Meer ‘tande’ vir die ombudsman

Hersiening van 36 jaar oue wetgewing
Die voorgestelde wetgewing sal die instelling se administratiewe en finansiële onafhanklikheid versterk en sy grondwetlike mandaat ondersteun.
Aurelia Afrikaner
// MK testing tag

Namibië se kantoor van die ombudsman kan in die toekoms meer slaankrag en mag verkry.

Dit sal te weeg gebring word deur voorgestelde wysigings ingevolge ’n nuwe wetsontwerp wat die wet van 36 jaar hersien waarvolgens die kantoor funksioneer.

Die Nasionale Vergadering oorweeg tans die ombudsmanwetsontwerp. Dit is daarop gemik om die wetgewing van 1990 te herroep en die instelling se onafhanklikheid, magte en vermoë om menseregte te beskerm, te versterk.

Die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Wise Immanuel, het na die drie hoofdoelwitte van die wetsontwerp, buiten die herroeping van die wet van 1990, verwys. Dit sluit in die versterking van die wetgewende raamwerk wat uitvoering aan Hoofstuk 10 van die Namibiese Grondwet gee, asook die versterking van die ombudsman se kantoor as ’n grondwetlike instelling.

Volgens Immanuel speel die ombudsman ’n unieke rol ingevolge Artikel 89 van die Grondwet. Dit sluit die beskerming van individuele regte, die bevordering van wettige en verantwoordbare openbare administrasie, die beskerming van die omgewing en die ondersoek na die moontlike misbruik van openbare hulpbronne in.

“Die omgewing waarin die ombudsman werk, het egter aansienlik ontwikkel,” het Immanuel gesê en bygevoeg verwagtinge ten opsigte van openbare verantwoordbaarheid het toegeneem en standaarde vir menseregte het gevorder.

Die wetsontwerp sal die ombudsman se vermoë versterk om sistemiese menseregtekwessies aan te pak, patrone van wanadministrasie te ondersoek, goeie regering te bevorder en menseregteskendings te voorkom. Dit sal ook prosedures vir ondersoeke moderniseer en die bevoegdhede duidelik uiteensit wat tot die kantoor se beskikking is. 

Immanuel het gesê die voorgestelde wetgewing sal die instelling se administratiewe en finansiële onafhanklikheid versterk en sy grondwetlike mandaat ondersteun.

Die bepaling wat die ombudsman toelaat om private vervolgings in te stel, is deur parlementslid Peya Mushelenga verwelkom. 

Volgens Mushelenga is die kantoor lank reeds “soos 'n tandlose hond” en hoewel dit in staat is om sake te ondersoek, dit magteloos is om op te tree sodra oortredings aan die lig kom.

Hy het ook die behoefte aan voldoende hulpbronne en personeel beklemtoon en gesê die kantoor moet oor bekwame ondersoekers en voldoende middele beskik om sy funksies uit te voer. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer