Groep eis miljoene in S&T
Sestien werknemers in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming se afdeling vir grond eis elk sowat N$1 miljoen in onbetaalde reis- en verblyftoelaes (S&T).
Die groep beweer hulle het vir jare lank buite hul aangewese diensstasie gewerk sonder om die vergoeding te ontvang waarop hulle wettiglik geregtig is.
Hoewel hul dienskontrakte na Nkurenkuru as hul amptelike diensstasie verwys, is hulle egter volgens die werknemers sedert die aanvang van hul dienstermyn by die ministerie se kantore op Rundu gestasioneer.
Volgens een van die werknemers wissel die verskuldigde bedrag na gelang van ’n individu se datum van indiensneming, met die gekombineerde eis vir al 16 wat op sowat N$16 miljoen beraam word.
Die groep beweer die ministerie het nooit hul kontrakte formeel gewysig of ’n skriftelike kennisgewing uitgereik om hul diensstasie van Nkurenkuru na Rundu te wysig nie. Gevolglik voer hulle aan dat hulle kontraktueel in Nkurenkuru gebaseer bly en dus kwalifiseer vir daaglikse S&T-toelaes vir die hele tydperk wat hulle op Rundu gewerk het.
“Hulle moes dit op swart en wit stel as ons nie betaal sou word vir werk buite ons diensstasie nie, maar hulle het dit nie gedoen nie,” het een gesê.
Die kwessie is vir die eerste keer in 2024 by die ministerie geopper, maar volgens die groep het hulle geen formele reaksie ontvang nie. Gefrustreerd deur die vertraging is regsadvies ingewin en ’n prokureur opdrag gegee om namens hulle aan die ministerie se uitvoerende direkteur te skryf.
“Net op Rundu,” het ’n werknemer gereageer op die vraag of hulle ooit in Nkurenkuru gebaseer was.
Nog ’n werknemer sê die langdurige onsekerheid het finansiële en persoonlike gevolge, veral nou dat die groep ’n moontlike verskuiwing na Nkurenkuru in die gesig staar.
“As ek heeltyd in Nkurenkuru gewerk het, sou ek planne gemaak het om my daar te vestig, miskien selfs ’n huis gekoop het,” het hy gesê.
“Mense met kinders moet nou verhuis. Stel jou voor jy trek in die middel van die skooljaar en moet jou kinders oorplaas.”
Volgens die groep is die huidige S&T-tarief wat in April geïmplementeer is, N$1 318 per dag, teenoor die vorige tarief van N$709 per dag.
Die werknemers beskuldig die ministerie daarvan dat dit bepalings in bestaande wetgewing verontagsaam.
“Hierdie bepalings is in die wet. Vir die ministerie om nou die reëls te probeer buig, is onwettig,” het een gesê.
Die ministerie se waarnemende uitvoerende direkteur, Alfred Sikopo, het aan Network Media Hub (NMH) bevestig hy is bewus van die groep se kommer.
“Ek verstaan hulle het ’n brief aan die ministerie geskryf. Ons gaan na die brief kyk,” het Sikopo gesê.
Volgens hom is die brief voor sy aanstelling op 1 April as waarnemende uitvoerende direkteur ingedien.
Sikopo het bevestig dat hy die Rundu-kantoor ongeveer twee weke gelede besoek het, maar sê hy sou nie die afspraak as ’n formele vergadering oor die kwessie beskryf nie.
“Ek was twee weke gelede by die kantoor. Hulle het vir my gesê hulle het ’n brief aan die ministerie geskryf,” sê hy.
Op die vraag of die betrokke werknemers kontraktueel verplig was om in Nkurenkuru gebaseer te wees, wou hy nie kommentaar lewer nie. Volgens hom moet die ministerie eers intern beraadslaag.
“Ons moet beraadslaag. Daarom het ons nog nie gereageer nie, want ons kyk noukeurig na hul brief,” het Sikopo gesê.
Notules van ’n vergadering op 3 Junie tussen Sikopo en die groep en onderteken deur adjunkdirekteur Justine Milinga, wys egter hy het erken dat die werknemers moontlik kragtens die staatsdienswet en ander toepaslike wetgewing op S&T-toelaes geregtig is.
Volgens die notule het Sikopo werknemers aangemoedig om ingeligte besluite te neem oor of hulle eise vir die voordele moet indien.
Die notule toon verder dat voorbereidings aan die gang is om die groep in Nkurenkuru te hervestig, met al die personeel wat na verwagting teen 1 Augustus daar vir diens sal aanmeld.
Hy het glo werknemers aangeraai om hul verhuurders van die dreigende verskuiwing in kennis te stel om genoeg tyd vir reëlings toe te laat.
Volgens die notule het Sikopo die adjunkdirekteur opdrag gegee om die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur te betrek om werknemers by te staan wie se kinders se onderrig deur die verskuiwing ontwrig kan word.
Hy het personeel glo ook verseker dat regeringsvoertuie beskikbaar gestel sal word om die hervestigingsproses te vergemaklik. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie