Kunene deporteer 401 onwettige immigrante
Die Kunenestreek steier onder onwettige immigrasie met 411 ongedokumenteerde immigrante wat die afgelope boekjaar in hegtenis geneem is 401 deportasies.
Die goewerneur van Kunene, Vipuakuje Muharukua, het in sy streekrede gesê die groeiende instroming van ongedokumenteerde migrante plaas toenemende druk op grensbeheer en plaaslike gemeenskappe.
“Opuwo lyk vandag al hoe meer soos ’n grensdorp en Outjo lyk vandag al hoe meer soos Opuwo,” het die goewerneur gesê.
Van die 411 ongedokumenteerde immigrante wat in hegtenis geneem is, is 18 formeel aangekla en vervolg, terwyl die meerderheid gedeporteer is.
Muharukua het gewaarsku dat, hoewel migrasie dikwels ekonomiese geleenthede volg, dit “binne die perke van die wette” van Namibië moet plaasvind.
“Dit is noodsaaklik dat almal wat binne Namibië se grense is, gedokumenteer, geregistreer en verantwoordbaarheid gegee moet word.”
GEBREK AAN AMPTELIKE GRENSPOSTE
Die goewerneur het die tendens verbind aan die afwesigheid van amptelik geproklameerde grensposte tussen Kunene en die buurland Angola, en die gebrek aan formele oorgange beskryf as ’n lank bestaande aanhitser van onwettige beweging.
Hy het gesê die regering het reeds grensposte by Onungurura en Otjimuhaka goedgekeur, maar die implementering is nog hangende.
Die streek se stygende bevolkingsgroei het nog ekstra druk bygevoeg. Kunene se gemiddelde bevolkingsgroei staan nou op 2,7%, bo die nasionale gemiddeld van 1,95%, met Opuwo wat die hoogste groeikoers van 5,3% aanteken.
Immigrasie het tot hierdie toename bygedra, het Muharukua gesê.
“Die netto immigrasie is ’n faktor in ons bevolkingsgroei,” het hy gesê.
Hy het ook kommer uitgespreek oor die breër implikasies van ongedokumenteerde migrasie en dit verbind aan misdaad soos veediefstal, diefstal van boorgatpompe en brandstigting wat boerderygemeenskappe raak.
“Die goewerneur se kantoor bly oop om idees te ondersteun wat ons sal help om te verseker dat ons rekenskap kan gee van elke persoon wat op ons grond in die Kunenestreek rondloop,” het hy gesê.
Intussen het die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit gedurende 2025 en 2026 in Kunene altesaam 2 102 paspoorte, visums, permitte en burgerskapaansoeke verwerk, wat N$332 500 aan inkomste gegenereer het.
Muharukua het gesê strenger dokumentasie en sterker grensbestuur sal ’n groot fokus vir die komende jaar wees namate die streek na Visie 2030 streef.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie