Die kantoor van Kunene-streekraad. FOTO VERSKAF
Die kantoor van Kunene-streekraad. FOTO VERSKAF

’Kunene se Kamseb en kie moet opdok’

Nikanor Nangolo
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, het gelas dat die voorsitter en alle lede van die Kunenestreekraad persoonlik aanspreeklik gehou word vir finansiële verliese wat die regering gely het.

Dit volg uit hul "doelbewuste verontagsaming" van ministeriële opdragte wat die aanstelling van George Kamseb as hoofstreekbeampte (HBO) afgekeur het.

In ‘n saak in die hoërhof in Windhoek wat deur Sankwasa as die applikant aanhangig gemaak is, is Kamseb as die eerste respondent en voorsitter van die Kunenestreekraad se bestuurskomitee gelys, met al 14 streekrade en die prokureur-generaal as respondente.

Die hof het die raad se besluit van 31 Mei 2021 om Kamseb weer aan te stel, ter syde gestel en gelas dat die pos in ooreenstemming met die streekradewet weer geadverteer word. In 'n brief aan die voorsitter van die Kunenestreekraad, Western Muharukua op 6 November, het Sankwasa aan raadslede gesê die ministerie se afkeur van Kamseb se aanstelling ingevolge Artikel 23(1) van die wet, is geïgnoreer. Die wet vereis dat die aanstelling van 'n HBO in oorleg met die minister gedoen moet word wat ingevolge Artikels 40 en 41 van die Grondwet oorsig hieroor het.

Ten spyte van ministeriële opdragte sedert Mei 2021 om die onwettige aanstelling te herroep, het die Kunenestreekraad na bewering voortgegaan om Kamseb te betaal vir verblyf- en reistoelaes, al het hy nooit pligte buite Opuwo verrig nie. Sankwasa het beklemtoon dat sulke betalings neerkom op ongemagtigde uitgawes kragtens die staatsfinansieswet wat dit definieer as enige uitgawe "wat strydig is met die bepalings van enige wet”.

Hy het gewaarsku dat ingevolge Artikel 11 van dieselfde wet enige verlies wat vir die staat veroorsaak word, verhaal moet word van diegene wat daarvoor verantwoordelik is.

“As gevolg van u versuim om u pligte as voorsitter en die hele streekraad na te kom, is mnr. Kamseb willens en wetens onregverdig verryk,” het Sankwasa gesê en hom op Artikel 11 beroep om die geld terug te eis. Hy het beklemtoon dat die voorsitter en alle streekraadlede persoonlik aanspreeklik gehou sou word vir die staat se finansiële verlies weens hul doelbewuste verontagsaming van 'n wettige opdrag.

Die minister het benadruk dat selfs al keer die huidige raadslede nie ná die plaaslike owerhede- en streekraadverkiesings op 26 November terug na hul amp nie, die geld steeds deur enige middele tot die regering se beskikking van hulle verhaal sal word.

Sankwasa het sy uitvoerende direkteur ook opdrag gegee om saam met die direkteur of adjunkdirekteur verantwoordelik vir die finansiële bestuur van die streekrade die werklike bedrae te bereken wat deur die raad vanaf 31 Mei 2021 aangegaan is. Dit moet aan die betrokke raadslede vir terugbetaling voorgelê word.

Sankwasa het ook gelas dat die Kunenestreekraad teen 1 November 'n waarnemende hoofstreekbeampte moet aanstel. Kamseb en Muharukua kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.

In Oktober 2021 het die destydse minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, ‘n hoërhofaansoek teen Kamseb, die raad en die voorsitter van die bestuurskomitee gebring en geëis dat die heraanstelling van Kamseb as hoofstreekbeampte ongeldig verklaar word. Die pos moes ook weer adverteer word.

Kamseb is in Oktober 2008 vir ‘n tydperk van vyf jaar aangestel, waarna sy kontrak vir nog vyf jaar tot September 2018 verleng is.

Hy is op 18 Oktober 2016 vir twee jaar met volle betaling geskors en sy skorsing het geduur tot nadat sy kontrak verstryk het. Die redes vir sy skorsing was onder meer omdat hy ongemagtigde reise onderneem het, verlof geneem het sonder die nodige goedkeuring van die voorsitter van die bestuurskomitee en na bewering vervalde jaarlikse tenders sonder die goedkeuring van die streekraad verleng het.

Na sy skorsing het Kamseb die saak by die arbeidskommissaris aangemeld, maar die arbiter het dit op 12 April 2021 van die hand gewys weens nie-nakoming van hofreëls. Hy het toe 'n aansoek ingedien vir die terugtrek van die afkeur van sy eis, maar dit is ook van die hand gewys.

Op 31 Mei 2021 word Kamseb weer deur die bestuurskomitee vir ‘n tydperk van twee jaar aangestel, na bewering op voorwaarde dat hy alle monetêre eise teen die streekraad laat vaar.

Kamseb het aangedui dat hy die saak sal teenstaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer