Lüderitz Waterfront se hoof verwerp bewerings oor reuse-bonus
Nuusredaksie
Die uitvoerende hoof van die Lüderitz Waterfront Development Company, Fluksman Samuehl, beskou die bewerings oor ’n bonus van N$200 000 en finansiële onreëlmatighede by die staatsonderneming as “wild” en “onwaar”.
Hy het die parlementslid (LP) van die Independent Patriots for Change (IPC), Michael Mwashindange, uitgedaag om sy bewyse na die owerhede te neem.
Samuehl het gereageer op die LP wat Dinsdag in die Nasionale Vergadering die minister van finansies, Ericah Shafudah, gevra het om die maatskappy se uitvoerende hoof se vergoeding, verkrygingspraktyke, reisuitgawes en finansiële bestuur te ondersoek.
“Al daardie [dinge wat] bespreek is, is sonder waarheid, wilde bewerings,” het Samuehl Woensdag aan Republikein gesê.
“As hy feite oor oortredings het, moet hy ’n instelling nader wat gemagtig is om ondersoeke te doen,” het hy gesê.
Samuehl het ook beswaar gemaak teen die feit dat die bewerings in die parlement uitgesaai word en aangevoer dat lede die waardigheid van die Nasionale Vergadering moet handhaaf en op nasionale kwessies moet fokus.
“Met alle respek, eerbare lede moet die ordelikheid van die Huis handhaaf. Hulle moet nasionale kwessies bespreek en nie persoonlikhede nie,” het hy gesê.
Mwashindange het gevra dat die bewering van N$200 000 ondersoek word, veral te midde van aansprake dat die staatsbeheerde maatskappy nie wins maak nie en sommige werknemers basiese salarisse van slegs N$3 000 verdien.
Mwashindange het ook bewerings geopper dat Samuehl fooie geëis het vir die bywoning van raadsvergaderings en sy eie reis- en verblyftoelae goedgekeur het.
Die LP het Shafudah gevra om vas te stel of die gerapporteerde betalings gemagtig was en of die maatskappy se finansiële bestuur aan die toepaslike vereistes voldoen het.
Hy het ook duidelikheid gesoek oor beweerde ongemagtigde reis- en verblyfeise, asook oor die maatskappy se reëlings vir die goedkeuring van uitgawes.
KONSULTANTE EN UITGAWES
Mwashindange het ook navraag gedoen oor die aanstelling van konsultante vir menslike hulpbronne en inligtingstegnologie, asook ’n hoofagent, met die bewering dat voorgeskrewe verkrygingsprosedures moontlik nie gevolg is nie.
Hy het gevra of die aanstellings sonder formele kontrakte gemaak is en of die konsultant vir menslike hulpbronne later bykomende konsultante betrek het.
Die LP het ook verwys na ’n finansiële uitvoerende beampte wat na bewering met volle salaris geskors is.
Mwashindange het ’n onafhanklike ondersoek gevra na Samuehl se optrede en die raad se toesig oor die maatskappy, met bevindinge wat aan die parlement gerapporteer word en met regstellende, dissiplinêre of regsoptrede wat oorweeg word indien wangedrag vasgestel word.
Samuehl het egter die bewerings verwerp en volgehou dat enigiemand wat oor bewyse van wangedrag beskik, die instellings moet nader wat gemagtig is om sulke sake te ondersoek.
Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Saara Kuugongelwa-Amadhila, het parlementslede gewaarsku om nie ongegronde bewerings oor individue te maak wat nie teenwoordig is om hulself te verdedig nie.
“Vrae is bedoel om antwoorde te ontlok ten einde verduideliking te verskaf,” het sy gesê.
“Vrae kan nie ’n platform wees vir ons om kwessies te debatteer nie en ons moet sover moontlik probeer om nie ander mense te beskuldig wat nie hier is om te antwoord nie.”
Kuugongelwa-Amadhila het beklemtoon parlementêre aanspreeklikheid bly belangrik, maar dat lede gevestigde meganismes moet gebruik wanneer hulle bewerings oor moontlike wangedrag opper.
“Dit beteken nie dat mense nie tot verantwoording geroep kan word nie,” het sy bygevoeg.
WATERFRONT-ONTWIKKELING
Die Lüderitz Waterfront Development Company is in 1995 deur ’n kabinetsbesluit as ’n nie-winsgewende, staatsbeheerde onderneming gestig om ekonomiese ontwikkeling, toerisme, handel en belegging in die suidelike kusdorp te stimuleer.
Die ontwikkelings sluit Harbour Square, Market Square en die herontwikkeling van die geskiedkundige Lüderitz Ou Kragstasie in tot geriewe vir onderwys, besigheid, toerisme en ontspanning.
Die tweede fase van die ontwikkeling het oor die jare vertragings van befondsing in die gesig gestaar, met die regering wat in 2024 N$88 miljoen vir die voltooiing daarvan bewillig het.
Ten spyte van uitdagings het die maatskappy voortgegaan om sigbare vordering te maak, wat dit van verskeie ander waterfront-inisiatiewe in Namibië onderskei wat langdurige vertragings of veranderinge in ontwikkelingsplanne ervaar het.
Die beplande Walvisbaai-waterfront- en marina-projek is op ys geplaas nadat Namport grond wat vir die projek geoormerk was, herbestem het na bedrywighede wat die ontluikende olie- en gasbedryf ondersteun.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie