STRENGTHENING TIES: India’s Prime Minister, Narendra Modi (left) alongside President Netumbo Nandi-Ndaitwah. Photo Namibian Presdiency
STRENGTHENING TIES: India’s Prime Minister, Narendra Modi (left) alongside President Netumbo Nandi-Ndaitwah. Photo Namibian Presdiency

Indië wil help met gevorderde kankersorg

Half miljoen pasiënte reeds gehelp
Met verwysing na samewerking op die gebied van gesondheid het die president Indië se voorstel verwelkom om onder die Apteek van die Wêreld-inisiatief 'n farmaseutiese vervaardigingsaanleg in Namibië te vestig.
Nikanor Nangolo
Indië se eerste minister Narendra Modi, sê die land staan gereed om Namibië van ‘n moderne radioterapiemasjien vir gevorderde kankersorg te voorsien.

Die masjien wat in Indië ontwikkel is, het reeds in 15 lande ontplooi en byna ‘n half miljoen pasiënte met kritieke kankerbehandeling gehelp.

Modi het tydens sy toespraak in die Nasionale Vergadering gister Namibië ook genooi om by die Jan Aushadhi-program aan te sluit om toegang tot bekostigbare hoëkwaliteit-medisyne te verkry.

“Onder hierdie program is die koste van medisyne in Indië met 50 tot 80% verminder. Dit help daagliks meer as ‘n miljoen Indiërs en het pasiënte tot dusver sowat US$4,5 miljard in gesondheidskoste bespaar,” het hy gesê.

Namibië het die eerste land ter wêreld geword waar die Nasionale Betalingskorporasie van Indië (NPCI) en die Bank of Namibië 'n lisensieooreenkoms onderteken het om die Verenigde Betalingskoppelvlak (UPI) vir intydse betalings te implementeer.

“Binnekort sal mense geld vinniger kan stuur as wat ’n mens kan sê ‘dankie’. ’n Himba-ouma in Kunene, of ’n winkeleienaar in Katutura, sal met net kliek digitaal kan gaan, vinniger as ’n springbok,” het Modi gesê.

“Indië heg groot waarde aan sy historiese verhouding met Namibië. Ons waardeer nie net ons bande nie, maar ons is ook gefokus op die verwesenliking van die potensiaal van ons gedeelde toekoms. Ons sien groot waarde in samewerking aan Namibië se Visie 2030 en Harambee-voorspoedplan. Die kern van ons vennootskap is ons mense,” het hy bygevoeg.

Tydens Modi se staatsbesoek het president Netumbo Nandi-Ndaitwah die voortgesette uitbreiding van samewerking tussen Namibië en Indië uitgelig.

“Namibië en Indië het belangrike vordering gemaak om ons betrekkinge te ontwikkel en te diversifiseer, veral op die gebied van inligtings- en kommunikasietegnologie, menslike hulpbronontwikkeling, landbou, farmaseutiese produkte en verdediging,” het sy gesê.

“Ons uitstekende verhoudings en samewerking floreer en verdiep steeds deur die uitbreiding van samewerkingsraamwerke oor 'n wye reeks prioriteitssektore. In veral die Indiese Tegniese en Ekonomiese Samewerkingsprogram (ITEC) en die Indiese Raad vir Kulturele Betrekkinge (ICCR) is hier van belang," het die president gesê.

Volgens haar is gestruktureerde samewerking in verdediging en openbare administrasie ook besig is om uit te brei.

“Veral deur die memorandum van verstandhouding tussen die Namibiese Instituut vir Openbare Administrasie en Bestuur (NIPAM) en die Lal Bahadur Shastri Nasionale Akademie vir Administrasie,” het Nandi-Ndaitwah gesê.

Sy was ook vol lof vir die suksesvolle verskuiwing van jagluiperds van Namibië na Indië. “Dit is nie net 'n daad van ekologiese herstel nie, maar 'n globale simbool van vernuwende Suid-Suid-samewerking en volhoubare vennootskap,” het sy gesê.

Met verwysing na samewerking op die gebied van gesondheid het Nandi-Ndaitwah Indië se voorstel verwelkom om onder die Apteek van die Wêreld-inisiatief om 'n farmaseutiese vervaardigingsaanleg in Namibië te vestig.

"Hierdie inisiatief sal streeksgesondheidsveiligheid aansienlik verbeter en stem ooreen met Namibië se doelwit om binnelandse produksiekapasiteit in gesondheid te versterk. Ons is gretig om die uitstaande memorandum van verstandhouding in gesondheidsamewerking te finaliseer," het die president gesê.

“Ek glo albei ons lande het die kapasiteit om handel en belegging uit te brei.

Ons sien enorme potensiaal vir die opskerp van samewerking in die volgende strategiese gebiede soos groenwaterstof en skoon energie, mynbou en waardetoevoeging, olie en gas, infrastruktuurontwikkeling, landbou en voedselsekerheid, en toerismeontwikkeling.”

Nandi-Ndaitwah het daarop gewys dat huidige globale uitdagings die broosheid van verouderde multilaterale instellings blootgelê het.

“Die behoefte aan 'n doeltreffende multilaterale stelsel was nog nooit belangriker om die aard en omvang van vandag se globale uitdagings, konflik, onstabiliteit in die globale handelstelsel, klimaatsverandering, ongelykhede, armoede, internasionale terrorisme en tegnologiese ontwrigtings om maar net 'n paar te noem, aan te spreek nie,” het sy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer