Eerste minister Elijah Ngurare. Foto argief
Eerste minister Elijah Ngurare. Foto argief

Moontlike noodtoestand vir behuising

Pogings om toegang tot sanitasie te verbeter
Regsadvies is van die prokureur-generaal ingewin wat voorgestel het dat die wet op ramprisikobestuur afgedwing kan word.
Nikanor Nangolo

Die regering oorweeg om behuising en sanitasie na aanleiding van ’n opdrag van president Netumbo Nandi-Ndaitwah tot ’n noodtoestand te verklaar. 

Eerste minister Elijah Ngurare het die aankondiging gister in die parlement gemaak en sê N$34 miljoen is as ’n eerste stap geoormerk om sanitasie-uitdagings te takel. 

Ngurare het namens die president gesê behuising en sanitasie vorm deel van die prioriteite  onder die sesde nasionale ontwikkelingsplan (NDP6). Die res sluit landbou, sport, jeugbemagtiging, die kreatiewe bedryf, onderwys en opleiding, gesondheid en maatskaplike welsyn en grond in.

“In die afgelope paar weke het die president opdrag gegee dat behuising en sanitasie oorweeg moet word om tot ’n noodtoestand verklaar te word,” het Ngurare gesê.

Volgens hom is regsadvies van die prokureur-generaal ingewin wat voorgestel het dat die Wet op Ramprisikobestuur, Wet 10 van 2012, afgedwing kan word om behuising en sanitasie as noodgevalle te verklaar.

Ngurare sê die eerste vergadering in dié verband is ’n paar weke gelede met die kabinetsekretaris as voorsitter byeengeroep. 

Volgens hom het konsultasies met verskeie komitees bevind dat die huidige beskikbare hulpbronne voldoende sou wees om die kwessie van sanitasie aan te spreek.

Ngurare sê behuising en sanitasie is nou verwant en kan nie afsonderlik getakel word nie.

“Daar is gevoel dat, wat die sanitasie-aspek betref, die hulpbronne wat tans beskikbaar is, voldoende sou wees om dit aan te pak,” het hy gesê.

“Behuising en sanitasie gaan hand aan hand. Jy kan nie die een sonder die ander bereik nie,” het hy gesê.

Volgens die eerste minister hanteer die nasionale ramprisikobestuurskomitee tans die saak en sal mettertyd aan die kabinet en daarna die parlement verslag doen oor die vordering wat gemaak is.

Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM) McHenry Venaani het bevraagteken hoeveel befondsing is onder die regering se noodplan aan sanitasie toegeken. Hy het ook die aandag gevestig op ’n mosie wat poog om jeugwerkloosheid tot ’n nasionale noodtoestand te verklaar.

Venaani het gesê hoewel behuising ’n uitdaging bly, die gebrek aan hulpbronne dit moeilik sal maak om die agterstand te takel.

“Wat die vraag oor behuising betref, weet ons julle het nie geld nie. Die land het nie die hulpbronne nie. Selfs al verklaar ons behuising ’n krisis sal daardie agterstand in die afwesigheid van fondse, nie aangespreek word nie,” het hy gesê.

Met die fokus op sanitasie het Venaani verwys na ’n goedgekeurde mosie wat tydens die sewende parlement ondersoek is en gevra hoeveel geld aan die sektor toegewys is.

“Hoeveel geld, ingevolge die wet, het hierdie noodplan aan sanitasie toegeken? En watter gebiede, na u mening, sou eerste geteiken word? Wat is u topdrie prioriteite?” het hy gevra.

Venaani wou ook weet hoe die noodplan toilette vir gesinne beskikbaar sou stel.

“Ek wil dus graag weet hoe u beoog om hierdie noodplan te implementeer om toilette vir ons gesinne te voorsien. Die party wat ek lei, het ’n beleid van een gesin, een toilet,” het hy gesê.


WERKLOOSHEID

Hy het ook die kwessie van werkloosheid geopper, veral onder jongmense.

“Laastens, ek weet nie of u ’n boodskap van die staatshoof oordra nie. Ons het ook ’n mosie voor hierdie Huis wat vra dat werkloosheid, veral jeugwerkloosheid, tot ’n nasionale noodtoestand verklaar word,” het Venaani gesê.

In reaksie op vrae oor befondsing het Ngurare gesê N$34 miljoen is tot dusver vir ingrypings vir sanitasie geïdentifiseer.

“Vir diegene wat die vergadering bygewoon het, is die bedrag wat tot dusver aangedui is N$34 miljoen,” het hy gesê.

Ngurare het erken dat die befondsing moontlik nie genoeg is nie, maar sê dit verteenwoordig ’n beginpunt.

Volgens die eerste minister het die regering reeds ’n sanitasiestrategie wat opgedateer word en stem die doelwitte ooreen met pogings om toegang te verbeter. 

“Omdat sanitasie waardigheid is, behoort elke mens toegang tot sanitasie te hê,” het hy gesê.

Ngurare sê die uitbreiding van infrastruktuur vir sanitasie kan ook werksgeleenthede, veral vir jongmense skep.

“Om sanitasie te verwesenlik beteken ook om werk te skep en baie jong mense sal hierby baat vind. Hulle sal baat vind as hulle die geleentheid kry om byvoorbeeld die vereiste sanitasiegeriewe te bou.”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer