeampte verskyn en dat julle saam deur sekere beleide, prosedures of raadsbesluite werk.” 

Noa het gesê /Uirab is as uitvoerende hoof ingeroep om oor sake te praat wat by die ACC aangemeld is. Noa het gesê die dagvaarding is die “beginpunt van enige ondersoek. Dit is bedoel om die bewerings te help bewys of weerlê”. 

Hy het bygevoeg: “Ons benader hierdie saak met algehele onpartydigheid, soos ons met elke saak doen wat na ons gebring word.” 

Die ondersoek na die voertuie hou verband met NAC se voormalige voertuigskema waarvolgens 19 uitvoerende beamptes en bestuurders uiteindelik maatskappyvoertuie bekom het nadat hulle ’n administratiewe tarief van N$5 000 betaal het om eienaarskap oor te dra. 

Daar word verstaan dat die skema, wat NAC elke vier jaar meer as N$15 miljoen aan voertuigaankope gekos het – koste vir brandstof en dienste uitgesluit – te duur geag is om voort te sit. 

Met die aanbreek van Covid-19, toe baie maatskappye hul uitgawes beoordeel het, het NAC die proses begin om die voertuigskema te staak. Dit is egter bemoeilik deur die feit dat werknemers wat aan die skema deelgeneem het, kontraktuele voertuigvoordele gehad het en geregtig was op vervangingsvoertuie ná 48 maande. 

“Dit was ’n diensvoorwaarde en jy kon nie bloot die voordeel stop terwyl jy kontraktuele verpligtinge teenoor die skema se begunstigdes het nie,” het ’n amptenaar na aan die saak gesê. “Die maatskappy het toe besluit om sy kans te waag en aan te bied dat die voertuie van die bestuurders verbeur word, op voorwaarde dat hulle die beëindiging van die skema aanvaar,” het die amptenaar gesê. 

Hy het bygevoeg dat dit “’n baie pynlike proses was en daar was baie weerstand – en verstaanbaar so, maar gelukkig het baie van die bestuurders die ooreenkoms aanvaar. 

“Dit is eintlik ironies dat Bisey /Uirab oor hierdie saak ondervra word, terwyl hy in werklikheid geprys behoort te word, omdat hy hierdie duur skema beëindig en die maatskappy miljoene dollars gespaar het.” 


LUUKSE VOERTUIE 

/Uirab wat self ’n Toyota Land Cruiser bekom het wat na bewering deur NAC vir sowat N$1,4 miljoen gekoop is, asook ander senior uitvoerende beamptes en bestuurders was die begunstigdes. 

Ander voertuie het luukse modelle soos Toyota Land Cruiser 200’s, Land Cruiser Prado’s, Land Cruiser V8’s, Volkswagen Amarok V6’s, ’n Range Rover Evoque, Jeep Grand Cherokee, Ford Everest en Mercedes-Benz GLC’s ingesluit. 

NAC het voorheen volgehou dat die N$5 000 nie die koopprys van die voertuie was nie, maar ’n administratiewe tarief wat verband hou met die oordrag van eienaarskap nadat die maatskappy sy  voertuigskema in 2021 afgeskaf het. 


LEES DIE FYNSKRIF 

Ten spyte hiervan, het ’n ondersoek deur die ministerie van werke en vervoer daarna vrae laat ontstaan oor die wettigheid en waardasie van die oordragte. 

Die ondersoek het onder meer bevind die waardasie van N$5 000 is nie deur ’n rekeningkundige beleid of ’n erkende rekeningkundige standaard gesteun nie en het beweer die NAC het versuim om goedkeuring van die tesourie te verkry voordat van die voertuie weggedoen is. 

NAC het daardie bevindings verwerp en aangevoer die oordragte het voortgespruit uit kontraktuele regte wat in sy voormalige  voertuigskema vervat was en dat die bepalings van die staatsfinansieswet waarop ondersoekers gesteun het, nie op die maatskappy van toepassing was nie. 

Die voertuigkwessie het verlede maand vererger toe die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, NAC beveel het om die 19 voertuie wat aan uitvoerende beamptes en bestuurders oorgedra is, terug te neem. Die saak is daarna vir ondersoek aan die ACC voorgelê. 

Die dagvaarding van ACC vra nou spesifiek vir NAC se rekords wat verband hou met die wegdoen van die 19 voertuie. Onder die dokumente wat geëis word, is raadsvoorleggings, notules van komiteevergadering en aanbevelings wat die besluit voorafgegaan het om van die voertuie ontslae te raak, NAC se versekeringspolisse en hernuwingskontrakte, asook fakture en bewyse van betaling wat met die voertuie oor ’n tydperk van 28 maande verband hou. 


LUGHAWE-TENDER, AANSTELLINGS 

Die kommissie ondersoek ook die toekenning van ’n tender om die vliegtuigredding- en brandbestrydingsfasiliteit by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe (HKIA) op te knap. ACC wil die tenderadvertensie, evaluasie- en toekenningsdokumente hê, saam met versoeke, fakture, aankoopbestellings en bewys van betaling wat met die suksesvolle tenderaar verband hou. 

Verskeie senior aanstellings is ook onder die vergrootglas. Die ACC het dokumentasie versoek oor die aanstelling van Monalisa Jakobs as hoof van interne oudit, insluitend die goedgekeurde organisasiestruktuur, advertensie, aansoeke, evalueringskaarte van die onderhoud, paneelaanbeveling, raadsbesluit en dienskontrak. Die kommissie soek ook soortgelyke rekords rakende die aanstelling van die uitvoerende hoof van menslike hulpbronne, Josephine Soroses, onder die Paterson-gradering E in 2021, asook die aanstelling van NAC se maatskappysekretaris in 2022. 

Die dagvaarding vereis dat /Uirab ’n beëdigde verklaring of bevestiging verskaf rakende die aangevraagde inligting en dokumentasie.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer