Kabinet verwerp ‘gebrekkige’ Nida-raadsaanstellings

Keuringsproses begin van voor af
Die sewe lede was glo besig om gereed te maak om die amp te aanvaar toe die minister ingegryp het.
Sonja Smith

Die minister van van myne, energie en nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, het die aanstelling van ’n voorgestelde nuwe raad van die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) in sy spore gestuit.

Dit volg nadat hy ontdek het dat aanstellingsbriewe glo sonder sy goedkeuring uitgereik is en verpligte stappe in die keuringsproses na bewering oorgeslaan is.

Die raad van sewe lede was glo besig om gereed te maak om die amp te aanvaar toe Amutse ingegryp het en hy het onmiddellik beveel dat die keuringsproses van voor af begin.

’n Lys wat Republikein gesien het, toon dat die ekonoom en beleidstrateeg, Paul Natangwe Kalenga, as voorsitter gekies is, terwyl die Landboubemarkings- en Handelsagentskap (Amta) se waarnemende finansiële hoof, Mennesia Vilho, as adjunkvoorsitter aangewys is.

Die ander voorgestelde lede was die voormalige Standard Bank-bestuurder Thaddius Maswahu, Swakopmund-munisipaliteit se hoofbestuurder Mpasi Haingura, die voormalige Namibië Lugahwensmaatskappy (NAC) se raadsvoorsitter Ndeuhala Lewis, Namdeb se uitvoerende hoof, Riaan Burger, en die voormalige Namibië Instituut vir Patologie (NIP) se uitvoerende hoof, Kapena Tjombonde.

Die aanstellings is nooit in die openbaar aangekondig nie en die name het nie goedkeuring van die kabinet gekry nie.

Genader vir kommentaar, het Amutse aan Republikein gesê: “Ja, die paneelkomitee wat die name aanbeveel het, het nie ’n ordentlike werk gedoen nie. 

“Ná die aanstelling van die raad is sekere gebreke [gevind] en stappe oorgeslaan wat nie nagekom is nie. Daarom het ek toe die paneelkomitee gevra om die hele proses oor te doen.”

Regeringsbronne beweer dat aanstellingsbriewe reeds uitgereik is voordat die proses gestop is.

Amutse het nie gespesifiseer watter stappe oorgeslaan is nie, wie die uitreiking van die aanstellingsbriewe gemagtig het nie, of of die sewe voorgestelde lede in aanmerking sou kom vir heroorweging wanneer die aanstellingsproses herhaal word.

Die sekretaris van die kabinet, Emilia Mkusa, het Maandag aan Republikein bevestig dat die voorgestelde name wel die kabinet bereik het, maar teruggestuur is omdat die voorlegging onvolledig was.

“Ja, die Nida-raadsname is hierheen gebring, maar dit is teruggestuur vir bykomende inligting en die saak is nog nie weer teruggebring nie,” het Mkusa gesê.


GEBREKKIGE PROSES

’n Bron wat met die proses vertroud is, het beweer dat die kandidate nie die voorgeskrewe proses vir beoordeling en aanstellings deur gegaan het nie.

Volgens die bron het Maswahu aanvanklik ’n aanstellingsbrief ontvang wat hom as voorsitter van die nuwe raad benoem – voordat Kalenga glo as voorsitter gekies is. Die besluit is egter omgekeer nadat Nida se waarnemende uitvoerende hoof, Phillip Namundjebo, ingegryp het via die uitvoerende direkteur in die ministerie, Moses Pakote.

Die bron het verder beweer dat die voorgestelde raadslede nóg ondervra is nóg aan ’n formele keuringsproses onderwerp is.

“Blykbaar is hierdie nuwe raad nooit ondervra nie en het hulle deur geen keuringsproses gegaan nie. Hulle is net met die hand uitgekies, maar deur wie, dit is die werklike vraag,” het die bron beweer.

Volgens die bron was voorbereidings reeds aan die gang om die raad aan te kondig voordat Amutse die beweerde onreëlmatighede ontdek het.

“Dus het die minister uitgevind van hierdie nuwe raad wat hy nie aangestel het nie. Daarom is hulle onmiddellik teruggeroep,” het die bron gesê.


UITTREDENDE RAAD BLY AAN

Amutse sê die termyn van die uittredende Nida-raad sal verleng word terwyl amptenare die probleme aanpak wat die aanstellingsproses ontspoor het.

“Die verlenging van drie maande vir die tussentydse raad sal gemaak word terwyl ek wag dat die administrateurs die aangeleenthede finaliseer,” het Amutse gesê.

Die raad, onder voorsitterskap van Sebby Kankondi, is vir ’n termyn van drie jaar aangestel van 1 September 2022 tot 31 Augustus 2025. Dit is onduidelik wanneer of waarom die raad se termyn vir nog ’n jaar verleng is.

Nida is in 2018 tot stand gebring ingevolge wetgewing wat in 2016 aanvaar is om Namibië se nywerheidsagenda aan te voer, beleggings te bevorder en sake- en landbousake-infrastruktuur te ontwikkel.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer