Die waardasiehof het Hentiesbaai se konsep-waardasierol vir hersiening terugverwys. Foto Hentiesbaai-munisipaliteit
Die waardasiehof het Hentiesbaai se konsep-waardasierol vir hersiening terugverwys. Foto Hentiesbaai-munisipaliteit

Henties se waardasierol moet gewysig word

Tydperk van 21 dae vir openbare insette
Nadat die hersiene rol vir die vereiste tydperk ter insae beskikbaar gestel is en enige verdere besware of vertoë oorweeg is, sal die saak verder verhoor in die waardasiehof voortduur.
Adam Hartman

Die waardasiehof het beslis dat die konsep-waardasierol vir Hentiesbaai terugverwys word na die aangestelde waardeerder vir die insluiting en oorweging van alle kommentaar en besware wat tydens die hofverrigtinge geopper is.

Die uitspraak op 14 Augustus volg op besware wat geopper is oor besonderhede van eienaars met betrekking tot verskeie erwe. Die besware sluit ook ontwikkelings op erwe in wat as onontwikkel (leeg) aangeteken is, asook die verifikasie en regstelling van inligting van die onderskeie eiendomme. 

Die hof moes ook die toepaslike prosesse en statutêre vereistes en die relevante tydperke en datums oorweeg wat op die waardasieproses van toepassing is.

Volgens ’n opsomming van die uitspraak, het senior landdros Conchita Olivier beslis die hersiene waardasierol moet, in ooreenstemming met die toepaslike vereistes, weer vir ’n tydperk van 21 dae beskikbaar gestel word. Dit is sodra die nodige wysigings en regstellings deur die waardeerder ingesluit is. 

’n Omvattende skedule van die kommentaar en wysigings sal opgestel word in oorleg met die verteenwoordigers wat aan die verrigtinge van die waardasiehof deelgeneem het. Die skedule sal vervolgens aan die aangestelde waardeerder vir insluiting in die waardasierol voorgelê word. 

Voor die aanvang van die tydperk van 21 dae vir openbare besware en inspeksie, sal die waardasiedatum vir die waardasiehofproses bepaal en duidelik gestipuleer word.

Nadat die hersiene rol vir die vereiste tydperk ter insae beskikbaar gestel is en enige verdere besware of vertoë oorweeg is, sal die saak na ’n verdere verhoor in die waardasiehof oorgaan.

Volgens ’n verklaring deur die voorsitter van die Hentiesbaai Inwonersvereniging, Con Swart, wat Maandag uitgereik en wyd versprei is, het die hof die waardasie weens teenstrydighede verwerp. 

Dit is egter teenstrydig met die hof se uitspraak dat die saak vir heroorweging van die proses terugverwys is. Swart het by navraag gesê hy is self ’n ‘beswaarmaker’ en dat die inwonersvereniging nie as ’n liggaam beswaar kon maak nie.

“Ons doen ’n beroep op die Hentiesbaai-dorpsraad om ’n volledige, onafhanklike en deursigtige ondersoek na die hele waardasieproses te onderneem,” lui die inwonersvereniging se verklaring. 

Die vereniging eis ook dat die dorpsraad “die bevindinge van die ondersoek aan die publiek beskikbaar stel, onderworpe slegs aan wettige of privaatheidsbeperkings, en duidelik kommunikeer watter regstellende stappe geneem sal word. 

Volgens die verklaring gaan dit nie “bloot oor ’n verwerpte waardasie nie”.

“Dit gaan oor openbare vertroue in die administrasie van Hentiesbaai en die verantwoordelike bestuur van sake wat eiendomseienaars en die gemeenskap direk raak. Die gemeenskap verdien antwoorde, aanspreeklikheid en ’n waardasieproses wat wettig, professioneel, deursigtig en bo verdenking is,” lui die verklaring. 

’n Inwoner van die dorp, Derick Strauss, het aan Republikein gesê dat sy voorlegging aan die waardasiehof voor die aanvang van verrigtinge in die vorm van skriftelike vrae en vertoë was. 

“Die doel was om duidelikheid te verkry oor sake wat ek nodig geag het om vas te stel en of ek behoorlik as ’n betrokke inwoner aangehoor sou word. 

“Die doel was ook om vas te stel of die waardasieproses, die waardeerder se werk en die munisipaliteit se interne prosesse aan die toepaslike wetlike vereistes voldoen het, voordat die rol aan die hof voorgelê is,” het Strauss gesê. 

Volgens hom is dit gevolg deur ’n poging om sy voorlegging deur die waardeerder nietig te laat verklaar. Teen hierdie stadium was die kwessies wat in sy voorlegging geopper is, egter reeds voor die hof geplaas.

RMC Property Services is uit agt ander tenderaars die taak van waardeerder teen ’n koste van N$550 000 (belasting uitgesluit) opgelê. 

Die kontakbesonderhede vir die waardeerder is na ’n versoek van Republikein egter nie deur die munisipaliteit aan die publikasie beskikbaar gestel nie.

Die meerderheid van die 62 vrae wat Strauss as deel van sy besware ingedien het, is weens tydsbeperkings tydens die verrigtinge onbeantwoord gelaat. Dit sluit in of elke eiendom werklik individueel beoordeel is en of die metodologie en broninligting onderliggend aan die waardasies bewys kon word.

Volgens Strauss is hy ’n afgetrede professionele data-ontleder en sagteware-ontwikkelaar en tree steeds in so ’n hoedanigheid op om munisipaliteite in verskeie administratiewe hoedanighede te help om aan die ouditeur-generaal se aanbevelings te voldoen.

“Die onderliggende kwessie is nie bloot of ’n mens saamstem of nie saamstem met ’n spesifieke eiendom se waardasie nie. Dit is of die waardasielys ondersteun word deur ’n deursigtige, konsekwente en wetlik voldoenende proses,” het hy gesê.

Republikein het verskeie vrae by verskeie geleenthede aan die waarnemende uitvoerende hoof en burgemeester gestuur wat tans in die buiteland is. 

Die voorsitter van die raad se bestuurskomitee, Danie Wehl, wou geen kommentaar lewer nie. Pogings om brondokumente te bekom, is almal aan die waarnemende uitvoerende hoof oorgelaat, maar was teen druktyd onsuksesvol. 

Vir nou moet die hersiene rol vir 21 dae weer in die openbaar vertoon word voordat die saak na die waardasiehof terugkeer. 

Die datum van die verdere verhoor is nog nie bekend nie. Tot dan sal inwoners steeds op die ou waardasierol gefaktureer word. 

– [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-10-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer