N$37,1 mjd. vir salarisse in staatsdiens
Vooruitskattings van die tesourie dui daarop dat die salarisrekening van die staatsdiens na verwagting tot N$36,3 miljard in 2025-’26 sal styg en verder tot N$37,1 miljard in 2026-’27.
Volgens die staatsdienskommissie het die besteding aan personeelvergoeding N$35,4 miljard beloop, volgens syfers uit die nasionale begroting.
Die regering het oor die afgelope boekjaar 4 302 werknemers by die staatsdiens aangestel en die totale arbeidsmag van 110 002 tot 114 304 verhoog.
Die syfers is Maandag in Windhoek tydens die kommissie se 2024-’25-jaarverslag deur die voorsitter, Patrick Nandago, ter tafel gelê.
Nandago het personeeltendense, werwingspatrone, dissiplinêre sake en hervormings van menslike hulpbronne oor regeringskantore, ministeries, staatsbeheerde instellings en streekrade uiteengesit.
GESLAGSGAPING OP SENIOR VLAK
Volgens die kommissie het die staatsdiens in een jaar met 3,9% gegroei het, met vroue wat die meerderheid van werknemers uitmaak. Hoewel die kommissie se verslag grootliks op interne administrasie gefokus het, kom die personeeltoename teen die agtergrond van ’n bestendig stygende salarisrekening, een van die grootste herhalende koste in die nasionale begroting.
Die kommissie het ook bevestig dat vroue nou die meerderheid van die arbeidsmag in die staatsdiens uitmaak, met 61 528 vrouewerknemers (54%), terwyl mans 52 776 (46%) uitmaak.
Daardie tendens verander egter op bestuursvlak. Van die 1 296 werknemers in bestuursposisies is die meerderheid mans – 763, of 59% – terwyl vroue 533, of 41%, uitmaak. Die kommissie het gesê die uitvoering van regstellende aksie bly ’n uitdaging in senior posisies en het voortgesette pogings belowe om verteenwoordiging te verbeter.
GESONDHEIDSWERKERS
Werwing onder bestuursvlak was sterk in die gesondheidsektor gekonsentreer. Altesaam 749 personeellede is gedurende die verslagtydperk in nie-bestuursposte aangestel, met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste wat 590 aanstellings, of 79% van die totaal, verteenwoordig.
Die kommissie het ook gerapporteer dat 30 buitelandse burgers gedurende die jaar aangestel is, met 28 in diens van die gesondheidsministerie, hoofsaaklik in skaars en gespesialiseerde beroepe soos mediese spesialiste, dokters en aptekers.
Die syfers dui op voortgesette druk in die gesondheidsektor, waar die regering dikwels gesukkel het om tegniese poste plaaslik te vul, veral in afgeleë gebiede en spesialisvelde.
16 BO 60 BLY AAN
In nog ’n teken van vaardigheidstekorte is 16 werknemers van 60 jaar en ouer in die staatsdiens ná aftree-ouderdom behou, omdat hul kundigheid as noodsaaklik vir die regerings beskou word.
Oor bestuursake het die kommissie bevestig hy het 141 sake van wangedrag ontvang, waarvan 121 gedurende die verslagtydperk afgehandel is.
Uit die afgehandelde sake is 33 werknemers weens oortredings ontslaan, insluitend vir diefstal, geldverduistering, misbruik van staatsbates en stokkiesdraai.
Altesaam is 72 klagtes hanteer, meestal gekoppel aan werwingsprosesse, asook 37 appèlle vir wangedrag en 14 heraanstellingsake. Die kommissie het gesê vertragings deur sommige instellings om versoekte inligting in te dien, het die afhandeling van sake vertraag.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie